Ons Roete

Ons roete vir die dag het ons vanaf Parktown Johannesburg geneem tot by Hendrik Potgieter, oor Krugersdorp met die N14, en toe die R563 tot by Hekpoort. Vandaar die R560 oor Maanhaarrand en die R24 tot by Rustenburg.  Daarvandaan via Zeerust na die Skilpad Hek Grenspos geneem waar ons deur is na Botswana.  Hiervandaan is ons reguit aan met die Trans Kalahari Highway tot by Sekoma waar ons links weggedraai het na Kokotsa.  Kort voor Kokotsa het ons regs afgedraai van die teerpad en daarvandaan met ‘n skoongeskraapte kaplyn gery tot by Mabuasehube.

Roete Jhbg tot Mabua

Parktown Johannesburg tot by Mabuasehube

Roete in Mabuasehube

Roete gery in Mabuasehube

 Mabuasehube

WANNEER:

Met die sokker om die draai, en ons maatskappy wat besluit het om die 11 Junie te sluit vir die openings wedstryd, en met die dat die 16de Junie ‘n vakansiedag was,  het ons besluit dit is die ideale geleentheid vir ‘n wegbreek Mabuasehube toe. Ons het Donderdag, 10 Junie die pad gevat en sou Woensdag, 16 Junie 2010 terugkeer.  Meer hieroor later.

WIE GAAN ALMAL SAAM:

Hierdie keer niemand nie.  Net ek en Vroulief  (SWAMBO).

VOORBEREIDINGS:

Met ons sleepwa wat teen die tyd goed toegerus is (ons het so oor die jare se kamp veranderings aangebring om by ons kampstyl aan te pas) was daar min spesiale voorbereidings wat gedoen moes word. Al wat nodig was om te kry was jerry kanne vir diesel.  Ons het die Defender nog nie lank nie en daar was nog nie tyd en geld om ‘n ekstra brandstof tenk in te sit nie. Ek het Saterdag gou by die bank gaan Pula kry vir Botswana, die gasbottels almal gaan volmaak en ons was reg om te ry.

DAG 1 (10 Junie 2010)

Die eerste dag van ons vakansie het aangebreek.  Soos beplan het ons om 12h00 stiptelik uit Parktown, Johannesburg vertrek. Sommer so met ons met ons werksklere aan.

Afstand afgelê en tyd:

Ons roete vir die dag het ons vanaf Parktown Johannesburg geneem tot by Hendrik Potgieter, oor Krugersdorp met die N14, en toe die R563 tot by Hekpoort. Vandaar die R560 oor Maanhaarrand en die R24 tot by Rustenburg.  Hiervandaan met die N4 tot by die Skilpad Hek grenspos. Die grenspos was ‘n miernes en volgende keer sal ek tweekeer dink voordat ons weer daardeur gaan. Ons moes omtrent alles verklaar – van kameras regdeur tot iPods – net om agter te kom die SARS beampte by die hek is nie regtig daarin geintereseerd nie. In totaal 302km, en 4 ure se ry. Hiervandaan neem die roete ons na Lobatse waar ons brandstof ingegooi het oor Kanye tot by Jwaneng.  Hier maak ons weer diesel vol en tap ook ons watertenk vol vars water.  Van Jwaneng ry ons toe tot by Sekoma en draai daar weg rigting Kokotsha toe.  Ongeveer 10km voor Kokotsha draai ons weg op die kaplyn, volg die kaplyn vir ongeveer 20km en trek af en slaan daar kamp op vir die nag. Bitter koud, maar ons was net te moeg om om te gee. In totaal 331km, en 5 ure se ry. Tel daarby die uur en ‘n half wat dit geneem het om deur die grenspos te kom, het ons eers om 22h30 op die kaplyn begin kamp opslaan. Ons “gaste” was ‘n klompie beeste, ‘n donkie met ‘n irriterende klok en HOPE sand.

