Magorgor

4 Januarie 2016

Dis 18:20. Voor my is ‘n blousel blou swembad, en langs my op sy enkelbed is ‘n baie moeë man.

Maar my bors steek soos ‘n pronk duif s’n uit, want ek (lees hier “ons”) het Beitbrug vir die 2de keer oorwin.

Jip, ek tik vir jou die laaste blog inskrywing van hierdie vakansie vanuit ‘n aircon kamer by Magorgor gastehuis so 22km buite Musina. Ons slaap hier oor vanaand en môre kry ons koers huistoe.

Dit was ‘n lang dag … maar meer daaroor later.

Ons drie dae by Mana was ‘n belewenis. Ons het erg gesukkel om te akklimatiseer op dag twee – veral slaap was ‘n onbegonne taak. Die hitte in Mana is iets ongeloofliks. Tussen twee bergreekse vasgekeer en die Zambesi tussenin, is daar nie plek vir die hitte om te ontsnap nie. Jy asem warm lug in 24/7.

Ek het destyds by Crazy Store sommer so ‘n flimsy spuitbottel gekoop en gedink dit kan dalk help vir die hitte as ons so met vakansie is en ons sukkel om te slaap. Die ding vat seker so 500ml se water. Ek het hom ELKE aand voor 8uur al leeg gespuit op ons in die tent. Jy kan nie draai of jou oë knip nie, want dan is jy screwed – jy gaan boet met ten minste ‘n halfuur van ERGE sweet.

Dit vat druppende nat klere minder as ‘n uur om kurkdroog te word.

Maar Mana was mooi … en baie stil. Die seekoeie sorg vir ‘n skouspel deur die dag met hulle geluide, en saans as hulle uitkom op die walle.

Die dae is lank, want al wat jy kan doen is sit … beweeg, badkamer toe gaan, eet … dit ALS verg moeite en energie wat ‘n mens glad nie daar het nie.

Dag twee was uneventful … maar dag drie het opgemaak.

Die man met sy kinders so ‘n ent van ons af het vroeg opgepak en koers gekies huistoe. Dit was net ons in die kamp area oor. ‘n Kamp area met 27 staanplekke. Lieflike bome, maar niks gras nie. Ou afgeremde ablusies, maar ten minste is dit skoon en effort word ingesit om hulle oor te teel.

Later die oggend toe let ek ‘n miershoop op wat beweeg … dag eers die die hitte, maar toe ek mooier kyk, toe het die miershoop wappende ore ook. Dit was ‘n olifant. Hier. In. Die. Kamp. En hy en sy maat was oppad na ons toe … na die sloepie wat die Zambesi hier reg voor ons staanplek maak.

Dit was ongelooflik. Geruisloos het die twee voor ons verby beweeg (amper raak afstand) en op die groen gras langs die sloepie gaan wei. Later het die twee in die rivier ingeloop tot by ‘n sandbank … koers regs gekies waar hulle koppe onder die water met die stroom tot duskant ‘n eiland getrek is. Daar het hulle geswem en eventually uitgeklim en vir die dag op die eiland deurgebring. Ons bekke het oopgehang. Nog nooit het ek en Pieter so iets beleef nie.

Later die aand het drie seekoeie uitgeklim en reg langs ons aan die wei gegaan …

Ons het elke aand duisende vuurvliegies gehad wat die wêreld vol gevlieg het. Dit voel vir jou of jy op ‘n LSD trip is want jy sien al die liggies in die donker rond bloep … Dis ‘n ongelooflike gesig en ek wens – regtig ek WENS ek kan dit vir ander wys.

Baie later terwyl ek Pieter se wond verbind het, het ek ‘n tak hoor breek, en met die spotlight reg in nog ‘n olifant se oog geskyn wat LANGS die tent verbygeloop het oppad water toe.

Mana het nie teleurgestel nie.

Ek sou graag die plek in die winter wou beleef, want eerlikwaar, die hitte in die somer is ‘n fraksie te erg. ‘n Mens slaap nie … jy eet nie … jy drink net die een bottel water na die ander … en jy wag vir die son om te sak sodat jy fase twee van jou hitte proses kan begin …

Ons is gisteroggend (3 Januarie) uit Mana uit … met die belofte om weer te kom. Eendag.

