Makuze Beach Lodge
22 December 2015
Ek reken die paradys lyk so … of amper so. Of dalk NET SO.
Makhuze Beach … die enigste privaat strand in die hele Malawi. Nie uit keuse nie, maar oorlat die locals oor ‘n moerse koppie moet loop om op die strand te kom. Rotse aan beide kante van die strand maak dit “privaat”.
Ons is gisteroggend (21 Desember) uit Senga Bay (by Cool Runnings) weg. Teen 6uur toe ons ry, toe brand die son al die hel uit jou uit … en kan jy jou klere uitdroog van die sweet. Die humiditeit in Senga Bay is ongelooflik, so ook die “variety” van musiek wat nooit, OOIT ophou nie. Mens raak dit naderhand gewoond … of jy lieg vir jouself en seg “dis ok”.
Ons het elk TWEE stukke kapangu vis vir aandete bestel – saam met slaai. Dis ‘n dik stuk fillet vis wat ongelooflik lekker is. Maar ek seg ongelooflik met ‘n sagte stem, want eintlik wil ek seg dit was MOER lekker.
Die chef by Cool Runnings maak dit met ‘n broodkrummel lagie gaar en braai dit dan in biki botter. Vir jare wat kom, gaan ons nog nagmerries hê oor die vis. Sal dit nooit vergeet nie.
Anthony, Jess en Danielle wat ons by Cool Runnings ontmoet het, het saam met ons aandete geniet. Anthony (met ‘n klem op die “t”) kom van London af, maar hy travel die wêreld vol met ‘n meisie in Kaapstad wat heimlik hoop hy skop sy travel skoene eendag uit en kom bly by haar. Die man is kort, met die mees amazingste reguit tande. As hy smile krummel als in ‘n mens. Aangename siel, maar heng, hy het ‘n lang asem en praat onophoudelik.
Jess en Danielle kom van Oz af, maar hulle help Jess se pa in die Kasungu Nasionale Park hier in Malawi met ‘n projek. Ons sou later hoor Jess se van is Labuschagne en haar pa se naam is Mike. Jess is ‘n gebore Pretorianer, maar praat met ‘n swaar Ozzie aksent. Jess het bene wat strek tot in die hemel … selfs Pieter het twee keer gekyk toe sy in haar bikini aan Danielle se arm strand toe is.
Danielle is ‘n skraal outjie met Simson se hare … en baard. En hy stel net belang in ons tent en die Landy. Ons hou baie van Danielle …
Net buite Senga Bay het ons vol gemaak met diesel. 36 000Kwatcha se diesel ingegooi. For the life of me kan ek nogsteeds nie gewoond raak aan die waarde van die geld nie.
Ons het ook sommer weer dollars gaan ruil …
En toe begin dit reën … weereens …
Die pad Makhuze toe verskil drasties van die vorgie roetes wat ons gery het … dit pas meer die prentjie wat ons in ons koppe gehad het. Jy het die meer aan die een kant, en ‘n tropiese berg aan die ander kant. En daar is minder fietse op die pad … en die pad is net baie BAIE meer verwaarloos … en skielik het ons ook enkelbaan bruggies begin kry …
Die sak wat ons laat maak het vir die ekstra matras lek water soos ‘n sif. Dit ten spyte van die feit dat ons gevra het dat dit waterdig gemaak moet word. So, elke keer as die reën toesak, dan sak ons gemoedere want ons weet die matras word nat …
Dis ‘n stewige 4ure se ry Makhuze toe … give or take hoeveel fietse daar op die pad is … maar dis ‘n mooi omgewing en tyd gaan relatief vinnig verby.
By tye moet ‘n mens op ‘n grondpad deur gehuggies gaan, maar dit gaan relatief vinnig … of jy ry deur twee moerse gate soos ons en dan gaan dit minder vinnig …
Die indraai by Makhuze is dodgy … en dit lyk na niks. Jy kronkel vir ‘n hele paar kilometer deur gehuggies en smal paadjies voordat die paradys voor jou oopmaak.
Makhuze is tropies … baie tropies. Groen gras, rubberplante en hengse groot bome. Met ‘n wit oop strand … ongelooflik.
Vir ‘n chalet vra hulle $120.00 per persoon per nag. Dis hectic … maar dis kleingeld vir al die uitlanders wat hier uithang. Toe Pieter gaan vra vir kampplek, toe staan daar ‘n blanke man by ontvangs en vra of hy iets te ete kan kry. Hy het met sy helikopter iewers op die strand geland en nou is hy honger.
Die eienaar wat effe nors is, het hom baie vinnig op sy plek gesit met ‘n “we don’t have power so there is no food”. Dis die ding van Malawi. Ons kan op ons een hand tel hoeveel ure ons krag gehad het – die res was ons sonder enige krag. Dit lol met die sonpaneel as dit nog bewolk ook is. Meeste van die lodges in Malawi maak staat op sonkrag en generators.
Daar is plek vir 4 tente in Makhuze – en dis waar hulle die streep trek. Hierdie mense is gesteld op stilte en totale tranquility. Ons is die enigste kampers sover … en hoewel dit volgens die inwoners van Malawi “peak season” is, was ons tot dusver nog die enigste kampers by al die plekke waar ons was … en ook die enigste Suid Afrikaners.
Makhuze het benewens sy strand ook twee ander “attractions” … Jet en Holly. Jet is ‘n 8 maande oue bokser reun en Holly is ‘n ouerige Jack Russell dame. Ek was in die hemel … Jet en ek is “so” (sien hier wys en middlevingers oor mekaar gekruis) … Gisteraand nadat ons gebraai het, het Jet kom groet en sommer pens en pootjies bo op my geklim. Heng, ek mis ons diere by die huis …
Holly is meer kieskeurig … sy verkies om stil op jou skoot te sit en sal jou wys as sy ‘n krappie wil hê …
Agt uur toe blaas ons die kers dood en klim in die bed. … kamp is nie vir sissies nie.
Mooi loop …
Recent Comments