Liwonde National Park

 

16 December 2015

Vakansiedag in SA – nie in die res van Afrika nie. Dankie. Tog.

Ons het vanoggend (16 Desember) half 5 wakker geword in ons 4x4m kamer (met die kolle deken en blerrie harde matras) met die WBHO generator wat hardloop. Deur die nag het dit ordentlik in Moatize (net buite Tete in Mosambiek) gereën.

Reën in Afrika beteken geen krag – en in ons geval, geen water ook.

Ons het ‘n lang pad voorentoe gehad wat twee grensposte ingesluit het.

Omdat Moatize nie krag het nie, het die petrol pompe ook nie gewerk nie, en kon ons nie diesel tap nie. Die enigste ander uitweg was om diesel by die WBHO plant te kry. Malan van WBHO wat saam met sy vrou en 7 maande ou baba Milan die plek vir Desember oppas, was baie hulpvaardig. Dit help natuurlik dat ons Afrikaans magtig is – die man is uitgehonger vir Afrikaans.

Diesel in die tenk en jerrykanne is ons half 7 uit Moatize uit.

Niks gulpooprukkend merkwaardig nie – Mosambiek is nat. Daar is vroeg vroeg al miljuisende motorfietse op die pad. Almal sonder valhelms of enige ander vorm van beskerming. Ons het ook agtergekom dat gebreekte takke in die pad ‘n aanduiding is dat ‘n trok voor die gees gegee het en heelwaarskynlik die pad vol staan.

Orals is daar houtskool te koop – houtskool wat hulle in die veld brand en in sakke verpak netjies toegevleg met palmblare aan die bokant. Elke tweede Mosambieker ry ook fiets – met die sakke houtskool agterop. Sommige van hulle so breed soos ‘n kar. En trap, dié kan hulle baie goed. Van hulle balanseer twee houtskoolsakke, ‘n swart vrou met ‘n baby op die rug EN mango’s op een fiets … en dan trap hy hom teen 120km per uur … (ok, dalk nie SO vinnig nie … ).

Mosambiek is ‘n anderste land … anders as waaraan ons gewoond is. ‘n Mens kan niehelp om te wonder of Zimbabwe nie ‘n les of twee by hulle kan leer nie. Die mielielande is net soveel meer gestruktureerd. Vullis langs die pad is tot die minimum beperk. Die polisie is minder aanvallig (hoewel hulle tot die tande toe gewapen by die padblokkades sit).

Mosambiek is mooi … prentjie mooi. Heuwelagtig en baie ruig. Ons sal weer eendag terugkom … eendag.

Net voor die grens stop ons om vleis in die geheime laai te sit … die hoeveelste keer die vakansie. Ons is al geoefen in die storie. Pieter gee aan en ek buk en pak in. Appels kom in ‘n ander laai, joughurt saam met dit. Met elke slag dat ons die kos oorlaai dink ek by myself ons moet begin om die blerrie goed te eet!

Oppad grens toe werk ons aan ons strategie. Niemand hier verstaan Afrikaans nie, so ons gaan soos tipiese uitlanders optree, Afrikaans praat en maak of ons glad nie hoor wie of wat ‘n “runner” is nie.

Ook nie 100 jaar later nie, toe stop ons by die grens en die skares van duisende sak op ons toe. Ugh …

“Praat Afrikaans en moenie met hulle kommunikeer nie”. “Hou jou geld styf vas en MOENIE met hulle praat nie” … ek coach vir Pieter die hele pad, want my man se lont is bittttttter kort as dit kom by grensposte.

Ons parkeer amper tot reg voor die immigrasie kantore en word ‘vriendelik’ versoek om effe agter toe te skuif om plek te maak vir die trokke. Die grenspos is doodstil.

Ons word dadelik gehelp en ry moeiteloos uit Mosambiek uit.

Dis 10km tussen die Mosambiek grens en die Malawi grenspos. Tien kilometer van gehuggie op gehuggie. En fietse … en motorfietse … en mango’s … “you get my drift”.

By die Malawi kant word ons ingewaai deur ‘n ywerige “ampternaar” wat vra ons moet die voertuig boek teken. Ons praat die hele tyd Afrikaans … suiwer Afrikaans. Wat ‘n mission. My Afrikaanse juffrou sou soooooo trots gewees het. As ek “Ingels” praat hoor die klomp dit en flop ons plan miserably.