Pad-toestand:

Die pad tussen Krugersdorp en Rustenburg is nie te waffers nie en het ons maar stadig gevorder.  Die teerpad in Botswana is in ‘n puik toestand.  Alhoewel dit reeds donker was het ons redelik vinnig gevorder.  Nie ver voor ons nie het ‘n vragmotor teen ‘n konstante 120km.p/u. gery en al die beeste en bokke van die pad verjaag.  Ons kon hom toe met redelike veiligheid volg tot by Sekoma waar ons weggedraai het en toe stadiger begin ry het om moontlike botsings met diere te vermy. Die gedeelte van die kaplyn wat ons gery het was ook in ‘n redelike toestand.  Effens sinkplaat maar darem nog nie valstande uitval toestand nie.

Akkomodasie (toestand en koste):

Die daktent op die sleepwa.  Geen addisionele koste nie, het gratis langs die kaplyn gekamp. Dit was vir ons ‘n eerste, maar defnitief nie ‘n laaste nie.

Ander kostes:

Om die Defender se tenk en die ekstra jerry kanne vol te maak het ons P977.20 gekos. Permitte en “roadtax” aan die Botswana kant van die grenspos was P120.00 vir die Defender.  Ek het nog ‘n permit van ons Januarie toer vir die sleepwa gehad.  Die permitte is geldig tot 31 Desember 2010.

Positiewe ervaring vir die dag:

Tussen Lobatse en Jwaneng het ons afgetrek en die broodpizza wat ons op die Defender se engine gesit het om gaar te word afgehaal.  Dit was gaar en het wonderlik gesmaak.  Dankie Retha vir die resep, dit is ‘n wenner. Ons is op die kaplyn, oppad na Mabuasehube, en geen selfoon sein meer nie.  Stilte en rustigheid.

Negatiewe ervaring vir die dag:

Die Skilpadnek grenspos.  Die “Customs” outjie het die s%*t uit my gefrustreer. “Do you have a camera sir?  Yes. Then go fetch it so I can see.  Anything else you would like to see?  No thank you sir.” Ek loop en gaan haal die kamera uit die Defender ‘n ander halwe kilometer ver.  Terug in die “customs” kantoor. “Do you have binoculars sir?  Yes.  Then go fetch it so I can see them.  Anything else?  No thank you sir.” En so hou dit aan tot my moer strip.  Toe loop haal ek als wat sak en rugksak en watookal uit die Landy en plak dit voor hom neer.  Sê vir hom, hier is alles nou, kyk wat jy wil kyk. Ek het net SWAMBO se medisyne sak gebring nie… Hy is toe tervrede, stempel die tydelike uitvoer permit en ons kan gaan. Die Botswana kant was redelik pynloos behalwe vir die lank toustaan vir die voertuig permit. En natuurlik die “Afrika tyd” waarteen alles gedoen word.

Wat sou ek anders gedoen het:

Sou vroeër uit Suid Afrika wou wegkom sodat ek nie in die donker in Botswana hoef te ry nie en die risiko van ‘n botsing met diere vermy het. Sal “customs” dokumente in die hande probeer kry en vooraf voltooi. Ek was al male sonder tal in Botswana en dis die eerste keer dat ek gevra is om dit te voltooi.  Martins Drift, Stockpoort en Gabarone het dit nog nooit verwag nie.

Diesel in Lobatse

Maak vol diesel op Lobatse 

Kamp op die Kaplyn

Eerste aan op die Kaplyn 

DAG 2 (11 Junie 2010)

Ons word vroeg oggend op die kaplyn wakker.  Dit is koel maar darem nie koud nie.  Maak koffie en eet beskuit.  Slaan die daktent op die sleepwa op en is gereed om te ry.  Vandag sou ons neem tot by ons staanplek by Mabuasehube Pan.

