Voorbereiding
Voorbereiding vir die Botswana vakansie het begin iewers in Februarie 2006 toe Kokkie en Dina een Saterdag by ons gekuier het, ons oor vakansie en kamp begin gesels het en later met ‘n kaart van Botswana op die tafel geeindig het.
Kort hierna het Kokkie vir hom ‘n Land Rover Defender aangeskaf en ‘n Botswana vakansie was op die tafel. Ons het verlofreelings getref en Kokkie het gereel om sy besigheid vroeer vir die Kerstyd te sluit sodat ons op 9 Desember kan vertrek. Ons moes dit so reel omdat Gerida nie Januarie verlof kon kry nie en weer op 2 Januarie moes begin werk.
Om seker te maak ons het alles wat nodig is, te sien wat werk en werk nie, en ook hoe ons twee gesinne met mekaar oor die weg kom op ‘n kamp, het ons ‘n paar naweek kampe gereel. Die eerste naweek kamp was by Nylsvley, toe Mabalingwe en het ons dit afgesluit met ‘n langnaweek kamp by Bakabung in Pilansberg.
Toerusting was uitgesorteer, en ons het lyste gehad van wie wat saamneem om onnodige duplisering uit te skakel wat ook die gewig wat ons saamry minder maak.
Ek en Gerida ry met ‘n 2002 Discovery V8 outomaties (Mattewis) en sleep ‘n Challenger Bundu Basher Off-road trailer (Donkey). Ons slaapplek is ‘n 3x3m Safari Dome tent. Mattewis is met ‘n Dual Battery sisteem toegerus vir die rit en die Zero 3-way vrieskas wat al lank in die tand begin raak het is vervang met ‘n 80 liter Waeco.
Kokkie en Dina en hul twee kinders ry met ‘n 1991 Rover Defender V8 (Dapper Stapper) en sleep ook ‘n Challenger Bundu Basher Off-road trailer (Haastige Hasie). Slaapplek is ‘n twee vertrek tent. Kokkie het ook ‘n dual battery sisteem ingebou en ook ‘n Waeco 80 liter vrieskas aangeskaf.
Die naweek van 2 Desember is die sleepwaens gepak en alles gereed gemaak vir die rit. Sondag het ons die roete van Vader Cloete gery en almal gegroet wat gegroet moes word, finale reelings getref en kontak nommers oor en weer uitgeruil. Opgewondenheid loop hoog. Vrydag 8 Desember is ek vroeg van die werk af en is die laaste paar goedjies van in Mattewis gelaai moes word gelaai, Donkey gehak en was ons gereed vir die vakansie.
Die kaart hieronder gee die roete wat ons gevolg het. Ons is met die N1 noordwaarts tot by Mokopane waar ons weggedraai het met die N11 tot by die Martins Drift/Groblersbrug grenspos waar ons oor is na Botswana.
DAG 1 (9 DESEMBER 2006)
Ons was vroeg wakker, en gereed om te ry. Ons vertrek stiptelik 7 uur soos beplan en kry vir Kokkie, Dina en kroos net buite Pretoria by die restaurant oor die N1. Ons stop by die Kranskop Engen vir ontbyt en daarna was dit voort met die langpad na Botswana via Ellisras en die Stockpoort grenspos. Ons het op Stockpoort besluit omdat die personeel daar vriendeliker is en mens gouer deurhelp as wat die geval by Martinsdrift is. Daar is ook minder verkeer.
Ons is sonder moeite deur die grenspos en het vroegmiddag by ons eerste kampplek in Botswana aangekom. Kamp Itumela in Palapye. Ons het hier vir een nag oorgestaan en vroeg die volgende oggend pad gevat Kubu Eiland toe.
DAG 2 (10 DESEMBER 2006)
Ons is vroeg-oggend uit Palapye weg oppad Kubu Eiland toe. Behalwe vir Kokkie wat ongeveer 15km vanaf Letlekane sonder petrol gaan staan het, het die rit tot by Kubu sonder voorval verloop.
