Palm Beach - Lake Malawi
18 December 2015
Ons is vanoggend net na 9uur uit Liwonde Safari Lodge. Die Hollander was nie daar om te groet nie. Die man het gaan “shop”. Ek wou vir hom ‘n pakkie koekies los wat ek by ons tuisnywerheid gekoop het, want die man lyk vir my aardig maer. Toe eet ons maar die koekies oppad Palm Beach toe.
Liwonde was water sop nat … Ek seg dit liggies, want eintlik wil ek skryf “fokken” nat. Water lê die hele wêreld vol. Damme vol. Malawi se reën seisoen het begin – laat, maar ten minste.
Oppad het ons ‘n laerskool vrag kinders op die pad gekry. Die mense is gewoond aan min, maar vriendelikheid het hulle baie. Ek sal altyd die haasbek meisie onthou met die lang rok en die vriendelike gesig wat vir my gewaai het. ‘n Mens kan nie help om te wens dat meer vir hulle gedoen kan word nie.
Terug in Liwonde oppad Palm Beach toe is dit ‘n tipiese Vrydag. Langs die pad kraam ‘n bok ‘n tweeling, iewers slag iemand ‘n ander bok en verkoop die rou vleis in stukke langs die pad. Vrouens bak sulke bolletjie vetkoekies wat seriously lekker lyk, en die “vendors” pak hulle goedere uit. Mango’s, tamaties, lemmetjies en neute. Malawi kry vroegdag al lewe.
Langs die pad het ons plate rysplantasies gekry, en ALMAL help verbou. Die “golfstokke” uit hout sou ons later agterkom is die “tools” wat hulle gebruik om die landerye te bewerk.
Elke hond in Malawi moet aan ‘n halsband vas wees – dis SO ‘n skrille kontras met dit wat ons gewoond is in Zimbabwe en Botswana. Hier is die honde versorg. Dis nou nie ‘n Rocz bandjie nie, maar baas en klaas kom oor die weg.
Elke huishouding het ook ‘n werpsel eende … en ganse. En natuurlik hoenders. Geen bok word toegelaat om vrylik rond te beweeg nie. Hulle word aan polle gras vasgemaak … vreet die stuk om hulle klaar en dan kom die miesies hulle skuif na die volgende pol toe.
Kinders pas die bokke en beeste op. In die paar dae wat ons hier is, het ons nog nie een donkie gesien nie. Dis ‘n verligting, want die absolute verwaarlosing van hulle in Botswana en Zimbabwe los ‘n wrang smaak in ‘n mens se mond.
En weereens … Malawi is ongelooflik skoon. En natuurlik … fietse. Hier is meer fietse as wat daar taxis in SA is. En elke fiets het ‘n gestopte kussing agter wat dien as sitplek … hier is baie fikse mense … ‘n mens kan dit sien. Die trapper trap, en sy passasier sit gemaklik agter en werk op die selfoon. Dit bly ‘n eienaardige prentjie.
Soos ons nou al gewoond is, het ons deur ‘n padblokkade gegaan. Die polisie is super vriendelik en wil altyd weet hoe ervaar ons ons vakansie sover. Ons kan in alle eerlikheid seg ons het nog geen moeilikheid met hulle gehad nie.
In Mangochi het ons by ‘n Superette voorraad gaan koop. Ek het coils gesoek om te brand vir die muskiete. Ek lyk soos ‘n brandsiek hond met al my pienk bytplekke. Dis hel seer en ongemaklik. Ek maak die aardigste geluide as Pieter aan die plekke begin krap … dis DIE lekkerste lekker.
Die Superrette is so groot soos ons TV kamer by die huis. Maar netjies met ‘n blink vloer. En hulle het Doom … en coils. En brood …
Die geldwaarde in Malawi trip ons nog. Als is in duisende. Die 6 mango’s wat ons langs die pad gekoop het, het ons 1500Kwatsha gekos. R36. Dit voel aaaaardig om vir als in duisende te betaal.
By Standard Bank se Exchange het Pieter geld gaan ruil. Met een $100 het hy teruggekom met ‘n pak so dik soos die Bybel.
Ons WorldSim gee ons eiendelose probleme. Ons kry vir al die geld in die wêreld nie sms’e deur nie, en ook geen internet konneksie nie. In Mangochi het ons vir ons ‘n TNM kaart gekoop en kon ons ten minste vir die familie laat weet als is nog wel.
En toe is ons oppad …
Malawi se inwoners bewoon die hoofroetes … letterlik langs die roetes. Dis baie selde dat ‘n mens ‘n stuk kry waar daar geen bewoning is nie … vir kilometers ver. Van Liwonde tot by Palm Beach is dit 92km – 92km van bewoonde gebied …
Buite Mangochi kon ons vir die eerste keer stukke van die meer begin sien … die reën het so effe opgeklaar en ons kon nie wag om uiteindelik die meer te sien waarna ons nou al ‘n hele jaar uitsien nie.
Om by Palm Beach te kom ry ‘n mens deur ‘n dodgy area … en jy wonder of jou GPS nie dalk die roete verkeerd het nie … En dan skielik … uit die bloute duik die ingang van Palm Beach voor jou op … en die meer is voor jou … En dis palm op palm … en kilometers van oop strand … en goflies en die reuk van vrot vis … Heaven.
Die eienaar is ‘n ouerige man wat vlot Afrikaans praat. Danie. Danie bly al 45 jaar in Malawi en besit al Palm Beach vir 30 jaar. Toe ons vra of ons kan kom kamp wys hy vir ons die ooptes tussen die palms en die strand en seg “kies … net waar julle wil staan”.
Ons het OP die strand tent opgeslaan … en toe begin dit reën. En toe voel ons dit is noodsaaklik om weer te gaan slaap … want niemand wil in reën sit nie …
Ons het laatmiddag wakker geword toe die wolke begin opklaar en ons die aktiwiteite van Palm Beach begin hoor. Hier is ‘n pool tafel, kroeg, restaurant en dobbelmasjien. Danie “cater” vir die meer “upmarket” Malawi crowd.
Ons was nie lus vir kosmaak nie, en het by die restaurant gaan hoor of ons iets kan bestel. ‘n Baie vriendelike swart vrou seg sy sal die “madam” gaan roep … want ons het samosas en chips gesoek.
R74 vir twee borde kos met drie samosas elk, ‘n slaai en hoop chips. En dit was lekker – selfs al het ek myne met die local hond “Dutch” gedeel. Dutch is deel van Palm Beach en het glad nie ‘n tekort aan liefde gee nie.
Nou sit ek hier en tik met die geluid van golwe voor en om my … en dis salig. Dis gitstikdonker … en dis vars. Ek kan voel hoe suig die muskiete my weer leeg, maar ek is “content” … ek wil nêrens anders wees as hier langs my ander helfte met “equal” bytplekke nie.
Môre ry ons Senga Bay toe – so ‘n 230km van hier af. Ek wonder wat gaan ons daar kry? Kan dit mooier wees as wat ons vandag gesien het?
PS: Deon, as jy hier lees, ek het Nali sous geproe … en dit brand … dit brand die HEL uit ‘n mens uit. Maar die “madam” van Palm Beach seg mens koop dit deesdae net in Blantyre … en dis ver van hier af.
Ek kry nêrens lemoensap te koop nie … en ek vrek vir ‘n biki …
Mooi loop …
Palm Beach groete.
Palm Beach Lake Malawi
Wens van die reën kon hier val, bitter nodig. Kan die meer in my geestesoog sien