Ons Roete

Die kaart hieronder gee die roete wat ons gevolg het.  Ons is met die N1 noordwaarts tot by Mokopane waar ons weggedraai het met die N11 tot by die Martins Drift/Groblersbrug grenspos waar ons oor is na Botswana.

Botswana/Caprivi Roete

DAG 1 (26 DESEMBER 2009)

Die eerste dag van ons vakansie het aangebreek. Ons (Pieter & Gerida) ontmoet vir Derick & Joey van Harrsimith om 06h00 by die Petroport op die N1 Noord net buite Pretoria. Na ‘n vinnige oor en weer groetery vat ons die pad Mokopane (Potgietersrus) toe. Op Mokopane maak ons vol brandstof en eet ontbyt by die Wimpy. ‘n Wimpy ontbyt het al amper tradisie op al ons vakansies geword.

Ons volgende stop was die Martinsdrift grenspos. Die SAP gaan ons voertuig dokumente na en sonder enige onnodige vertragings is formaliteite afgehandel en ons beweeg deur na die Botswana kant van die grens. Hier betaal ons ‘n “Road Safety Levy) van P 20.00 per voertuig en sleepwa, P 50.00 “MV Insurance” en P 180.00 vir ‘n “Road Permit”. Ons het dubbel toegang permitte gekoop omdat ons Botswana later sou verlaat Caprivi toe en weer via Botswana sou terugkeer. Formaliteite hier was redelik moeitevry afgehandel behalwe vir die lang toestaan om vir al die permitte te betaal.

Ons volgende stop was Palapye waar ons weer met brandstof volgemaak het. P 5.66 per liter vir loodvrye petrol.

Later die dag arriveer ons by die Cresta Marang Hotel in Francistown waar ons die aand in hulle kampterrein sou oorstaan. Die kampfooie hier is P 58.00 p.p.p.n. en elektrisiteit is ‘n addisionele P 25.00 per nag. Die kampterein is agter die hotel op die wal van die Tati Rivier gelee. Hier moet jy kies tussen die beste staanplek of krag. Goeie staanplek, te ver van die kragpunt af. Ons het die beter staanplek gekies.

Pieter en Gerida

Pieter en Gerida

Derick en Joey

Derick en Joey

Kampeerterrein by die Cresta Marang Hotel

Kampeerterrein by die Cresta Marang Hotel

Dit was stil en rustig in die kamp. ‘n Paar jongmense wat geraas en musiek gemaak het is baie vinnig deur Bestuur stilgemaak. Ons het selfs ons eie wag gehad wat ons heelnag met sy hond opgepas het teen geen addisionele koste nie. Hierdie was vir my ‘n eerste in Botswana. Op navraag het hulle verduidelik dat hulle soms probleme ervaar met werklose Zimbabwiers wat kampeerders beroof.

Afstand van Pretoria tot by die Cresta Marang Hotel – 669 km.

DAG 2 (27 DESEMBER 2009)

Die oggend het ons ‘n paar laaste items in Francistown aangekoop, brandstof volgemaak en toe vertrek na die Nata Bird Sanctury waar ons die aand sou deurbring. Ons het in die Mowana Kamp in die Sanctury gekamp. Kampeerkoste beloop P 42.50 p.p.p.n.

Nata Bird Sanctury is nie ver (174 km) van Francistown af nie en ons was vroegdag al daar. Ons het dit spesifiek so beplan want ons wou voor donker ‘n draai by die Sowa Pan gaan maak om te kyk of daar Flaminke is. Die dame by ontvangs het gesê “there might be a few, but I am not to sure”. Ons het nogtans besluit om die P 55.00 p.p te betaal om die panne te mag besoek en is toe soontoe.

Oppad na die Sowa Pan

Oppad na die Sowa Pan

By die eerste pannetjie met water tref ons toe inderdaad ‘n “few” Flaminke en ander watervoëls aan. Maar nie die bekende pienk flaminke wat ons graag sou wou sien nie. Ons sou later in een van ons boeke oor voëls lees dat die wit en pienk flaminke nie met mekaar meng nie.

‘n paar flaminke in ‘n klein pannetjie op pad na die hoofpan

‘n paar flaminke in ‘n klein pannetjie op pad na die hoofpan

Groot was die opgewondenheid toe ons by die groter Sowa Pan se “Bird Hide” aankom en dit is pienk Flaminke so ver as wat die oog kon sien.