Inligting Bord onderweg na Kubu Eiland
Inligting bord by Kubu Eiland
Kubu Eiland
Kubu Eiland
By Kubu aangekom het ons eers om die eiland gery en die omgewing verken voordat ons kamp opgeslaan het. Net nadat ons klaar kamp opgeslaan het, het die wind opgekom en voor ons ons kon kry het dit begin reen en daarmee was die kans op ‘n kampvuur en vleisbraai daarmee heen.
Kamp op Kubu Eiland
Teen 7 uur die aand besluit ek en Kokkie ons is lus vir vleis en kry ‘n vuur aan die gang, reen ten spyte. Laat die aand eet ons braaivleis en potbrood wat so in die reen gebraai en gaargemaak is.
DAG 3 (11 DESEMBER 2006)
Baie vroeg oggend is ons gereed vir die tog deur die panne na Bain’s se Boababs. Ons het besluit om the Ntetwe Panne te kruis oppad na Gweta. Eers verdwaal ons nada teen van die plaaslike inwoners by ‘n klein gehuggie ons die verkeerde pad gewys het, maar kom gelukkig gou genoeg die fout agter en verloor nie te veel tyd nie.
Ons was skaars deur die bek en klouseer hek toe ons besef dit het die vorige nag in die omgewing meer gereen as wat ons gedink het, en die panne is nat en glad.
Dit was my beurt om eerste vas te val. Gelukkig kon ek Matewis uit die modder uit ry nadat ek Donkey afgehak het. Nou die probleem, hoe kry ons Donkey uit die modder. Na ‘n groot gespook, gelag en geswets was Donkey egter ook op droee grond en kon ons verder. En dit was die eerste pan. Die tweede pan was net so nat en seepglad maar het ons dit reggekry om sonder vasval deur te kom.
Donkey na die Panne
Mattewis na die Panne
Ons kom toe so laat op Gweta aan dat dit nie wys was om deur te ry tot by Bain’s se Boababs soos aanvanklik beplan nie. Ons slaap toe die aand by Gweta Lodge nadat ons die ergste modder van die Landy’s en sleepwaens afgewas het.
Sonsondergang by Gweta Lodge
DAG 4 (12 DESEMBER 2006)
Na ‘n lekker ontbyt (nie te vroeg opgestaan nie) vat ons toe die pad na Maun. Daar aangekom is ons eers na Audi Kamp waar ons vir 4 nagte so bly voordat ons die dorp binnegevaar het om voorraad aan te vul.
DAG 5 (13 DESEMBER 2006)
Woensdag het ons begin soek na Dave van Backpackers. Die eienaar van Gweta Lodge het ons na hom verwys vir ‘n bekostigbare bootrit op die Delta. So spoor ons toe vir Dave en sy vrou Helena op en reel die rit vir Donderdag.
DAG 6 (14 DESEMBER 2006)
Donderdag oggend vertrek ons omstreeks 8 uur met Dave en sy boot uit op die Delta in die rigting van Chiefs Eiland. Ons het tot by Dunn’s Kamp gery en daar omgedraai terug basis toe, na ‘n heerlike middagete wat deur Dave voorsien is. Die koste vir die bootrit, ete ingesluit was P 319.00 p.p.
Mokoro’s op die Delta
Op die Okavango Delta
Met ‘n platboom boot op die Delta
Watervoels op die Delta
DAG 7 (15 DESEMBER 2006)
Vrydag het ons rustig by Audi Kamp deurgebring nadat ons genoeg voorraad vir die res van ons toer aangekoop het en die Landy’s en jerrykanne vol petrol gemaak het. Ons het vroeg gaan inkruip nadat ons by Audi se restaurant gaan eet het.
DAG 8 (16 DESEMBER 2006)
Saterdag oggend was ons vroeg uit die vere, slaan kamp op en vat die pad Moremi toe teen ongeveer 5uur die oggend.
Pad vanaf Maun na die Moremi
Dit rit tot by 3de brug verloop sonder voorval behalwe dat dit baie langer gevat het as wat ons verwag het. Maar niemand het gekla nie, ons het baie wild oppad gesien en die omgewing geniet. By 3de brug vind ons die Parkeraad se kantore verlate en gaan soek vir ons ‘n lekker kampplek uit aangesien daar niemand anders in die kamp is nie. Fout, moet nie by kampplek 4, 5, 6 of 7 kamp nie. Dit het wel die mooiste bome en meeste koelte, miskien daarom dat die bobejane in die bome slaap. En julle wee twat gebeur as ‘n bobejaan reg bo jou tent slaap en iets maak hom in die middel van die nag skrik. En hulle het geskrik toe ‘n hiena in die kamp roep en ‘n leeu daar naby sy misnoee te kenne gee.