By die laaste kontrole hek het Pieter gestop om die bande weer op te blaas – en ek het vir ons toebroodjies op die Landy se bonnet aanmekaar geslaan. So deur die proses het ons nog leeus hoor brul – hier neffens ons. Dis Afrika vir jou daai.

Met die indraai na die hoofpad toe, toe keer die “Tsetse control” broer ons voor. Dis ‘n “boom gate” waar hulle jou kar inspect om te sien of jy Tsetse vliegies saamry. Dis stupid om daarvoor te kyk, want enige regdenkende mens sal ‘n Tsetse vlieg onmiddelik verwilder as hy hom sien – want hel, die goed steek seer.

Anyway … met die stop by die kontrole hek kom “Joseph” aangeloop met sy “spray can”. Hier neffens my venster kom staan hy en vra of ons enige Tsetse vlieë in die Landy het. Of course gaan ons seg “nee” … maar die man voel homself genoop om TOG maar in die kar te spuit. En hy spuit … ‘n poep spray wat ‘n mili second gehou het. Ek wag nog vir die vlaag spuit wat hy gaan gee, toe’s dit verby.

Terwyl ek en Pieter lag vir die ironie van die hele opset, toe hol daar ‘n duiker voor ons op die teerpad oor … en sy word gevolg deur ‘n wildehond. Nee, regtig, ek maak nie hierdie goed op nie … Sy hop na die oorkant van die pad toe met die hond agterna … en nog twee ander honde wat haar volg. En woeps toe’s hulle weg. Toe ons tot verhaal kom, toe kom ‘n moerse groot trok van voor af by ons verby. Dis ‘n openbare pad … VOL trokke … en daar het sopas ‘n duiker en drie wildehonde VOOR ONS oor die pad gehol.

Ons sou die aand by Antelope Park oorstaan. Ons het in 2015 ‘n dokumenter gesien oor die park op die BBC en ons wou dit graag ervaar. Ons beplanning het aanvanklik voorsiening gemaak vir twee dae oorstaan by Antelope, maar by Mana het ons al besluit ons tart die noodlot al te lank met Pieter se been en dis beter as ons huiswaarts keer.

Die pad Antelope Park toe is mooi … en dis met ‘n seer hart dat ons besef Suid Afrika is besig om die plot te verloor wat ontwikkeling betref. Daar is nie meer so ‘n ding soos ‘n afgeleefde Zim dorpie nie. Daar is nie meer ‘n ding soos ‘n vuil Zim dorpie nie … Ons het deur verskeie van hulle gery, en ELKE keer is ons verras oor die vooruitgang.

Buite Kadoma trek ‘n wit Mazda langs ons in op die hoofpad en beduie ons moet stop. Zim polisie. Ons is altyd versigtig vir hulle – sommiges kan arrogant wees, terwyl die meerderheid ons nog net goedgesind was.

Die Mazda stop agter ons en wys met die vinger ons moet uitklim. Klaar begin jou hare al regop staan en jy wonder of dit “procedure” is.

By die Mazda met die twee uniform poliesmanne vra Pieter wat die probleem is. Ons het skynbaar ‘n bus verbygesteek op ‘n dubbel lyn en ons moet daarvoor beboet word. $800.

Flip, dis baie geld – agthonder dollar. Ons bevraagteken die bedrag en hulle kom af na 500 dollar. Nogsteeds baie. Pieter kom haal die geld, maar ek ruk vir my in ‘n arrogante toestand in en klim ook uit. By die Mazda dring ek aan dat hulle moet uitklim en ons soos opgevoede mense in die oë kyk. Die bestuurder ruk hom vir my op en dreig met “impounding your vehicle” en tronk toe. Maandag sou ‘n hof ons “uitsort”.

Jy skrik … dis legal Zim polisie hier voor jou. Jy betaal die 500 dollar en hoop die probleem gaan weg.