Afstand afgelê en tyd:

Dit was nog 116km op die kaplyn tot by Mabuasehube se hek, en daarvandaan ‘n verdere 24.6km tot by kampplek no. 1 by Mabuasehube Pan. Ons het ongeveer 8h00 vanaf ons oornagpunt vertrek en was 12h00 by die hek.  Daar moes ons toe wag dat hulle eers die amptenaar aan diens by ontvangs by sy huis gaan haal.  Dit het darem nie te lank geneem nie, hulle bly nie ver daarvandaan nie.  Formaliteite is afgehandel en ons was weer oppad. Ons het teen ongeveer 14h00 by staanplek no. 1 langs die Mabuasehube Pan aangekom en begin kamp opslaan.

Pad toestand:

Diep sand op plekke en erg sinkplaat gery, veral die laaste ongeveer 16 kilometer al langs die grens van Mabuasehube.

Akkomodasie (toestand en koste):

Dit was ‘n kampplek sonder enige geriewe.  Geen water of toilet geriewe nie.  Koste P30.00 p.p.p.n. Bliss!

Ander kostes:   Geen.

Positiewe ervaring vir die dag:

Dit was die eerste keer dat ek regtig rowwe terrien met die Defender gery het vandat ons hom gekoop het.  Ander kere was bietjie grondpad en slegte paaie en die keer by De Wildt naby Hartbeespoort, maar alles kort afstande. Hier het ek nou die geleentheid gehad om hom oor lang afstande op slegte terrein en sand te toets.  My ervaring, ek is beindruk met “Shrek” en ruil hom vir niks.

Negatiewe ervaring vir die dag:

Geen, ons was in die 7de hemel.

Wat sou ek anders gedoen het:

Niks, alles het verloop soos beplan en hoe ons dit verwag het.

Mabuasehube kampsite 1

Mabuasehube Pan Kampplek no 1

Mabuasehube Pan

Uitsig oor Mabuasehube Pan

DAG 3 (12 Junie 2010)

Vandag skuif ons van kampplek.  Ons was net vir een dag hier bespreek. Ons volgende staanplek is kampplek no. 1 by die Mpayathutlwa Pan.  Ons het rustig ontbyt (koffie en beskuit) genuttig en toe begin oppak.  Geen haas nie want ons het nie ver gehad om te ry nie.

Afstand afgelê en tyd:

Dit is 10km van Mabuasehube Kampplek no. 1 tot by Mapayathutlwa kampplek no. 1.  Ek het nie tyd dopgehou nie maar ons het seker so tussen 30 en 45 minute gery.  Langs die pad gestop ook om diere te kyk.

Pad toestand:

Hoofsaaklik sand maar klipperig naby die Mapayathutlwa Pan.

Akkomodasie (toestand en koste):

Hier was daar lopende water, ‘n put toilet en ‘n stort (koue water).  Die kampplek het ook ‘n A-raam afdak met ‘n beton vloer waaronder jy in die koelte kan ontspan.  Dit is nou as die leeus nie reeds voor jou daar is nie.

Positiewe ervaring vir die dag:

Ons is hartlik deur ‘n hele kolonie waaierstert eekhorings verwelkom by die kampeerterrein. Later die aand terwyl ons besig was om te braai het ‘n rooi jakkals kom seker maak alles is in orde. Hy was letterlik ‘n klipgooi van die ligkring van ons vuur – hy het homself rustig gemaak ‘n ent van ons af en so nou en dan ‘n draai by die vuur kom maak. Deur die loop van die nag het ‘n paar leeus ons kamp besoek. Ons het net voor donker die hark gegryp en ‘n kordon rondom ons tent getrek uit nuuskierigheid om te sien watter spore ons die volgende oggend kon kry. Dit blyk dat daar deur die nag sommer drie leeus baie naby ons tent was en sommer ook inspeksie gehou het van ons kamp opset. Die adrenalien pomp hoog as ‘n mens na die spore kyk en besef jy het rustig geslaap terwyl dit gebeur het. ‘n Mate van teleurstelling kom altyd by ‘n mens op omdat jy nie wakker was nie, maar in retrospeksie wonder ‘n mens ook wat sou jy gemaak het AS jy wakker was!