Sonsondergang by Derde Brug – Moremi
Bobejaan in die boom – Sonsondergang by Derde Brug
DAG 9 (17 DESEMBER 2006)
Nadat ons die omgewing by 3de brug gaan verken en die eerste leeus (twee yslike groot mannetjies wat onder ‘n boom le en slaap het) in Botswana gesien het, keer ons laat middag terug kamp toe, en Kokkie se gesin kry hul eerste les waarom mens geen kos en lekkergoed in jou tent moet los nie.
Die bobejane het hulle tent oopgeskeur agter die kinders se lekkers aan en alles binne die tent was oopgemaak en omgekeer. Wat eetbaar was is opge-eet. Dit het nogal lank gevat om alles weer skoon en in orde te kry.
Die aand slaap Dina by niks. Bekommerd oor die bobejane, hienas en leeus. Die aand roep die leeus weer naby die kamp.
DAG 10 (18 DESEMBER 2006)
Maandag oggend gaan ons vir ‘n laaste wildrit in die omgewing van 3de brug en sien die leeuspore net buite ons kamp. Ons gaan soek na hulle maar sonder enige sukses.
Die middag is ons rustig by die kamp en begin solank pak terwyl ons aandete voorberei. Almal kruip vroeg in, want more oggend moet ons vroeg roer.
DAG 11 (19 DESEMBER 2006)
Dinsdag oggend en teen 4uur is die kamp opgeslaan en die waens gelaai. Na ‘n vinnige stort vertrek ons teen ongeveer 4:30 oppad Savuti Kamp toe.
Hiena in die pad naby Derde Brug
Hiena in die pad naby Derde Brug
By Noodhek stop ons vir ‘n vinnige koffie en ontbyt, en die ape help hulle self aan lekkergoed uit Dapper Stapper want die twee kinders het die deure oopgelos.
Blou Aap met kleintjie by Moremi Noordhek
Behalwe vir Kokkie wat ‘n paar kilometer na die Mbabe Hek in modder vasgeval het, verloop die res van die rit sonder voorval. Ongeveer 4km voor Savuti Kamp se Gerida sy is seker sy het ‘n dooie olifant sien le. Ons besluit ons sal die volgende dag kom kyk of sy reg was. Nou moet ons eers ons kampplek gaan uitsorteer. Ons kamp by staanplek no 10, en die omgewing daar is vol olifantspore wat die vrouens en kinders nogal onrustig maak.
Seekoeie in die Kwai Rivier
Eende in die Kwai Rivier
DAG 12 (20 DESEMBER 2006)
Ek en Gerida ry alleen om na die dooie olifant te gaan soek. Kokkie het vrieskas probleme en hulle bly in die kamp om dit te probeer uitsorteer.
Maraboe Ooivaar in die Savuti
Dooie Olifant in die Savuti
Ons spoor die karkas op en word deur ‘n olifant bul verjaag terwyl ons nog besig was om fotos te neem. Daar is nie veel van die olifant oor nie, net die vel en bene, en ‘n oorweldigende stink reuk.
Verder in die rigting van Rhino Vlei kom ons op ‘n hiena af wat ‘n luiperd se vangs uit ‘n boom probeer steel. Nadat ons hom vir ‘n rukkie dopgehou het, gee hy moed op en hardloop weg. Die luiperd is nerens te sien nie.
Terug by die kamp bevestig een van die Natuurbewaarders dat dit inderdaad die karkas van die berugte Savuti olifant is wat deur hulle vankant gemaak is omdat sy die mense so in die kamp gepla het.
Kokkie spook nog met die vrieskas en ek help hom. Daar kom nie krag van die battery deur na die vrieskas nie. Dit werk wel op 220V vanaf die inverter. Ons kry die fout opgespoor en maak dit reg, so op ‘n boere manier. Sal dit behoorlik laat regmaak terug by die huis.