So 5km van daar af is ‘n tolhek, en by die tolhek staan ook ‘n polisievrou. My rug was krom oor die geld en ek het ongemaklik daaroor gevoel. Ek wou by haar weet of dit standaard praktyk is. Sy was super vriendelik en kon die angs op my gesig sien.

Nee, dis ‘n aaaaardige bedrag om te “fine”, en dis ongehoord. Ek moet dit gaan aanteken by die Kadoma polisiestasie – veral omdat die latte in die kar geweier het om vir my hulle identiteitskaarte te wys EN om vir my ‘n bewys van betaling te gee.

Ek het Pieter oorreed om om te draai sodat ons dit kon gaan aangee.

Hou in gedagte, dis Zim – dis Sondag – dis die begin van die nuwe jaar …

By die polisie aangekom is ons herwaarts en derwaarts gestuur tot ek hard gedreig het dat ek ons tent NET HIER sal opslaan en MAANDAG vir die hof sal verduidelik dat ek dink ons het sopas omkoopgeld vir twee poliesmanne betaal.

‘n Onlangse studie deur die SAIRR het getoon dat die Zim polisie die korrupste in die HELE Afrika is. Maar by Kadoma het ons nie tred gehou met “Inspector Ndlovu” nie. Hy is hoof van die piepklein stasie …

Toe ek my poppe uit die prêm gooi, toe gaan roep hulle hom – hy bly op die perseel. Dit was sy dag af.

Hy kom om die draai met ‘n werkbroek, skoene sonder kouse waarvan die agterkante deur sy hakke afgetrap word. Blou t-shirt. Hy vra dat ons vir hom die sad storie moet vertel. En ons vertel. En hy seg maar hulle het nie karre by die stasie nie – hulle mense loop te voet na waar hulle diens doen. Die poliesmanne waarna ons verwys is nie deel van sy span nie.

Die man is omgekrap. Hy is jonk en iemand ry in sy dorp rond met “fake” polisie uniforms en hulle “target” uitlanders.

Hy het ons gemaak statements gee van die gebeure en gevra ons moet hom seblief gaan wys waar die insident gebeur het.

Met ‘n ou afgeleefde polisiebakkie wat hy eers met sy skoene aan die gang moes moer, is ons daar weg – twee en ‘n half ure later.

Intussen het Harare laat weet die motor met die registrasienommer wat ons gegee het, verskil van dit wat hulle op hulle stelsels het. Dis nie ‘n Mazda nie … die voertuig is tien teen een gesteel. Dit het inspector Ndlovu nog net meer die bliksem in gemaak.

Die man se commitment het my verstom. Hy was deurentyd kalm en het na elke woord van ons geluister. Op ‘n slag het hy sy personeel in die aanklag kantoor voor stok gekry oor hulle straks nie die regte procedure gevolg het en hom gouer laat kom het nie.

Toe ons hom groet op die plek waar die polisie ons afgetrek het, toe vra hy Antelope Park se nommer – hy wou ons laat weet as hy iets gekry het.

En toe ry ons. Dit los ‘n suur smaak in jou mond – dis baie geld, maar ek WOU dit gaan aanmeld, en ek glo ons sal hiervoor beloon word.

By KweKwe het ons ‘n pizza by die Pizza Inn gekoop en met dit gewapen is ons Antelope Park toe.

Daar aangekom klim Pieter uit en by ontvangs toe hy sy naam en bespreking vir hulle gee, toe seg die ontvangsdame die polisie soek hom. En natuurlik kyk die HELE kantoor hom aan asof hy ‘n krimineel is.

Dit was inspector Ndlovu wat wou seker maar ons is by Antelope en ook om nog addisionele info by ons te kry.

Antelope het net een kamer gehad – en ons moes vat wat ons kon kry. Terwyl ek vir Pieter gewag het, het ‘n man en sy gesin (skoonpa ingesluit) by hulle motor langs die Landy gesels oor die “man in reception that is running from the police”. Ek moes luister hoe die Landy kwansuis teen 180km vir die polisie weggery het, en nou die vermetelheid het om ‘n kamer te wil huur. “He is such a prick – he even overtook me and almost caused and accident”.

