First Aid:  Hoe nou?

Met ons vakansie in Malawi in 2015 toe Pieter sy been seergemaak het – en dit later ‘n ernstige bakteriese infeksie geword het, het ons weereens besef dat dit tog die moeite werd is om elke keer maar al die “First Aid” sakke wat ons so “religiously” elke keer saamry, WEL saam te vat.

Toe ons in 2006 begin toer het, het ek gewonder watter medisyne om te pak – en geen “Google” soektog kon my help nie.

Nou kan ek met “permissie” seg dat ons regtig ‘n “state of the art” medisyne arsenaal opgebou het, en word ons nie sommer onkant gevang nie.

So … hier is vir jou ‘n lys – net ingeval Google jou ook in die steek laat …

Maar, ek seg dit hier ook met “permissive”, hierdie lys is ons lys – dit werk vir ons. Jy mag miskien anders voel en jou neus optrek. “Each for he’s own” …

As jy NIKS anders pak nie, pak maar tog seblief (groot seblief) net die volgende:

Breëspektrum Antibiotika.

Ek kry elke jaar sommer by ons huisdokter genoeg van dit vir my en Pieter. As jou huisdokter jou goed ken, het hulle nie probleme om dit vir jou voor te skryf nie. Antibiotika (hoewel dit wyd gekritiseer word) het my uit ‘n vieslike brongitus in die Sentraal Kalahari gehelp, en nou ook in Malawi gekeer dat Pieter amper sy been verloor het.

Antiseptiese salf.

Iets soos Betadine of Quadriderm. Goggas in SA is “softies” in vergelyking met dit wat ons al teëgekom het in die res van Afrika. In Zimbabwe klits die Tsetse vlieë jou dat die trane loop. Jy krap naderhand die wond tot op die been oop – ‘n sawwe salfie help om jou gemoed te sus.

Ontsmettingsmiddel.

Iets soos Dettol of Savlon. Jy kan natuurlik ook sout in warmwater opgelos gebruik. In Malawi het ek Pieter se wond skoongemaak met Savlon – ek is later in Chipata (Zambie) oor die vingers geraps deur die dokter. Savlon kan skynbaar nie vir als gebruik word nie – sout in water bly die beste. PS: sorg net dat jy jou Dettol en Savlon in toerits plastieksakkies sit – die bottels het die nare gewoonte om nadat hulle oopgemaak is, die HELE “First Aid sak” vol te lek.

Medisyne vir diarree.

Iets soos Immodiums. As jy lank genoeg stilsit, kan ek vir jou traumatiese stories vertel van “gyppo guts” sessies wat ek en Pieter al in Afrika gehad het. Ons het geleer, jy DRINK NIE die water uit die krane uit nie. Jy maak nie eers jou tandeborsel nat met dit nie – jy spoel nie eers jou mond UIT met dit nie. Ons is seker die enigste mense wat met vakansie ons tande borsel met bottel water (klink baie superior). ‘n Maag in Afrika kan vir jou vinnig laat terugverlang huistoe, jou medekampers die bliiiiiksem in maak, en JOU tot doer bo in Peru jou kop laat sak van skaamte. Ons gebruik nou al jare dié resep sodra ons voel hier is “maag verwikkelinge”.

  • 4 Kantrexil pille
  • Pectrolite (sommer so ‘n halwe glas vol met water gemeng)
  • 1 Immodium tablet

Drink die hele lot op een slag en begin bid …!

Rehidrasiemiddel.

So van maag gepraat … as die pille nou nie help nie, en jy voel jy wil jou laaste asem op die flimsy toilet diep in donker Afrika uitblaas, roep jou anderhelfte nader en vra seblief dat jy nou jou laaste wens wil uitoefen … hy  moet seblief vir jou die “Rehidrate” bring. Kyk, kom ons wees eerlik – die goed is hondsleg, maar dit help. Dit help ten minste dat jy van die toiletsitplek kan afklim tot op jou kampbed. Drink dit … drink dit GEREELD. Moenie ophou om dit te drink tot jy heeeeeeeellemal “OK” voel nie. Maar moenie nou net een pakkie inpak nie – gaan koop die HELE Dischem leeg. Of, as jy so deur die jaar jou grocery shopping doen, laai van dit in. Jy kan NOOIT genoeg van dit hê nie. Ons pak ook altyd Game poeier in – maar ons het nog nooit dit gebruik nie. Die “Rehidrate” doen gewoonlik die ding. En moenie … seblief … MOENIE die Coke sonder gas (of “flat” soos die oumense altyd geseg het) drink nie. Daai suiker krap jou pens net meer om. Die suiker gee jou ‘n onmiddelike “rush” en jy voel soos Bruce Willis, maar dis van korte duur.

Malawi Route

Pleisters.