Negatiewe ervaring vir die dag:

Niks.

Wat sou ek anders gedoen het:

Sou graag langer hier wou gestaan het. Dis ‘n pragtige staanplek en die pan was regtig vol diere. Die sonsondergange in Mabua in maar soos die res van Botswana ongelooflik. Soos ons met ons trippies vorder kom ons net nie oor die magiese invloed wat ‘n Afrika sonsondergang op ‘n mens het nie.

Mapayatutlwa Kampplek 1

Mapayatutlwa Kampplek no 1

Mapayatutlwa Shower

Mapayatutlwa Stort

DAG 4 (13 Junie 2010)

Vandag is dit weer terug na Mabuasehube Pan.  Kampplek no. 4.  Weer rustig na ontbyt opgepak en toe die pad gevat.  Half teleurgesteld omdat ons die plek moes groet, maar opgewonde omdat ons ‘n nuwe ervaring gaan kry. Plaas van direk na Mabuasehube Pan te ry, het ons om die Mapayathutlwa Pan gery en diere gekyk.  Hier was heelwat springbokke, gemsbokke en hartbeeste te sien.  Ook enkele volstruise.  Die vorige dag het ons ‘n groot swerm aasvoëls by die watergat afgeneem. Die voël lewe in Mabua by al die panne fassineer ‘n mens geweldig. Die hoeveelheid wat ‘n mens aantref sal enige entoesias vir weke lank kan besig hou.

Afstand afgelê en tyd:

Die ekstra afstand om die pan het die totaal van ons kampplek tot by Mabuasehube Pan kampplek no. 4 was 16.3km.

Pad toestand:

Klipperig om die pan en daarvandaan sand tot by Mabuasehube Pan. Met die Defender wat so lekker trek het ‘n mens soms vergeet jy ry op sand…

Akkomodasie (toestand en koste):

Kampplek no. 4 by Mabuasehube Pan het water, ‘n koue stort en put toilet.

Positiewe ervaring vir die dag:

Ons het heelwat diere by Mapayathutlwa Pan gesien voor ons vertrek daar en die eekhorings het fluks gehelp om die rooster skoon te maak voordat ons dit kon oppak. Die hele pan en die kampplek is net iets wat ‘n mens MOET ervaar.

Negatiewe ervaring vir die dag:

By Mabuasehube Pan kampplek n.o 4 kry ons toe ander kampeerders op die kampplek.  Toe ons papiere nagaan blyk dit ‘n dubbele bespreking te wees.  Hulle bied aan dat ons saam met hulle op die staanplek kan staan.  Ons besluit egter dat ons op ons eie wil wees (hulle het ‘n generator wat heeldag loop want sy batterye vir die vrieskas het gees gegee).  Was nie lus om heeldag na die geluid te luister nie. Om ook natuurlik jou “eie” kampplek in die bos te gaan oopskof was ‘n avontuur wat ons nie sommer “nee dankie” voor sou gesê het nie. Ons ry toe verder in die rigting van die Lesholoago Pan.  Ongeveer 3km van staanplek no. 4 vind ons ‘n oopte onder ‘n redelike boom naby aan die pad en slaan toe sommer daar kamp op.  Ons besluit sou iemand van Natuurbewaring ons kom jaag (onwaarskynlik dat daar iemand sou verbykom) sal hulle vir ons aanvaarbare alternatiewe kampplek moet gee.  Ons het rustig gekamp, niemand het ons kom pla nie. Dit was die nag egter heelwat kouer as by die ander kampplekke en ons het dit toegskryf aan die feit dat ons teen ‘n heuweltjie uit gekamp het, onbewus van die koue front wat op pad is. Die koue het deur nerwe gesny en ons het daai nag maar swaar geslaap.

Wat sou ek anders gedoen het:

Niks nie, ons het lekker gekamp en sal dit weer doen ……….oor en oor. 