Pienk flaminke op die Sowa Pan

Pienk flaminke op die Sowa Pan

Dit het die stop en oorslaap by die Nata Bird Sanctury oor en oor die moeite werd gemaak.

Slaap maar lig by die Bird Sanctury. Hulle het twee wagte voorsien wat heelnag by ons kampplek wag gehou het. Daar word skynbaar gereeld hier ingebreek, self voertuig vensters gebreek om dit wat binne-in is by te kom.

DAG 3 & 4(28 & 29 DESEMBER 2009)

Ons het vroeg die oggend (05h00) opgestaan en begin oppak. Vandag se roete sou ons vat tot in Kasane, en vandaar na Ihaha in die Chobe Nationale Park. Ons het dan ook verskeie berigte ontvang (gelees) oor die swak toestand van die pad tussen Nata en Kasane en het ons reggemaak vir ‘n lang rit. Die pad was toe nie so sleg as wat ons verwag het nie. Daar was op verskeie plekke padwerke aan die gang en meeste van die verwagte slaggate was herstel.

pad tussen Nata en Kasane

pad tussen Nata en Kasane

Die aanvanklike plan was om die voertuie en jerry kanne in Kasane vol petrol te maak. Ons volgende brandstof punt was Katimo Mulilo, en ons wou nog bietjie in die Chobe gaan rondry ook. Nie een van die vulstasies in en buite Kasane het petrol hehad nie. Die vragmotor wat voorraad moes bring was laat en hulle sou eers laat die middag of vroeg die volgende oggend na verwagting eers weer petrol hê. Dit het beteken ons moes Ihaha toe, kamp opslaan, en die volgende oggend terug Kasane toe vir petrol.

Dit is 327km van Nata Bird Sanctury tot in Kasane en vandaar ‘n verdere 38km tot by die Ihaha Kampterrein in die Chobe National Park.

Kampeerkoste by Ihaha beloop P 30.00 p.p.p.n plus die parkfooi van P 120.00 p.p.p.n.

Gedurende die nag het dit gereën en toe ons die oggend opstaan was die wêreld toegetrek van die mis. ‘n Paar rooibokkies het langs die kamp in die gras gewei.

Rooibokkies in die mis vroegoggend by Ihaha

Rooibokkies vroegoggend in die mis by Ihaha 

Ons het die dag toe so beplan dat ons ‘n sirkel roete deur die Chobe gery het wat ‘n petrol stop in Kasane ingesluit het. Die Chobe se wildlewe het nie terleur gestel nie en ons het heelwat wild te siene gekry.

Kameelperde

Kameelperde in die Chobe

Buffalo

Buffels langs die Chobe Rivier

 

Die voëllewe in die Chobe is ook uitstekend, en ek gaan nie eers probeer om al die fotos hier te deel nie.

voëllewe

Byevangers langs die Chobe rivier

En dan het ons ook met nog elke besoek die mooiste sons ondergange oor die Chobe Rivier beleef. Wat kan nou lekerder wees om na die ondergaande son te sit en kyk en na die diere geluide te luister tewyl jy wag vir die ketel om te kook.

Sonsondergang oor die Chobe

Sonsondergang langs die Chobe rivier by Ihaha

Ketel op die vuur

Ketel op die vuur langs die Chobe Rivier met sonsondergang

Die kampplekke by Ihaha is ongelyk en baie klipperig.  ‘n Nadeel vir die wat met tente op die grond staan.  Mooi maar verwaarlooste ablusie geriewe.  Beskikbaarheid van water is wisselvallig.

DAG 5 (30 DESEMBER 2009)

Vanoggend is daar groot opgewondenheid in die kamp.  Ons vertrek vandag uit Ihaha en gaan by Ngoma Bridge oor die grens die Caprivi binne.  Ons was al verskeie kere in Botswana maar hierdie sal ons eerste besoek aan die Caprivi wees.  Ons reis sal ons vat tot by Katimo Mulilo, vandaar tot by Kongola waar ons afdraai Mudumo toe.  Ons beplan om by een van die drie staanplekke van Nakatwa kamp op te slaan.