Deesdae se “Outdoor Warehouse” First Aid sakke maak voorsiening vir pleisters, maar dis ‘n pleister vir ‘n “paper cut”. Dit val af sodra jy jou tent se zip 12uur in die nag oopmaak vir ‘n piepie break

Gaan koop vir jou ordentlike mediese “hospitaal” pleisters. Jip, daai wat jou ‘n arm en ‘n been kos. Koop so deur die jaar genoeg van dit (kan ‘n mens ooit genoeg hê?). Ons ry al jare lank ‘n pak van die goed saam – all sizes – vir klein verpoepde wonde tot groooooot wonde. Ons het nog nooit nodig gehad om dit te gebruik nie – inteendeel, ek het begin Desember 2015 voor ons Malawi vakansie nogal gesit en tob of ek die lot nie maar moet los by die huis nie. Ons het AL die pleisters vir Pieter se been wond gebruik – die hele spul. So, pak hulle in en HOU hulle daar. Ons koop gewoonlik “Prima Pore” pleisters. Hulle klou vir lewe en dood, en trek nie sommer al jou lyfhare met wortel en al uit as jy dit aftrek nie.

Malawi Route

Pynpille (moenie die koorspen vergeet nie)

Ons pak gewoonlik Panado in, maar as die pyn nou TE erg raak (soos wanneer jou medepassasiers net TE veel gesels), dan gebruik ons sommer Myprodols (wat ook ‘n anti inflammatoriese middel is). GrandPa poeiers werk ook goed (veral vir die gebarste hakke – “I kid you not”. Vat ‘n flessie Vaseline en meng so 5 GrandPa poeiers in die Vaseline in, en smeer aan jou hakke. Hulle word so sag soos ‘n baba se boude). Pynstop wat ‘n mens sommer so oor die toonbank by die Apteek kan koop, sit ‘n koors maklik op sy plek. Toe Pieter se koors in Malawi ‘n astronomiese 40.8 bereik het, het ek vir hom Panado stroop en Pynstop tablette ingegee (nadat my familie via ‘n dokter vir my laat weet het dis wat ek moet doen). Dit het sy koors binne ‘n halfuur gebreek … en hom ook sommer vir laaaaaank laat slaap. Voltaren setpille werk ook baie goed as jy wil omdop van die pyn. Dit werk lekker vinnig. Maar dis aaaaaardig om dit vir iemand te moet insit – soos Pieter met my moes doen. Toe ek nou die “posisie” inneem, toe seg die man ek moet wag, hy moet eers ‘n flits kry want hy weet nie watter gat om dit in te sit nie. Really … ! Voltaren setpille moet op jou lysie wees wat jy vir jou dokter vra om vir jou voor te skryf – jy kan dit nie oor die toonbank koop nie.

Panado

Brandwondbedekking

Dankie. Tog. Ons het nog nooit nodig gehad om dit te gebruik nie, maar ongelukke gebeur vinnig. Veral as jy so oor die kampvuur buk met die leeus wat in die agtergrond brul. Dit laat mens simpel goed doen … Die “First Aid” sak wat ons jare terug by Outdoor Warehouse gekoop het, het van die wondbedekking ingehad, maar dit verval na ‘n rukkie. Nou kan jy dit deesdae apart by Dischem of enige ander Apteek koop. In “Ingels” praat die mense van “burnshield”

Sonskerm en “eina cream” vir die brand.

Al die jare het ons gedink ons is immuun teen die son. In die Kalahari brand jy vir jou rooi vir ‘n dag, dan word jy so bruin soos die duine. Dit was ‘n ander storie in Sodwana jare terug. Maar ons praat nie graag hieroor nie. Behalwe om te seg ons was stupid en het die hele dag in bewolkte weer op die strand gesit. Amateurs!Met 2de graadse brandwonde het ek en Pieter gou agtergekom dis nie pret nie. Want behalwe dat jy jou ogies wil uithuil oorlat dit donnnnnners seer is, jy kan nie ordentlik slaap of funksioneer nie. Probeer nou ‘n tent opslaan met arms wat jy nie eers kan lig nie …Alle geval – hier het ons ook ‘n lekker tip in Pongola gekry toe ons die Apteker gesmeek het om ons nek om te draai sodat ons van die pyn verlos kon wees. Die Apteker het vir ons twee lekker DIK buise Voltaren salf gegee. Ek wou nog my mond plooi, toe seg hy “probeer dit net”.

Deesdae vermy ons die son – ons loop nêrens sonder ons hoedens op nie – en ons smeer ons “4×4 arm” (daai arm wat by die venster uithang op jou trippie) goed met factor 50 sonskerm. Niks wat jou vakansie so kan kruppel soos sonbrand nie – en ook niks wat jou nader aan ‘n skei prokureur bring nie.

Dit werk – soos ‘n bom. Dit haal die steek uit die pyn en kalmeer sommer jou gemoed ook.

