Tete - Mozambique
15 December 2015
15 Desember 2015.
As ek vandag iewers vanuit ‘n Moskee toring soos ‘n propperse Moslem vir die wêreld kan skreeu dat Afrika nie vir sissies is nie, het ek.
Ons is vandag gekou … uitgespoeg en weer gekou. Afrika grensposte en die ongelooflike hitte het sy pond vleis ge-eis.
Ek sit op ‘n klip harde bed met sirkel beddegoed. Dit was eens op ‘n tyd wit. Pieter is besig om te stort in die “pre-fab” 1x1m stort. Die water uit die koue kraan is moer warm.
Dis 17:15. Ons is in Tete Mosambiek.
PS: ons is vandag 8 jaar getroud.
Maar ek moet eers by die begin begin … die nice begin.
Ons staan 5:30 gisteroggend (14 Desember) gereed by die ruines (“by the way”, hulle noem dit nou “Greater Zimbabwe”) se ontvangs en wag vir ons gids. Dit het deur die nag gereën, en iewers in die oggendure het Zim se krag die gees gegee. Ons het wakker geword met ‘n blou aap en haar tiet-suigende baby voor ons deur. So asof sy wou seg sy dink dis nou tyd om wakker te word. Ek is weereens verstom oor die ongelooflike natuurskoon by die plek.
Terwyl ons wag kraak iets hier neffens ons, en met ‘n moerse slag val ‘n ou boom ‘n paar meter van ons af. Morsaf. Soos in “moer toe”. Blykbaar gebeur dit gereeld. Die slag was oorverdowend. Pieter reken “ons staan noooooit onder so ‘n boom en kamp nie”.
Ons gids se naam is Aloyi. Jongerige 26 jarige Zim boorling. Hy ken die area soos die palm van sy hand – netjies geklee in sy demin hemp en broek. Stok in die hand en ‘n kop met verbysterende kennis van die geskiedenis van die “Greater Zimbabwe”.
Dis ‘n stewige stap tot waar die aksie is … die klipformasies en mure. Dis vroeg en die reën sit nog vas aan als, maar genadiglik is dit nie so warm nie. Soos ons stap vertel “Wikipedia Aloyi” hier langs my vir ons staaltjies en stories – ons bekke hang oop.
Daar is ‘n helse lot goed om te sien by die ruines – maar die geskiedenis agter als is verbysterend. Die Arabiere en die Shonas het desjare “gepaar” en dis waar die Zimbabwiers vandaan kom … of so iets. Jy moet onthou, dit was warm … en ek was moeg … en geskiedenis was nog nooit by favourite nie.
Pieter is die berg op saam met Aloyi. Toe ek trappie nommer drie betree toe weet ek, hier airlift hulle vir my as ek verder gaan. Ek het mooi vir Aloyi gesmile en vir Pieter in Afrikaans geseg “ek gaan not te fok hier op”.
Ek het rustig saam met die annoying neushoring voël onder ‘n boom op ‘n bankie gesit en kyk hoe die manne die berg geklim. Min het ek geweet, as hulle afkom lê daar nog baie stap voor.
Twee en ‘n half uur later klim ek en Pieter in die Landy. “The Greater Zimbabwe” … done and dusted”. Ek het dit gemaak. My spiere was seer … maar my smile breed. Die geskiedenis van die ruines is ongelooflik – ‘n defnitiewe moet!
Terug by die Great Zimbabwe Hotel het ons ‘n broodjie gemaak … terwyl die personeel kom vra het of hulle die Landy kan was … “free of charge”. Dit sit ‘n knop in my keel elke keer as hierdie mense hulle dienste aanbied en regtig besorg is oor jou.
Nege uur, toe vat ons die pad – Harare toe.
Ons sou oorslaap by Kuimba Siri langs Lake Chevero.
Die pad soontoe is hectic – die trokke op die nou enkelbaan maak dit amper onmoontlik om enigsins jou sin vir humor te behou … en vir die eerste keer sedert ons Zimbabwe besoek stel die polisie teleur.
So twee ure neffens Harare trek hulle ons af. Netjies geklee – dit kan ons nie stry nie, hierdie mense is trots op hulle uniforms. Die jong lat kom staan by die venster en sy maat so duskant hom. Ons hallo oor en weer en die man trek los en vra hoekom het ons nie ons “hazards” aangesit toe ons sien hy gaan ons stop nie? Dis al klaar ‘n mission om die volk te verstaan met hulle swaar aksente, wat nog ‘n betekenisvolle redenasie met hom te maak oor hoekom ons nie die “hazards” aangesit het nie.
Hy beduie ons moet van die pad aftrek … en toe ons stop, toe vra hy hoekom het ons nie ons flikker aangesit om te beduie ons gaan links draai om aft e trek nie.