Sake by die Ngoma Grenspos (Botswana en Namibia kante) verloop glad en ons is sonder enige onnodige vertragings deur die grens en oppad Katimo toe.  Die nodige “Cross Border Charge” permitte is nie by die Namibia grenspos beskikbaar nie.  Ons sou die in Katimo moes gaan aankoop.  Die koste beloop N$ 180.00 per voertuig en N$ 115.00 per sleepwa.

In Katimo Mulilo het ons voorrade aangevul en brandstof ingegooi.  Ons sou vir 4 nagte in Mudumo kamp waar ons ten volle selfversorgend moes wees.   Petrol in Namibia was   N$ 7.28 per liter.

In Namibia kan jy met N$ of met R betaal.  Die geldeenhede se waarde is dieselfde.

Die afstand van Ihaha tot by die Mudumo Wildtuin in die Caprivi (via Katimo Mulilo) – 221km.

Koffie breek langs die pad

Koffie breek langs die pad – B8 – tussen Katimu Mulilo en Kongola

Gooi water in op Kongola

 Maak Mattewis se tanks vol water op Kongola

Free use toilets

 Free use Toilets op Kongola

Free use toilet inside

 Binne die “free use toilet

Joey staan en wag by Kongola

 Joey staan en wag wyl ons water tap

By Kongola het ons afgedraai van die teerpad en die grondpad gevat Mudumo toe.  Dit is ‘n goeie grondpad maar lyk of dit nogal lekker glad kan word as dit nat is.  Sonder teenspoed by Mudumo aangekom en by die Nakatwa Kantoor geraporteer.

Grondpad na Mudumo

 Grondpad van Kongola na Mudumo

Afraai na Mudumo National Park

 Afdraai na Mudumu Game Reserve

Nakatwa Office

 Nakatwa Office (Ontvangs)

Nakatwa Reception

Nakatwa Ontvangs

Ons het nie vooraf kampeerplek by Nakatwa bespreek nie.  Verskeie pogings om met die amptenary in beheer kontak te maak was vrugteloos.  Met ons aankoms het die bestuurder (Fabian) ons meegedeel dat hy ons net vir 1 nag en nie 4 nagte nie kan akkomodeer.  By verdere navraag en nadat ons saam met hom deur sy besprekingsboek gekyk het, blyk dit toe dat hy ons die eerste nag in Kampplek no 3 kan akkomodeer en dan vir die verdere nagte (2 tot 3) in kampplek no 2.  Ons het toe bespreek en betaal vir kampplek no 3 en moes toe die volgende dag na kampplek no 2 verskuif en weer by Fabian aandoen om ons verblyf permit te verleng.  Dit was bietjie bo sy vuurmaakplek om alles in een slag te doen.  Ons het by Fabian ‘n selfoon nommer gekry waar ons hom in die toekoms kan kontak sou ons weer daar wou gaan kamp.

Kampeer tariewe is N$ 30.00 p.p.p.n. en ‘n voertuigpermit teen N$ 20.00 is nodig vir die duur van die verblyf.  Die enigste geriewe by die Kampeerterrein is ‘n longdrop toilet se entjie se stap die bos in.  Ons het nie hiervan gebruik gemaak nie, eerder die grafie metode gebruik.

Bos Toilet

Bos Toilet by Mudumo

Daar is net 3 Kampeerplekkke in Mudumo en na my mening is Kampplek no 3 die een met die mooiste uitsig.  Hier is ‘n paar fotos.

Mudumu Sunset

 Sonsondergang by Mdumu

Mudumu Sonsondergang

Mudumu sonsondergang

Seekoeie in die Kwando Rivier

Seekoeie in die Kwando Rivier

DAG 6 (31 DESEMBER 2009)

Die tweede dag by Mudumu moes ons na kamplek no 2 verskuif.  Kampplek 2 is ook op die wal van die Kwando rivier.

Mudumu Kamp 2

 Pieter by Mudumu kamp 2

Mudumu Kamp 2 _Derick

Derick by Mudumu kamp 2

Nadat ons verskuif het, het ons by die Nakatwa Kantoor gaan raporteer en bevestig dat ons vir 3 aande daar gaan staan.  Toe het ons ‘n draai by Hippo Pool gaan maak en ‘n paar ander paadjies ook gery.  Die veld was baie ruig en die paadjies (twee spoor “tracks”) baie nat.  Het gevolglik nie juis wild gesien nie.