Die middag ry ons na die panne naby die Savuti kamp en sien hoe ‘n trop van ongeveer 50 olifante met heelwat kleintjies by hulle in die panne kom baljaar en water drink.
DAG 13 (21 DESEMBER 2006)
Ons ry weer in die rigting van Rhino Vlei. Die luiperd se vangs is nie meer in die boom nie. Of hy, of die hiena het dit weggedra.
Nadat ons die middag ‘n rukkie by die panne vertoef het keer ons terug kampwaarts, en nie ver van die panne af nie kom ons toe op die luiperd af waar hy onder ‘n boom sit. Toe daar nog meer voertuie stilhou loop hy weg en gaan klim daar naby in ‘n groter boom waar hy uitgestrek op ‘n tak gaan le en ons hom ongesteurd kan dophou.
DAG 14 (22 DESEMBER 2006)
Vanoggend was dit weer vroeg opstaan en pak, ons is oppad Ihaha toe. Weereens is ons gelukkig en die rit verloop sonder voorval. Ten spyte van al die reen en nat paaie met baie modder bereik ons Ihaha sonder eenkeer se vasval. By een van die modderige gedeeltes van die pad met baie gate tel Kokkie ‘n jerrykan vol petrol op. Het skynbaar afgeval van iemand se voertuig wat met hoe spoed deur die modder, water en gate is.
Die pad tussen die Savuti en Chobe
Soos in die geval van 3de brug is Ihaha se kampkantore verlate en gesluit en gaan soek ons ‘n geskikte kampplek. Hierdie keer maak ons seker ons kamp nie weer onder ‘n bobejaan se slaapplek nie.
DAG 15 (23 DESEMBER 2006)
Saterdag verken ons die Chobe en keer laat middag terug kamp toe. Ons sit rustig om die kampvuur en geniet ‘n sonsondergang soos wat jy dit net in die Chobe kan kry. Dit is ook ons laaste aand in Ihaha.
Sonsondergang oor die Chobe Rivier by Ihaha
Kameelperde in die Chobe
DAG 16 (24 DESEMBER 2006)
Ons vertrek vroeg oggend vanaf Ihaha oppad na Toro Lodge net buite Kasane op die pad na die Kazangulu Fairie. Daar aangekom het ons gaan inboek, ons staanplek gekry, donkey en hasie afgehak, en toe Kasane binnegevaar om voorrade aan te vul vir ou kersaand en kersdag. Met die inboekslag reel ons toe sommer ook vir ‘n “Sunset Cruise” op die Chobe vir Kersdag en ‘n Kers-ete by die Lodge na die bootrit.
DAG 17 (25 DESEMBER 2006)
Die oggend is ons rusting in die kamp en rus net. Teen 15:00 vertrek ons na Kasane Marine Lodge vanwaar ons boot sal vertrek.
Die bootrit op die Chobe was ‘n ongelooflike ervaring met soveel te sien dat ek nie alles hier kan vertel nie. Ons het Olifante in die water gesien, krokodile, seekoeie, kudu’s, lechwe, ‘n verskeidenheid van watervoels, ens. Die sonsondergang oor die Chobe met ons terrugrit was ongelooflik mooi. Hierdie was ‘n ervaring waaroor ons nog lank gaan praat.
Olifante in die Chobe Rivier
Olifante in die Chobe Rivier
Krokodil op die wal van die Chobe Rivier
Seekoei wei langs die Chobe Rivier
Olifante in die Chobe Rivier
Sunset Bootrit op die Chobe Rivier
Ons kom teen 19:00 uur by Toro Lodge aan vir ons bespreekte Kers-ete. Wat ‘n ramp. Nadat ons die vorige dag verseker is dat hulle vir die gaste van die bootrit wag, en ons dit weereens voor ons vertrek bevestig het, is daar eerstens nie vir ons ‘n tafel nie. Na ‘n groot geskarrel is ‘n tafel vir ons gereed gemaak met eetgerei wat hulle by ‘n naburige huis moes gaan leen. Hulle het onder andere nie glase gehad nie. Toe ons vanaf die spyskaart begin bestel moes ons uitvind dat meeste van hul kos op is, en die chef laat weet hy gaan nie nog voorberei nie want hy het nie meer al die bestanddele nie. Die Bestuurder vermy ons soos die groot pes. Na heelwat dreigemente kry ek uiteindelike die bestuurder onder hande en word daar ooreengekom dat hulle ‘n deel van ons geld sal teruggee. Ons het reeds betaal toe ons bespreek het. Ons maak die beste van die saak en eet wat beskikbaar is, omdat ons geen alternatief het nie.