Ons “amptenaar” hol vooruit – letterlik en wys vir ons waar en hoe ons moet betaal. Paspoorte gestempel is ons na die kantore vir die tydelike invoer permit. Sonder die “TIP” (Temporary Import Permit) kom jy nêrens in Afrika nie. Dis jou redding by padblokkades en jou toegang tot vele ander dinge.

Die vrou agter die toonbank is SUPER vriendelik, en ek sien sommer ons twee sal boobs saam kan skuur. Ek vra vir haar of die “amptenaar” ‘n official is, en sy begin giggel. Nee seg sy, hy “help” hulle net – en sy knipoog vir my. Die “ampternaar” se lip val op die grond en hy kies koers. Dis net ek en Pieter wat nou op ons eie die stryd voer …

Die SUPER vriendelike vrou help ons – ons ruil geld by die MIB en betaal ons versekering en permit geld. Als binne die bestek van minder as ‘n uur. Malawi het inderdaad ons verwagtinge oortref. BAIE vriendelik en uiters hulpvaardig.

Toe ons in die Landy klim, toe kon jy die smiles op ons gesigte reg rondom ons koppe trek. Ons het 5 dae hard gery om tot hier te kom …

Malawi is heuwelagtig … en groen – baie groen. Die oorgrote meerderheid ry fiets hier – fietse is ook taxis. Olie word uit neute gebraai en langs die pad in silinder vorm plastiek sakkies verkoop. ALMAL hier eet mango’s. Tonne van die goed. As jy agter ‘n bakkie te lande kom met ‘n klomp inwoners op, moet jy koes, want die mango skille val ORALS.

Liwonde National Park is tans te nat vir besoekers – en teen $200 vir ‘n voertuig uitsleep, raai hulle ‘n mens aan om nie in te gaan as jy nie 100% seker is dat jy nie gaan vassit nie.

Langs Liwonde is die Liwonde Safari Lodge. Ons staanplek vir die volgende 2 dae.

Dis ‘n ongelooflike mooi plek. Die eienaar (ek weet nou nog nie wat sy naam is nie) is van Holland. ‘n Maer man met sulke kort klein “minder wit” tande. Hy rol sy eie sigarette. Sulke krul hare – en was is nie prioriteit vir hom nie. Maar sout van die aarde. Aangename man.

Liwonde Safari Lodge kry meestal skoolgroepe wat hier oorstaan. Bitter min kampers. Ons is vir die Hollander soos manna uit die hemel.

John is ons sekuriteitswag. Jip – ons wag. Ons is te bang om te vra hoekom word ons opgepas. Ons vat dit soos royalties. As ons badkamer toe beweeg, kom sit John met ‘n filts langs die Landy. Ons moet vir John vertel as ons ons kamp area verlaat … want anders raak John upset … very upset.

Aandete is oorskiet lasagne wat gevries is van kersfees saam met die kinders. In die swartboom potjie lyk dit na babakos. Lekker babakos. Saam met dit eet ons rashers en sosaties … met cherries.

Life is good …

Al wat kort is daai bottel yskoue lemoensap wat ek in die huis se yskas vergeet het …

Mooi loop.

 

 

17 December 2015

Dit het vandag in Liwonde gereën. Van 1uur tot half 5 die middag. Ons weet want ons het geslaap.

Die matras storie wat ons die afgelope paar aande probeer het, werk nie vir ons nie. Vanmiddag toe ruil ons die hele spul met die spons matras wat ons amper in Moatize by WBHO se site office in Tete gelos het. Ek seg dankie dat ons nie het nie. Baie dankie. Daaaaaai matras slaap soos vla op warm malva poeding.

Die hitte in Malawi kou ons. Spoeg ons uit en herkou ons weer. Maar dis die moeite werd. Dis mooi hier. Dis bitter mooi hier. Die mense is vriendelik, die landskap is asemrowend. Die diere gee in oorvloed terug.

Ons is 6uur uit die tent uit. Agt uur moes ons die gids voor ontmoet. Ons was bang ons verslaap. Ek dink nie verslaap is iets wat ons sommer sal oorkom in Malawi nie. Daarvoor sorg die hitte.