Die aand het ons 2009 vaarwel toegeroep op die walle van die Kwando Rivier.

Kwando Rivier
Oujaar by die Kwando
Kwando Rivier
Oujaar by die Kwando

Oujaardag aand (2009) op die walle van die Kwando Rivier in die Caprivi

DAG 7 (1 JANUARY 2010)

Ons het besluit ons gaan vandag die pad aandurf Mamili toe ten spyte daarvan dat ons uit verkeie oorde verneem het dat Mamili totaal onder water en ontoeganklik is. Ons wou dit s self gaan beleef.  Min het ons geweet wat ‘n avontuurlike dag vir ons voorlê.

Nie te ver van Mudumo af nie, draai jy van die harde grondpad af Mamili toe. Mamili staan ook bekend as die Nkasa Rupara National Park.

Nkasa National Park (Mamili)

‘n Ent van die afdraai af nie kom ons die eerste van 4 hout brûe tee wat ons moet oor. Die een het stewig gelyk en behalwe dat ek amper op ‘n kobra getrap het, ons is maklik oor.  Volgens die plaaslike inwoners is hulle baie bekend met die kobra, glo die gees van ‘n afgestorwe voorvader.  Baie vriendelik, sal nie pik nie. Ek was egter nie bereid om te toets of dit waar is nie.

Eerste brug na Mamili

Die tweede brug was egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Die plaaslike inwoners (wat ook tolgeld vorder vir gebruik van die brug) was besig om ‘n nuwe brug te bou en die ou brug is nie meer instand gehou nie.  Die gevolg was dat ons hulle eers moes help om ‘n paar pale en balke in plek te kry voordat ons kon probeer oor te gaan.  Hierdie was geen maklike taak nie.  Die brug was onder water en die houtpale seepglad.  Die voertuie het ook gesukkel met vastrap op die glade hout pale.  Tussen die riete en waterlelies het krokodile gelê en die bedrywighede fyn dopgehou.  Gerida is saam met een van die plaaslike “tollenaars” met ‘n kano oor om fotos van die ander kant te neem soos was ons die brug oorsteek.

Rupara Bridge

 Waarskuwing dat jy die brug op eie risiko gebruik !!

Rupara Bridge under water

Rupara brug geheel onder water

Rupara Bridge crossing

 Pieter met Mattewis op die Rupara Brug

Derick crossing the Rupara Bridge

Derrick op die Rupara brug

Aan die ander kant van die brug het ons vir Piet Hein en sy vriendin (Met ‘n gehuurde Toyota Hi-Lux) van Nederland raakgeloop. Hulle is vroeër die oggend oor die brug en het tot by die 3de brug gevorder.  Hulle het egter nie kans gesien om die 3de brug op hul eie oor te steek nie alhoewel die brug in ‘n beter toestand blyk te gewees het.  Hulle het gevra of hulle maar by ons kan aansluit en ons is toe met hulle saam na die 3de brug toe.  Nadat ons drie of vier balke wat effens uit plek was reggeskuif het, het ons die brug maklik oorgesteek.

Derrick op 3de brug

 Derrick op 3de Brug

Piet Hein crossing the 3rd Bridge

Piet Hein op 3de brug

Teen die tyd was ons al heel vaardig en die laaste (4de) brug op ons roete was soos hulle sê, “’n walk in the park”.

Vierde brug na Mamili

Pieter met Mattewis op die 4de brug

Uiteindelik het ons Mamili se hek bereik. En dit hoe ver ons sou vorder vir die dag.  Mamili was totaal onder water en dit sou nie moontlik wees om enigsins verder te vorder nie.  Die paadjie na die “Permit Office” kon nie eers gery word nie, dit was net water en swart turf modder.

Nkasa Rupara National Park (Mamili)

Die inligtings bord by Mamili se amptelik ingangs hek

Die pad na die besprekings kantoor van die Nkasa Rupara National Park (Mamili)

Die bordjie dui die pad (waterweg) aan na die besprekings kantoor

Hiervandaan is dit toe weer al die pad terug, brug 4, brug 3, brug 2, brug ????. Hier het ons weer ‘n probleem.  Een van die balke van brug 2 breek onder die gewig van my Land Rover, en in die proses gly dit amper van die brug af.  Eers moes ons die Land Rover herwin sonder dat dit van die brug afval, en toe die brug herstel.  Met ‘n laaaang tou het Derick my gehak en baie stadig terug gesleep.  Die plaaslike Tollenaars kom help weer en ry met ‘n kano balke en sandsakke aan.  Nadat die brug herstel is, is al die voertuie suksesvol oor na veilige grond op die oorkantse oewer.  Gerida het weer die petalje van die oorkantse oewer gade geslaan en fotos geneem.