En ons was nie die enigste wat die ervaring met hulle gehad het nie. Gedurende die tyd wat ons daar was het verskeie gaste gekla omdat hulle bespreek en betaal het, en daar nie vir hulle voorsiening gemaak was nie.
DAG 18 (26 DESEMBER 2006)
Dinsdag het ons rustig in Kasane deurgebring en bietjie in die winkels daar rondgesnuffel.
DAG 19 (27 DESEMBER 2006)
Vroeg Woensdag vertrek ons op ‘n toer na Victoria Watervalle in Zimbabwe. ‘n Toer wat deur Toro Lodge vir ons gereel is. Weereens laat Toro Lodge ons nie in die steek nie, en daar is ‘n misverstand oor die vertrek tyd. Maar ons kom uiteindelik daar weg en die res van die dag verloop sonder voorval.
Die Curio winkeltjies by Victoria Valle
Eerste blik van die Victoria Valle
Die rivier vloei sterk en die valle is ongelooflik. In die reenwoud reen ons sopnat met die mis wat deur die vallende water veroorsaak word. Ons keer moeg maar tervrede terug na die Lodge later die middag.
Fotos van die Victoria Valle en die Cecil John Rhodes standbeeld
DAG 20 (28 DESEMBER 2006)
Donderdag koop ons voorrade vir Nata Bird Sanctury en begin stadig oppak. Ons wil vroeg Vrydag oggend vertrek. Ek en Gerida loop ook deur verskeie Curio winkels in Kasane.
Ek maak in Kasane vol petrol en is verbaas oor die lang rye voertuie by die vulstasie. Kokkie kom kort na ons by die kampplek aan met die nuus dat al die vulstasies in Kasane sonder petrol is, en dat hy slegs 30 liter by die Engen stasie buite Kasane kon kry. Gevolg is hy het nie genoeg petrol om Nata te haal nie.
Terwyl ons met aandete besig is kom se een van die bure dat hy nou net verneem het dat die Shell stasie in Kasane petrol gekry het. Kokkie is dadelik soontoe en raak darem geholpe.
DAG 21 (29 DESEMBER 2006)
Ons kom vroeg oggend weg soos beplan. Die rit tot in Nata duur langer as verwag as gevolg van die swak toestand van die pad. Die teerpad is vol slaggate wat met die reen moeilik sigbaar is en die swaar voertuig verkeer maak die rit geensins makliker nie.
Op Nata aangekom trek ons by die eerste vulstasie in vir brandstof en om die badkamers te besoek net om te hoor hulle krag is af en daar is ook nie water nie. Ons raak oorkant die pad geholpe by die Shell stasie met brandstof, maar hulle badkamers is ook sonder water. Die Engen stasie se badkamers werk egter en ons raak daar geholpe.
Hier geen Dina en Kokkie te kenne dat hulle nou gladnie sal omgee om nou deur te ry huistoe nie. Daar word ooreengekom dat ons by die Bird Sanctury stop en hoor of daar water in die panne is, en of daar flaminke is. Dan besluit ons verder.
By die Bird Sanctury aangekom is die dame op diens geensins vriendelik en behulpsaam nie, en meer geintereseerd in haar selfoon as om ons te help. Ons besluit ons gaan huistoe.
Ons koop op Francistown iets om te eet. Toe is dit voort Martinsdrift toe, want ons wil deur die grens voor die grenspos sluit. Volgens ons inligting op daardie stadium sluit die grenspos 18:00.
Op Sherwood stop ons vir petrol en hoor toe dat die grenspos eers 22:00 sluit. Ons is sonder voorval deur die grenspos en eet aandete by Maxis in Potgietersrus. Teen ongeveer 22:00 uur Vrydag aand stop ons by die huis.
En so kom ons Botswana vakansie tot ‘n einde gekom.
Recent Comments