Mabuasehube Boskamp

Mabuasehube Boskamp

Mabuasehube Sonopkoms

Sonsopkoms – Mabuasehube boskamp

DAG 5 (14 Junie 2010)

Dit was weer opslaan en verder ry.  Die keer tot by Matopi kampplek no. 2 op die Nossob Vallei roete.  Ons het vroeg opgestaan omdat ons vandag verder moes ry as die ander dae. In retrospeksie dink ek ook die koue het ons vroeg uit die tent uitgejaag tot binne die Defender met sy verwarmer. Nog nooit in my lewe was ek SO dankbaar vir SWAMBO dat sy daai “long johns” van my gepak het nie.

Afstand afgelê en tyd:

Ons sou vandag 92.6 kilometer aflê tot by Matopi kampplek n.o 2 en dit sou ons na verwagting ongeveer 5 uur neem volgens die GPS. 5uur op ‘n sandpad is nie jou boude of SWAMBO se beste maatjie nie.

Pad toestand:

Van ons kampplek was dit sand tot naby die Mapyathutlwa Pan waar dit klipperig was, en daarvandaan tot by die Bosologola Pan was dit ook sand.  Van Bosologola was dit sand maar erg sinkplaat tot by Matopi. By tye moet jy mooi voel of al daai stopsels in jou tande nog sit – en vergeet daarvan om te probeer koffie skink uit daai warmfles – dis ‘n futiele oefening!

Akkomodasie (toestand en koste):

Die enigste geriewe by die kampplek was ‘n koelteboom en ‘n ronde betonblad om vuur op te maak. Ons het niks meer verwag nie – alles was perfek.

Positiewe ervaring vir die dag:

Oppad het ons by Mapayathutlwa Kampplek no. 1 gestop om water aan te vul.  Die mense wat daar kamp vertel ons toe dat daar leeus in die pan is en dat die mannetjie aan die oorkant van die pan net langs die pad lê.  Hulle het die leeus deur “laaang” lense staan en dophou. Toe ek die nuus vir SWAMBO oordra toe wip sy op en sê “ry pappie – daar’s leeus”. Ons is nooit gelukkig met leeus nie en wanneer ons hoor van iemand wat hulle sien is ons soos vlieë op ‘n goeie “dropping” – eerste daar! Ons kry die mannetjie langs die pad waar hy rustig is, half amper aan die slaap. Na al die jare verstom ons ons nogsteeds aan die grootte van hierdie dier! So terwyl ons hom op video vaslê gee hy toe sommer so lê lê vir ons ‘n vertoning van hoe ‘n leeumannetjie kan brul.  Ek weet nie wie was die mees gelukkigste nie – ek of SWAMBO – ek dink die “grin” wat ons altwee vir mekaar gegee het kon ‘n storie vertel. Kort daarna hoor ons die leeus in die pan antwoord.  Nie lank nie toe staan hy op en begin in die rigting van die pan stap waar ‘n wyfie hom tegemoet kom.  Die twee ontmoet mekaar met ‘n skuur hier en ‘n skuur daar, ‘n vryf hier en ‘n vryf daar… en ons sit met ons bekke wat oophang so mooi is dit. Nog twee ander leeus, die een ‘n jong mannetjie met net bietjie bietjie maanhare, sluit ook by hulle aan.  Hulle gaan lê toe agter die bosse ietwat buite sig en dit was duidelik dat hulle die dag daar gaan vertoef.  Ons is toe verder, Matopi toe – baie tevrede.

Negatiewe ervaring vir die dag:

Die sinkplaat pad wat tot die stopsels in jou tande uitskud.