Mattewis op die Rupara brug

 Besig met herstelwerk aan die brug nadat ‘n balk onder Mattewis se gewig geskuif het

Derrick oppad terug oor die Rupara brug

Derrick besig om die Rupara brug oor te steek oppad terug van Mamili

The Rupara Bridge Team

Derick, die 3 Tollenaars, Pieter en Piet nadat ons die brug suksesvol die tweede keer oorgesteek het oppad terug Mudumo toe.

 Ons vriende van Nederland het hiervandaan hul eie koers gegaan en ons is terug Mudumo toe.

DAG 8 (2 JANUARIE 2010)

Dit was ons laaste dag in Mudumo en ons het bietjie Olifant “Tracking” gaan doen.

 

Derrick klim boom

 Tarzan (Derrick) kyk of hy kan sien waar is die olifante

Mudumo se Olifante

Mudumo olifante met ‘n kleintjie

Ons het ‘n redelike groot trop olifante met heelwat kleintjies opgespoor en hulle vir lank gevolg. Daarna was dit terug kamp toe.  Dit was ons laaste aand en ons wou vroeg gaan inkruip.

As jy hou van boskamp (absoluut geen geriewe nie, net ‘n plekkie in die skadu waar jy jou tent mag opslaan) is Mudumo die plek. Behalwe vir die natuur se geluide is dit doodstil.

DAG 9 (3 JANUARIE 2010)

Vandag was dit weer kamp opslaan en pad vat. Ons volgende stop is die Popa Rapids, 255km van Mudumo af.  Hier gaan ons by die Goabaca Gemeenskapskamp kampeer.  Kampplek no 1 as dit moontlik is op  Pieter Theron se aanbeveling.  Kampplek no 1 was toe beskikbaar.  Die koste beloop N$ 80.00 p.p.p.n.

Reenboog oor die Popa Valle

Reenboog oor die Popa Valle vanaf die uitkyk platvorm by kampplek no 1

Kampplek no 1 blyk toe ‘n uitstekende keuse te wees. Daar is ‘n platvorm met ‘n pragtige uitsig oor die Popa Rapids.  Die platvorm is redelik groot en ek en Gerida slaan toe ons tent bo-op die platvorm op.

 

Goabaca kampplek no 1

Goabaca kampplek no 1

Hierdie is ‘n kampplek wat ek beslis kan aanbeveel. Gelyke grond as jy wil tent opslaan.  Plek waar jy op die grond kan vuurmaak.  ‘n Dek wat oor die stroomversnellings uitkyk (hiersonder kyk jy net teen die papyrus vas).  ‘n Opwasplek met wasbakke en ‘n tafel onder ‘n rietjiesdak.  ‘n Stort en toilet in ‘n afsonderlike rietjies geboudtjie waar jy in ‘n donkie vuurmaak vir warm water.

DAG 10 (4 JANUARIE 2010)

Dag 10, en dit was weer tyd om aan te beweeg. Dit was nou terug Botswana toe via the Muhembo Grenspos.  By Shakawe voorraad aanvul en dan na Tsodilo Hills waar ons vir 2 aande sou oorstaan.  ‘n Totale afstand van 235km.

Die pad van Divundi na die grenspos neem jou deur die Mahango Game Reserve. As jy direk grenspos toe ry en nie van die hoofpad afwyk nie, is daar geen koste aan verbonde nie.  As jy egter wil afwyk en die pad al langs die rivier langs ry of van die ander paadjies moet jy ‘n toegangsfooi betaal.

Kampplek by Tsodilo Hills is gratis. As jy die Boesman tekeninge wil gaan kyk moet jy net vir die gids betaal. Dit kos P 50.00.  Dit is beslis die moeite (en geld) werd.  Maar maak jou reg vir baie warm kry.  Dit word erg warm tussen die koppies en jy is heeltyd besig om op en af te klim en klouter.

