Kasungu Malawi

 

26 December 2015

En toe slaan die noodlot toe.

Letterlik.

In Kuimba Shiri (aan die begin van ons trip) net buite Harare (Zimbabwe) het Pieter met die opklim op die Landy skeef getrap en sy maermerrie afgeskuur teen die Landy se bulbar. Ons het aanvanklik niks daarvan gedink nie – net ontsmet en pleisters opgeplak.

Toe ons die 24ste by Mushroom Farm aankom, het ons kamp opgeslaan en Pieter het probeer om die datakaart wat ons in Mzuzu gekoop het aan die gang te kry. In die proses het hy die laptop gevat en voor by die Landy gaan staan. En so met die een oog op die laptop seg hy vir my hy kry koud. “Odd”. Hoe de hel kry jy koud as dit so blerrie warm is?

Sy tande het letterlik op mekaar geklap. Die man was ernstig siek. Ek het aanvanklik gedink malaria, maar sy simptome het nie sin gemaak nie. Hy het nie grieperig voorgekom nie. Sy koors was ‘n astronomiese 39.8 – en ek het proppers begin panic.

Met nadere inspeksie sou ons agterkom sy been (waar hy seergekry het) het infeksie. Ernstige infeksie. Ek het vermoed DIS die oorsaak van sy skielike koors.

Met al ons travels maak ek seker ons “first aid” is absoluut op datum. Ek het hom Panado stroop ingejaag sowel as Myprodols. Die wond behoorlik ontsmet en Betadine opgesit. Pleisters geplak en gehoop vir die beste. Die man was siek – so siek dat ek hom moes help om uit ‘n skotteltjie te was. Hy het gebewe van die koue.

Ek het hom toegemaak in die daktent en gehoop vir die beste. Deur die nag het hy ‘n Babelse dors ontwikkel en twee bottels water opgedrink. Ek het geweet hier kom akkies – emmers vol van dit.

Die volgende oggend (25 Desember) was hy nie beter nie. En sy been was heeltemal rooi – soos in BAIE rooi. Daar was beslis infeksie. Ek het geweet ek moes begin met antibiotika, maar ek was nie seker watter soort nie. Ek het genoeg van als in die medisyne sakke gehad, maar op 1083m bo in ‘n berg, het niks sin gemaak nie.

Ek het begin sms – al my familie in SA op hol gejaag. Ek wou net confirmation kry dat dit wat ek vir hom gee en doen, reg was. Die man was regtig siek. Hy het onsamehangend gepraat, sy fokus was uit, hy wou nie eet nie en het dors gebly. Sy been was vuurwarm … en hy ook.

Met baie sms’e en raad later, het ek hom ingejaag wat ek moes, en kon ek hom terug in die daktent kry om te rus. Hy het sterk antibiotika ingehad en ek het gehoop dit sou die ding doen.

Wat maak ‘n mens met jouself op ‘n berg 1083m bo die beskawing op Kersdag met ‘n man wat slaap. Jy sit en worry … DIS wat jy doen. Ek het als probeer – van wasgoed was, Landy regpak, sonpaneel skuif, broodjies maak … ek het net nie die kamp area uitgevee nie.

Toe Pieter later die middag wakker word, het hy beter gelyk. En gevoel. Maar teen later die aand, toe vat hy weer ‘n dip en moes ek die wond (wat nou so groot soos ‘n R5 stuk was) skoonmaak. Ons is vroeg bed toe. Op ‘n manier moes ons die berg af … en by ‘n dokter uitkom.

Vanoggend het Pieter beter gelyk … en die wond het toegetrek en het nie meer so aardig gelyk nie. Hy het kans gesien om die pad Kasungu toe aan te pak. Dis ons laaste oorslaap voordat ons more (27 Desember) oorkruis Zambie toe.

Die ryery het die been egter glad nie goed gedoen nie. Die man was in pyn, en toe ons Kasungu inry, toe soek hy ‘n dokter. Daar is geen dokters op Kasungu nie – net ‘n hospitaal waar jy nie lewendig in wil wees nie. By ongevalle het Pieter vir ‘n dokter gevra – en een het uit “teater” gekom met bebloede hande (geen handskoene) nie. Deur die deur kon ons sien hy was besig om op iemand te opereer (met die familie wat sommer op stoele in die teater gesit en wag het).

Ons het uitgestap en plek gesoek om oor te staan vir die aand. Pieter se been moes gelig word. Gou ook.

Ons het ‘n baie oulike nuwe gastehuis ontdek wat deur ‘n gawe swart man bestuur word. Netjiese kamer en badkamer.

Pieter het dadelik gaan lê … ek het hom pyn medikasie ingejaag en verwoed vir my familie begin vra wat ek nog moet doen.

‘n Uur later is Pieter wakker … hy voel beter, maar sy been is seer. Gelukkig nie seer genoeg om op die laptop ons blog te update nie.

Ek tik hier en ek weet nie of dit die einde van ons vakansie is nie. Net tyd sal kan seg.

‘n Krisis in Afrika is ‘n nare ding … veral as jy siek is …

Mooi loop …

 

Pieter in die bed by Palm Villa, Kasungu