Malawi Route

Peaceful Sleep en “8 Trek salf”

Ons drink elke keer ons Malaria pille – dis ‘n gegewe. Maar ons spuit ook Peaceful Sleep. Ons het orals in die Landy en kratte van dit. Met ons reise het ons agtergekom dat Afrika meer neig na “Tabard” as Peaceful Sleep. Tabard werk nie so goed vir ons nie, so ons maak seker ons vat genoeg Peaceful Sleep saam.In Malawi koop jy ‘n room met muskiet weermiddel in. Dis ‘n klein houertjie wat na niks lyk nie. Ruik ook nie te aardig nie. Dit het verbasend goed gewerk. Een van die bestandele is wilde basilie – iets wat die Malawiers aan hulle velle smeer om die muskiete weg te hou.Maar as jou naam Pieter Booyens is, dan krap jy daai muskietbyt totdat dit bloei – maar jy stop nie daar nie, jy krap verder, of jy maak sulke “hissing noises” soos wat jy vir my probeer seg HOE erg dit jeuk. En “mind you” – daar is NIKS – absloluut NIKS wat so kan jeuk soos 40 miljoen byte nie.

Dis hier waar die 8 Trek salf inkom. Jy kan dit by Dischem koop – of Outdoor Warehouse. Dit ruik aaaaardig en dit lyk yuk! Dis so ‘n taai donker salf wat soos teer ruik. Maar dit WERK. Sit so ‘n mespunt op die bytplek en “Bob’s your uncle”. Jy kan dit ook op oop wonde sit. Ons het orals van die salf in die Landy – en in die tent … en in die toiletsakke … want glo my, jy wil nie aan die jeuk gaan as jy jouself al klaar in die rooftop tent toegezip het en skielik besef die salf lê onder in die Landy nie.

Ek kan ‘n boek skryf oor muskiete. En niemand gaan die boek koop of lees nie, want daar is niks so “boring” soos die gezoem om jou ore nie – en “frankly” is daar niks wat jou so vinnig van jou verstand kan dryf nie.

Maar wat van die “hardware”?

Hier is die basiese goed wat jy in jou noodhulptas behoort te hê:

  • Tweezers (nie net vir dorings nie, maar ook om ‘n lastige skroefie op te tel wat in ‘n ongemaklike plek in geval het)
  • Verbande (alle sizes)
  • Gaasdeppers
  • Haakspelde
  • Lemmetjies (jy sal verbaas wees hoe baie jy dit gaan gebruik)
  • Koorspen
  • Latex handskoene (vat genoeg saam – een of twee paar is NIE genoeg NIE)
  • Space blanket
  • Skêr (en neeeeee, nie die een waarmee jy die hoendersakkies en braaipakkies oopknip mee nie – hierdie skêr moet sterile wees)
  • Watersuiweringstablette
  • Steri strips (aaaaaaamazing goed – veral as jy nie dadelik by ‘n dokter kan uitkom vir steke nie. Hierdie “strips” hou daai wond bymekaar en werk soos ‘n bom. Ons het van dit by Dischem gekoop)
  • Koue kompres (daai blou jellie sakkies wat jy in die vrieskas sit en gebruik as jy iets verstuit het)
  • Oogdruppels
  • Neussproei en allergie pille (Allergex is ‘n goeie een)
  • Watte
  • Naarwordpille (of soos ek dit genoem het – kar siek pille)
  • Pille vir blaasontsteking – en Citrusoda (help ook vir wanneer jy nie Eno’s het nie)
  • Keelseer pille (As jy hulle uit die bokse uithaal om te verpak en so plek te spaar, sit hulle in ‘n “Glad sakkie” – die goed het die geneigdheid om uit die foelie te pop en die hele First Aid sak vol te lê)
  • Reparil Gel (aaaabsolute MOET)
  • Gaviscon vir sooibrand – of enige ander goed wat jy daarvoor gebruik
  • Oordruppels
  • As jy bril dra, onthou om ‘n ou bril van jou in te pak. Ten vir ingeval jou huidige bril die gees gee
  • Hoesmedisyne
  • Konstipasie medisyne (ons het dit nooit nodig gehad nie, maar ‘n pens kan jou vakansie op sy kop keer. Koop vir jou Dulcolax se “adult” setpille. 15min nadat jy dit ingesit het is jy verlos van jou probleempie)
  • Buscopan (vir die maagkrampe)

 En ten laaste …

  • Onthou daai paar sweishandskoene. Nie net help dit om daai pot kookwater op te tel nie, dit kan ook gebruik word om kole rond te krap.
  • Naald en gare – jip – naald en gare. By Pick n Pay kan jy deesdae so ‘n pen sakkie houer koop met al die basics in. Dit is klein en vat min spasie. En glo my, dit kom handig te pas.
  • “Baby Wipes” – GEEN toilet in Afrika is “vars” genoeg om op te sit nie – dan praat ons nie eers van die toiletpapier nie. Ons sit altyd van die “baby wipes” in die kar en ons vat dit ook saam as ons ‘n draai moet loop. En … net vir “in case” jy dalk ‘n pitstop langs die pad moet maak, laat die “baby wipes” jou vars voel

Al die medisyne vat seker maar ‘n effense chunk uit jou pakplek uit, maar glo my, jy gaan spyt wees as jy daarsonder ry.

Ons pak ook al ons medisyne in klein “cooler bags”. Die foelie aan die binnekant verseker dat dit nie warm word nie. Ons is nog nooit gevra om ons medisyne te verklaar by grensposte nie. Gebruik maar jou goeie oordeel en moenie gaan krap daar waar dit nie jeuk nie!