Tsodilo Hills Admin Building and Museum

 Tsodilo Hills Admin & Museum building

Tsodilo Hills Kampplek

Tsodilo Hills kampgronde

Daar is ook ‘n klein museum by Tsodilo wat die geskiedenis van die area uitbeeld. Nogal baie interesant.

DAG 11 (5 JANUARIE 2010)

Pieter en Derick is vroeg oggend met ‘n gids weg die Koppies in om boesman tekeninge te gaan kyk. Gerida en Joey vat die dag af en bly by die kamp.

Seker van die bekendste tekeninge by Tsodilo is die “Van der Post Paneel”, die “dancing penises” en die walvisse.

Tsodilo Hills - Female Hill

 Tsodilo Female Hill

Tsodilo Hills - Van der Post Paneel

 Van der Post Paneel

Boesman tekening van walvisse

Walvisse

Boesman tekening van Dancing Penises

“Dancing Penises”

Diep agter in een van die vele holkranse wat deur die gids aan ons uitgewys word is ‘n skeur wat na ‘n grot lei wat glo deur Voorvader Geeste bewoon word, aldus ons gids. Derick gaan die grot binne en neem ‘n foto.  Toe die kamera se flits afgaan storm die gids met ‘n verwilderde uitdrukking op sy gesig by die holkrans uit.  Derick het volgens hom nou die geeste wakker gemaak en dit voorspel niks goeds nie.

Later die dag toe ons van ‘n kort rit om die koppe terugkom staan daar ‘n boerbok voor Derick en Joey se tent en wag. En die hele tyd wat ons daar gekamp het, het die bok al agter Derick aangeloop.  Tot by die ablusie se deur vir hom staan en wag as hy daar ingaan.  Ons vermoed dit moet die gees wees wat hy wakker gemaak het wat hom nou so agtervolg in die vorm van ‘n bok.  Daardie nag het die bok die heel nag voor Derick se tent geslaap.

Die ablusie geriewe by Tsodilo is in ‘n redelike toestand. Die enigste negatiewe hier is die plaaslike bevolking wat deur die dag van die geriewe gebruik maak en dit dan vuil agterlaat.  Hulle was ook wasgoed hier en hang dit oral deur die kamp op om droog te word.  Ietwat van ‘n seer oog.

DAG 12 (6 JANUARIE 2010)

Vandag sou weer ‘n lang dag op die pad wees. Ons roete neem ons van Tsodilo Hills via Lake Ngami na Maun. By Maun gaan ons voorraad aanvul en dan daarvandaan na Bains se Boababs in die Nxai Nxai Pan Reservaat.

Ek praat onder korreksie, maar as ek dit reg het is dit die eerste keer in 30 jaar dat Lake Ngami weer water het. Die pad deur die meer, normaalweg droog, is vir lang ente onder water.  Dit is ook hier dat my hart amper gaan staan toe Gerida langs my aan die gille gaan.  Sy het twee pelikane (van ‘n bedreigde sort) in ‘n boom sien sit.

Pelikane by Lake Ngami

Pelikane by Lake Ngami

Pad deur Lake Ngami

Pad deur Lake Ngami

Tussen Maun en die Nxai Nxai Panne word Derick op die A3 by ‘n Bek en Seerklou hek gestop omdat hy rou wors in sy vrieskas het. Dis net daar wat hy sy gasbraaier afhaal, en die wors braai in plaas daarvan dat hy toelaat dat hulle dit konfiskeer.  Toe die wors gaar genoeg na die amptenare se sin is laat hulle hom toe om verder te ry.

By die hek van die Nxai Nxai Panne aangekom word ons ingelig dat dit onmoontlik is om tot by Bains se Boababs te ry omdat dit baie nat is, en die panne vol water is. Na onderhandeling kry ons toe kampplek by “South Camp” in die konsessie gebied.  Hierdie is ‘n baie skaduryke kampplek met netjiese (nut geboude) ablusie geriewe.

Derrick by South Camp in die Nxai Nxai panne

 Derrick by South Camp in die Nxai Nxai gebied

South Camp Ablusie Geriewe - Nxai Nxai Panne

South Camp Ablusie Geriewe – Nxai Nxai Panne

Van Tsodilo Hills is dit 233km tot by Lake Ngami, Maun is 104km vandaar en dit is ‘n verdere 168km tot by South kamp.

