Malawi
Mama Rula's, Chipata, Zambia
29 December 2015
Toe die wekker vanoggend 6uur afgaan, toe weet ek dis ons laaste dag in Malawi. In ‘n mate was dit “sad”, maar ook opwindend. Ons volgende fase van ons vakansie het begin.
Ek hoor Pieter kreun kreun wakker word, en ek vra onmiddelik hoe hy voel. Nee seg hy, die been voel “ok”. Dis net die blerrie muskiete wat hom weggedra het deur die nag. Ek seg vir hom ek was ook by die party waarheen hulle ons gedra het – ek het die evidence om dit te wys. Ons lyk of ons masels het … brandsiek honde. Malawi muskiete is torpedo’s. Hulle het geen genade nie. Ons loop en krap asof ons jare laas gebad het …
Toe ons die deur van die kamer van die gastehuis oopmaak, toe staan die “manager” klaar daar. Hy wil weet hoe laat “breakfast” ons. Die man was ‘n geskenk van bo. Palm Villa het uit die niet verskyn toe ons Kasungu binnery eergister (26 Desember) en dringend ‘n plek soek om af te pak sodat Pieter se been kon rus. Die kamer was skaflik … hoewel wit beddegoed nog nooit gewerk het nie. Ons het ‘n waaier gehad wat teen ‘n redelike spoed die lug gesirkuleer het … EN, ons het krag gehad vir die yskaste en AL die ander goed wat moes charge.
Gister by ontbyt (wat die man self maak en bedien) vra ek hom of daar iemand is wat my kan help om wasgoed te was. Nee seg die man, hy sal ‘n plan maak … ek moet rus en na Pieter kyk, want hy sien die man se been is seer.
So was hy toe man alleen al ons wasgoed, hang dit op EN stryk dit ook.
Sy ontbyt wat hy bedien is fantasties … hoewel dit ELKE dag dieselfde is. Na ‘n week by hom in die gastehuis gaan jy pretty gatvol wees vir chips, toast, chillie omelet en ‘n worsie. Sit daarby kitskoffie, warm melk en corn flakes. Nie “bad” vir ‘n “one man show” nie. EN, bonus, jy kan TV kyk terwyl jy eet … nie dat jy ‘n inkelte woord verstaan nie …
Die man probeer … hel, hy probeer baie hard. Verstaan nie ‘n woord “Ingels” nie, maar kom reg met gebaretaal. En als is SUPER skoon … en baie veilig …
Vanoggend toe ons ry, toe wil ek hom sommer omhels. Hy was vir my iemand wat ek kon vertrou toe dinge met Pieter se been regtig nie goed gelyk het nie.
Pieter is vroeg bank toe, want ons Malawi Kwatshas was amper klaar … en die gastehuis man moes betaal word. Min wetend vandag is ‘n vakansiedag in Malawi. G’n idee WAT die klomp vier met die vakansiedag nie, maar die strate is relatief stil.
En toe ry ons …
En dis asof Malawi ons groet. Want behalwe vir die slaggate, is daar vandag so ‘n vier miljoen meer fietse op die pad. En bokke. En tamaties. En mango’s. “And the list goes on”. So in die ry toe praat ek en Pieter oor Malawi en hoe verras ons was met hoe min toeriste daar was. In die HELE tyd wat ons in Malawi was, het ons nie een Suid Afrikaner gesien nie. Ons was die enigste kampers op al die plekke waar ons gekamp het – behalwe vir Makhuze. Ons wonder wat is fout … Lara by Makhuze seg dis oorlat daar nuwe visum regulasies is. Ek is nie seker of sy van die SA boggerop visa regulasies praat nie, maar skynbaar het haar besigheid ook ‘n serious dip gevat. Dis jammer, want Malawi is REGTIG EGTIG mooi. En vriendelik. En hulle het baie fietse.
Ons sal weer terugkom. En weer … en weer. Want die dinges weet alleen, die meer is iets om te aanskou.
Maar vir eers wil ons Kariba sien … en Manapoele.