Jissim … sal ek my sonde ontsien. Ek het uitgeklim en vir hom geseg dat as ENIGE Defender ‘n spoed van 180 kan handhaaf, moet hy hom seblief vir my gaan wys, want dan is dit ‘n “wonder car”. Tweedens, my man word NIE deur die polisie gesoek nie – ons HELP die polisie. Derdens, ons kom van Mana af, hy kom van Gweru af … WAAR die hel het ons by hom verbygegaan? En vierdens, verwar hy nie dalk die “prick” wat Pieter kwansuis is, met homself nie?

Die man was stom – want hy het my nie in die Landy sien sit nie … Sy skoonpa het hom geammuseerd aangekyk en einde ten laas gevra “And?”

Ons moes die Landy by ontvangs los en net dit wat ons nodig gehad het, saamvat na die kamer toe – wat 500000000000km ver was. End of story. Ek was moerig. En Pieter het gedreig dat as ek nie my lang lip van die grond af optel nie, hy dit VIR my sal doen.

By die kamer het ons pizza ingewurg, gaan stort en gaan slaap. Mens kan nie met die polisie en Zim se paaie EN Mana se hitte op een dag deal nie.

Ons is net na 7uur vanoggend uit Antelope uit …

Die pad van Antelope na Beitbrug is sieldodend. Dis ‘n lang vervelige stuk pad met baie dooie donkies, beeste en bokke. Die casualties van krismis trok verkeer.

Die Zim kant van Beitbrug hardloop soos ‘n goed ge-oliede masjien. Vyftien minute, toe is ons paspoorte gestempel en het ons ons “gate pass”.

Nie so maklik aan die SA kant nie.

Mens kan redeneer soos jy wil – daar is nie ‘n maklike verskoning vir hoekom dinge by Beitbrug is soos dit is nie. Twee van die 9 toonbanke word beman. Skofte ruil vat amper ‘n uur. Onbevoegde amptenare. Rammetjie uitnek immigrasie beamptes.

Drie ure later is ons daar uit – maar die letsels bly en ‘n mens klim in jou voertuig met ‘n volstrekte “ek kom NOOIT weer hierdeur nie”. Wat ook nie heeltemal regverdig teenoor die amptenaar is wat WEL sy werk doen nie.

Ons het gaan stoom afblaas by die Spur in Musina en toe pad gekies Magorgor toe.

Nou sit/lê ek en Pieter hier en ryg die vakansie soos ‘n derm uit. Dis lekker om terug op eie bodem te wees, maar dis ook nie lekker nie, want reality is dat ons moet terug werk toe …

Mense by die huis se lewens het nie stilgestaan terwyl ons vir 3 weke Afrika deurkruis het nie … Jy kan dit hoor met die eerste oproep wat ons maak sodra ons oor die grens is. My ma kla oor die honde wat so stout is, die hitte en die visdam wat lek. My pa praat met ‘n begrafnis stem en die kinders is bly ons is veilig.

Hoe deel ‘n mens met jou familie die ongelooflike avontuur wat ons deurgemaak het? Hoe laat ek vir hulle voel hoe die Malawi meer gevoel het behalwe vir die bottel meer water wat ek saamgebring het?

Ek en Pieter is bevoorreg om so te kan reis … ons is bevoorreg om iemand by die huis te hê wat ‘n oog oor die diere en huis kan hou. Ek is my familie ewig dankbaar dat hulle daar was toe ek hulp nodig gehad het toe Pieter begin siek word het …

Ons beplan om hierdie blog lewendig te hou met allerhande goed wat ons dink mense nuttig kan vind. Kom loer gerus gereeld in.

Ons beplan ook alreeds ons volgende trippie Katavi nasionale park toe in Tanzanie.

En vir jy wat hier lees en wonder … hou op wonder, spaar jou geldjies en klim in jou 4×4 en knyp jou oë toe en gaan ervaar Afrika. Gaan maak vir jou brandhout bymekaar vir jou vuur vir wanneer jy nie meer kan reis nie.

Landrovingafrica groete.