Twee perskes later … ‘n shower en koffie is ons reg vir die dag. Ons moet als wegpak, want olifante loop gedurig deur die kamp. Ja, soos in BY JOU verby. Ek is versot op die goed, maar ek hou my beskeie afstand. Hulle kan moerse moody wees.

Paul ons gids kom vra of ons gereed is. Ek het my blou lap hoed aan. Die een wat die kinders vir my vir krismis gegee het. Die een wat Cansa ondersteun. Ek ruik soos Margate met my Nivea Coconut sonsproei. Vandag brand ons nie. Nie na wat in Sodwana gebeur het nie (maar daaaaai is ‘n ander storie).

Ons wurm vir ons in die ou Mazda bakkie in. Knieknoppe hier neffens ons adenoids. Die ding is blerrie klein, maar dis die voertuig wat die lodge gebruik om mense te vat tot by die water.

Die vlak van die Shire rivier is baie laag. Malawi wag soos die res van Afrika vir hulle reën. Ons moet ver loop om tot by die boot te kan kom – gebied waar die Mazda nie kan ry nie. Ek stoom soos ‘n lokomotief en die sweet drup ons af.

Jerry ons park guide wag al reeds vir ons by die boot. Vriendelike groot swart man. Met plakkies aan en baie vuil voete. Sy boot drywer lyk nie veel beter nie. Ons is die enigste mense op die boot. Fantasties.

Met die inklimslag toe klits die eerste vlieg my. Die goed is ongenaakbaar. Tsetse vlieë. Ek was amper gisteraand in trane nadat ek een per ongeluk tussen my lyf en arm vasgeknyp het. Die ding het my gebyt en dit het vir ure daarna nog gebrand.

Jerry verduidelik dat hulle nie beeste en perde in die omgewing het nie, maar dat die vlieë hulleself tuismaak op die seekoeie. Dis reuse vlieë en Pieter verduidelik in SA staan hulle as perde vlieë bekend.

Ek is verward … tussen ‘n Tsetse vlieg en ‘n blerrie Perde vlieg. Hoe dit ookal sy, die goed is blerrie IRRITEREND!!!!!

Jerry en sy drywer gooi petrol en start die boot … en ons rit begin.

Die Shire rivier is ‘n sytak van die Malawi meer … en volg uiteindelik ‘n roete van 400km voordat dit uitspoel in die Zambesi rivier. Waar die res van die Malawi meer helder water het, is die Shire rivier modderig. Soos verwag, want daar is HORDES – letterlik HORDES seekoeie in die rivier.

Ons was in 2006 in die Chobe (Botswana) gewees, en daar het ons gedink ons het baie seekoeie gesien. Ons was verkeerd. HIER is die punt waar al die seekoeie vir krismis bymekaar kom.

Beide kante van die rivier is oop … glad nie ruig nie. Dis maklik om hier diere raak te sien. Oor die algemeen meen die Hollander asook Jerry dat van die boot af dit beter is om diere per boot te sien as wat jy fisies deur die park ry.

Teen $10 per persoon is dit die moeite werd. Oor en oor die moeite werd.

Ons het ‘n trop van 500 olifante gesien. Ons weet dis 500, want ons het hulle getel – Jerry het gehelp. Water in die binneland is skaars, dus kom drink en wei hulle aan die oewer van die Shire. Ons kla nie. Dis ‘n gesig wat ‘n mens vir min mense kan verduidelik. Ek hop soos ‘n kind in ‘n sweets winkel rond van opgewondenheid. Dis ‘n gesig wat ons nie sommer sal vergeet nie.

Die olifante swem en speel in die water tot die matriarg hulle roep om aan te beweeg. Dis net ‘n klompie stout jong bulletjies wat hansgat weier om DADELIK uit te klim.

Die bootrit duur ongeveer 3ure – 3ure van konstante site viewing sonder ‘n minuut se verveling. Mens kan amper nie bybly met fotos neem nie.

Met die terugkom het ons seekoeie op die oewer gesien met baie kleintjies. Om nie te praat van die baie Nyl krokodille nie. Grotes en ook bitter kleintjies.

Môre pak ons op en beweeg aan Palm Beach toe. Maar eers moet ons in Liwonde na ‘n winkel gaan soek. Ek het nogsteeds nie  Doom gekry nie.

Groete uit Malawi …

 

Sons ondergang in Liwonde National Park