Toe ons aftrek by die grenspos, toe seg ek vir Pieter dis lekker stil hier … Ons het al geleer om dit nie te “jinx” nie. Tien minute later is ons deur Malawi customs en in die Landy. Nou het Zambie voorgelê. Zim het ons met die uitkomslag al gewaarsku dat Zambie ons nie gaan laat deurgaan as ons nie polisie voertuig klaring het nie.
Maak nie saak HOE ons daaroor redeneer nie, mens moet eers SELF deur die akkies en drama gaan VOORDAT jy jou les leer en voordat jy mense kan adviseer. In SA met ons voorbereiding vir die trip HET ons die AA gevra, ons het Voetspore se winkel gevra, die Overland forum … ALMAL was dit eens dat jy NIE ‘n klaring nodig het as jy jou oorspronklike registrasie papiere het nie. En dit het ons …
Maar so kom ons toe in Zambie se grenspos aan. Doodstil. Behalwe vir ‘n irriterende swart vrou wat soos cheap parfuum hier om my hang, verloop dinge nie te sleg nie. Tot die groot ous agter die toonbank vir Pieter sy voertuig clearance sertifikaat vra. Wat ons nie het nie. En my man se been is seer. En dis DONNERS warm. En die cheap parfuum vlieg van ‘n vrou hier om my wil nie padgee nie.
Pieter verduidelik. EK hef my stem en verduidelik. Maar sy seg nee … NEE, sy soek DAAI pampiere.
Laaaaang storie kort, Pieter word agtertoe geroep en die main kahuna vrou van die grenspos lees sy papiere en seg vir die amptenare als is in orde hulle moet sy pampiere stamp. En net daar suur die eerste vrou haar op en gaan op ‘n slow go … en ons sit … en ons wag … vir ‘n HELSE lang tyd.
Die cheap parfuum vlieg draai toe uit om die “third party insurance” te wees. Hier in Zam betaal jy vir carbon tax, third party insurance, een of ander levy vir een of ander councelor en dan betaal jy sommer jou tolgelde vooruit.
Met ons papiere in hand, stap Pieter toe saam met die cheap parfuum fairy na haar kantore toe, en ek verkas Landy toe. Fairy kind draai om en skreeu vir my “you have nice blood hair”. What the hell …? Ek sou later uitfigure sy verwys na my hare …
Ons ry Chipata binne en stop by die Spar vir rolletjies en tamaties. Ons eet baie tamaties op hierdie trip … en soos ek na die inhoud van ons yskas kyk, is dit AL wat ons eet. Met dié dat Pieter siek is, braai ons min. Kaas en tamatie toebroodjies … “what I will give for a cooked meal”.
Aaaaanyway, ons staanplek vir die aand is Mama Rula’s net buite Chipata. Ons het van die plek uitgevind toe ons Voetspore se program ‘n paar weke terug gekyk het. Mama Rula behoort aan Wynand en Andrea – oud Suid Afrikaners.
Dis ‘n MOOI plek, met bitter baie bome en groen patchy gras. As jy nie “mind” vir die verrotte blare op die grond nie, en jy “mind” nie die annoying papagaai wat “Jan Pierewiet” wil wil sing nie, dan is hierdie regtig ‘n nice spot om oor te staan.
Tot so 5uur die middag … dan kom die trokke en trokke Overlanders hier ingesuiker en verdwyn die tranquility blitsvinnig. Maar as jy nou NIKS het om te doen nie, dan sit jy maar en kyk hoe hulle hulle tente opslaan en hoe die ‘kok’ die wortels opchop. En dan gaan stort jy gou … want oor ‘n halfuur is die helte van Chipata se water op … want ‘n swetterjoel Overlanders het dit opgebruik.
Ons weet nou nog nie wie Mama Rula is nie … maar Pieter vermoed dis die “very butch” aunty agter die toonbank by die kroeg … wat met haar voet op ‘n stoel gestaan het en ‘n bier in die hand.
Ons gaan vroeg inkruip vanaand. Pieter se been voel beter, maar vir my bly die ding nog ‘n aardige rooi. Hy grom darem nie meer vir my nie en praat nou vol sinne … dis vordering.
Môre ry ons Lusaka toe – Pioneer camp. Dis ‘n fris trip van 500km.
Let the games begin …
Mooi loop.
Recent Comments