Kampeerkoste hier beloop P 30.00 p.p.p.n. plus die daaglikse toegangsfooi tot die park van P 120.00 p.p.p.n.

DAG 13 (7 JANUARIE 2010)

Vandag gaan ons Bains se Boababs kyk, nat panne of te nie.  Dis immers hoekom ons hierheen gekom het, om die Boababs te sien.  Dis nou eers 18km terug in die rigting van die hek met ‘n diep sand pad tot by die afdraai en daarvandaan 12km tot by Baines.

Rigting wyser na Baines se Baobabs

 Rigting Wyser na Baines se Baobabs

Nxai Nxai Panne

Nxai Nxai Panne soos gesien vanaf Baines se Baobabs

Ja, en soos hulle gesê het by die hek gister, die panne het water en is nat, maar nie te nat nie, en met ‘n ompad hier en daar al om die nat panne kom ons tog tot by Bains se Baobabs.  En wat ‘n pragtige gesig is dit nie.  Deur en deur die moeite werk om dit te kom kyk.

 

In die koelte van Baines se Baobabs

 In die koelte van Baines se Baobabs

Baines se Baobabs

Baines se Baobabs

Hiervandaan is ons terug kamp toe.  Ek wat ‘n gesig wag daar op ons.  Die kaal vlaktes noord van die kampplek, waar daar absoluut niks was met ons aankoms gister of toe ons vanoggend vertrek het nie, is oortrek van Zebra’s so ver as die oog kan sien.  Daar is honderde van hulle.  Later die middag het ons ‘n draai deur die area gaan ry en so ver as wat jy kon sien was net Zebras.

Later die aand, terug by ons kampplek kon ons leeus hoor brul in die verte en daar was ‘n redelike geskarrel tussen die Zebras.  En glo dit of nie, die volgende oggend was daar nie ‘n Zebra te sien nie.  Kompleet asof hulle nooit daar was nie.

 

Zebra in die Nxai Nxai Panne

Zebra noord van South Camp in die Nxai Nxai Panne

Later die aand, toe ons almal reeds ingekruip het word ek en Gerida wakker van beweging reg langs ons tent.  Was toe ‘n alleenloper olifant, wat ons vroeër die middag in die kamp raakgeloop het na ons zebra rit, wat al om ons tent loop en dit van bo na onder met sy slurp ondersoek.  Nogal redelik intimiderend.

As dit nie was dat ons vakansie einde se kant toe gestaan het nie sou ons graag meer tyd hier wou spandeer het.

DAG 14 (8 JANUARIE 2010)

Hierdie is die laaste dag van ons vakansie.  Vandag vertrek ons vanuit die Nxai Nxai panne en slaap vannaand by die Khama Rhino Sanctury (499km verder) oor onderweg huistoe.  By Khama aangekom besluit ons eenparig ons gaan nie tent opslaan nie, maar eerder ‘n chalet huur (P 640.00 vir ‘n 4 bed) vir ons laaste aand.  Nadat ons ingeboek en die chalet gekry het, het ons ‘n draai deur die sanctuary gery en by ‘n watergat renosters (ook ‘n ma met ‘n kleintjie) gesien.

Khama Rhino Sancturary - Chalet

 Khama Rhino Sancturary – chalet

Renosters in Khama Rhino Sancturary

Renosters in die Khama Rhino Sancturary

Wat ‘n wonderlike manier om ons vakansie mee af te sluit.

DAG 15 (9 JANUARIE 2010)

Die laaste dag.  Vandag word die lang pad (568km) huistoe aangepak.

Groblers Brug Grenspos

Groblers Brug – Welkom in Suid-Afrika

Sal ons dit weer doen.  Beslis.  Ons is al reeds besig om te beplan aan ons volgende besoek aan die Caprivi, en Mudumo is heel bo aan ons lysie van plekke wat besoek moet word.  Ons gaan die roete net effens aanpas sodat ons ‘n besoek aan die Khaudom en die Sentraal Kalahari kan insluit.

Groete

Pieter en Gerida Booyens van Pretoria

Derick en Joey Pieterse van Harrismith

Share This

Share This

Share this post with your friends!