Wat sou ek anders gedoen het: V

olgende keer dalk nie Matopi besoek nie behalwe as ek beplan om al die pad deur te ry Nossob toe en Twee Rivieren en ander kampplekke daar aan die Suid Afrikaanse kant te besoek. Ek dink as jy eenkeer by Matopi was kan jy hom maar skrap as ‘n “been there”…

Mapayatutlwa se Leeu

Mapaytutlwa se Leeu Mannetjie

Matopi 2

Matopi 2 se Kampplek

DAG 6 (15 Junie 2010)

Vandag begin ons die terugtog huistoe.  Dit is amper die einde van die vakansie.  Ons word wakker en dis duidelik hier is k*k. Dis hondkoud buite. Op die horison kon ons die popcorn wolkies sien waar die kouefront deur die nag ingesypel het. Met die dat ons nie sel opvangs het nie, en ook nie die radio aangehad het nie was ons heel onbewus dat die land in ‘n koue greep was. Tent opslaan en oppak was ‘n “mission” want die koue het regtig elke spier in ons lywe in ‘n knop gehad. Ons sou vandag ry tot so ver ons kon op die kaplyn, daar oorstaan en dan die volgende dag verder Pretoria toe. Toe ons egter teen 16h00 die middag by die plek op die kaplyn waar ons sou oorstaan aankom was dit so koud dat ons besluit het om deur te druk Pretoria toe.  23h30 Dinsdagaand stop ons by die huis in Pretoria, en slaap die volgende oggend tot amper 11h00.

Afstand afgelê en tyd:

836km en 15 uur later was ons by die huis.

Pad toestand:

Sand, sinkplaat en plek plek klip tussen Matopi en die teerpad naby Kokotsha.  Vandaar goeie teerpad al die pad tot by die huis.

Akkomodasie (toestand en koste):

My eie bed en verwarmer by die huis, uitstekend.

Ander Kostes:

Op Jwaneng het ons P315 se diesel ingegooi en dit het ons deurgevat tot by die huis.

Positiewe ervaring vir die dag:

Ons is veilig terug by die huis.  Die hele vakansie het sonder enige voorvalle verloop.

Negatiewe ervaring vir die dag:

Dit was eerstens vrek koud en die koue het ons verhoed om ‘n nag weer op die kaplyn deur te bring. Die depressie wat ons ervaar het deur te dink ons moet terug huistoe was by tye amper te erg… Dit was ‘n lang en uitputtende rit.  Maar met die koue dalk die beste keuse wat ons kon maak om nie oor te slaap op die kaplyn nie.

Wat sou ek anders gedoen het:

Sou verkies het om die rit te onderbreek en op die kaplyn oor te slaap soos aanvanklik beplan, was dit nie vir die koue nie.

Boso Trail

Boso Trail – Mabuasehube

Sonsondergang

Sonsondergang in Botswana oppad huistoe

Sal ons dit weer doen

BESLIS ja! Ons het alreeds bespreek vir Desember.  En hierdie keer staan ons 2 nagte by sommige kampplekke en 3 nagte by ander.  Ons het ook Khiding Pan, Lesholoago Pan en Monamodi Pan by ons bespreking ingesluit.  Ons gaan Desember ‘n totaal van 15 dae in Mabuasehube deurbring. Die enigste probleem is dat Desember nog so vrek vêr is!

Wat moet ons nog doen voordat ons weer gaan?

Daar is twee dinge wat gedoen moet word voor ons Desember weer toer.

Ek moet ‘n laai sisteem agter in die Defender kry. Sonder behoorlik georganiseerde pakplek in die Landy was dit chaos.  Goed het knaend soek geraak en dit was ‘n babelse verwarring wat ‘n broeines is vir ‘n onderonsie tussen my en SWAMBO – en enige man sal jou vertel jy wil nie in die bos sit met ‘n vrou wat die donder in is vir jou oorlat sy nie die flits kan kry wat iewers agter in die Landie soek geraak het nie.

Tweedens moet ek die watertenk wat nou al so lank in beplanning is vir die sleepwa installeer. Los tenks en water kanne werk net nie so lekker nie.

Met die terugkomslag en die aflaai van die foto’s besef ‘n mens net weereens dat ons kinders van Afrika is. Dis in ons bloed. Mabausehube is ‘n vrek mooi plek en ons bid en hoop dat dit vir lank nog so sal bly.

Groete

Pieter & Gerida Booyens