Ek dink as my man op daai oomblik ‘n kettie gehad het, het ek hom nou Nando’s deur ‘n tronk tralie gevoer.
Dertig dollar later en ‘n boetekaartjie receipt is ons daar weg. Dit help nie om te redeneer nie …
Die rit vat als uit ‘n mens uit – die paaie is in die slegste toestand wat ons dit al ooit in Zim gesien het.
Orals verkoop hulle mango’s en tamaties … en neute in doppe … Ons stop vir niks. Harare wag.
Ons vaar Harare binne so skuins na 14:00 midde ‘n traffic jam wat die N1 soos ‘n vulletjie laat lyk. Ek sweer taxi bestuurders is almal van dieselfde bloedgroep gemaak. En toeters … toeters was eens op ‘n tyd vrylik beskikbaar en ELKE bogger het een gekry.
Mens kners op jou tande en beur voort. Ons ry Harare so skuins mis (ons het nie kans gesien vir die middestad nie). Buite Harare skep ons moed en die mooiste landskap pop op “out of nowhere”. Hel, dis Afrika vir jou daai … die afpoot honde, die maer donkies … die vasgemaakte beeste en die mooooooiste landskap.
Ons draai in na Lake Chevero en in die distansie kan ons die water sien blink. Dis soos iemand wat vir jou ‘n Spur burger bring en jou “expectation” was ‘n flimsy Wimpy burger.
Kuimba Siri word deur Gary en sy vrou bestuur. Hy het in 1984 as jong man Zim toe getrek nadat hy vir hom vrou gevat het in Pretoria.
On.Ge.Loooooooooflike. plek. Punt. Jy het in jou lewe nog nie so iets gesien het.
Op sy 40 hektar land, het hy 30 huisies met sy kaal vuiste gebou en die verhuur hy as naweek akkomodasie aan meestal blankes in die Harare omgewing. Sy kliente wissel van high poly tot politieke mighties.
Naas die huisies het hy ook ‘n kamp area so groot soos die Heer se Genade … bote, zebras, perde en ‘n magdom voëls wat hy vlieg en vertoon.
Hy groet ons toe ons instap … en dit voel of ons huistoe gekom het. Sy vrou kom naderhand by en dadelik word daar gereël vir koeldrank “because you look very run down”. Ek wil haar vertel van die bliksem van ‘n poliesman wat ons aangevat het, van die pad Harare toe wat soos sy gat lyk … ALS. Sy boesem sooooooveel nicegeit in.
Na amper ‘n uur wys Gary vir ons waar ons kan opslaan en ook waar ons ablusies is.
Later die middag nooi hulle ons om te kom kyk hoe oor die 400 voëls in die bome voor die hoof lapa inkom om te kom slaap.
Gary het in 1984 twee groot pilare ingeplant waar die lapa nou is en vir sy vrou geseg hier gaan hy ‘n huis bou. Nou staan daar ‘n state of the art lapa, kroeg, swembad, restaurant en kuier area. Als met ‘n uitsig oor die magtige Lake Chevero.
Die vlak van Chevero is tans baie laag, want Zim ondervind ‘n ernstige droogte en water word uit die meer gepomp vir krag opwekking vir Harare. Nie dat ek dink dit help nie, want daar was vir die tyd wat ons daar was, geen krag nie.
Gary is “gegear” om al hierdie riff raff te hanteer. Hy het al 3 “land invasions” op sy eiendom gehad. Die laaste keer was in 2012 toe 300 Zimbabwiers sy plek binnegekom het en aangedring het op 51% van sy regte. Dit het blykbaar 3 dae aangehou – en die BBC, CNN en selfs Jakaranda radio was daar om dit te “cover”.
Later sou ons hoor dis sy vrou wat agter al die media dekking sit. Sy het tydens die “invasion” skelm e-mails reg oor die wêreld gestuur en gesmeek vir hulp. So met die praat het ek en Pieter agtergekom sy is ‘n tannie wat jy nie sonder handskoene moet aanpak nie.
Maar Kuimba Siri is ‘n ongelooflike plek. Dis ‘n oase in die middel van nowhere en Gary en sy vrou is sout van die aarde mense.
Nege uur stamp ek vir Pieter onder die tafel en gee hom die oog. Ek wou gaan slaap. Ons moet groet … ek wil nog gaan stort en vanaand sou die eerste aand wees wat ons oorslaap in die rootop tent.
Tienuur toe sit ons die LED liggie binne die tent af … saam met ons in die bed was die 40000 goggas wat ingeklim het toe die lig vir 10 sekondes aan was. Ons was so moeg, hulle kon kruip en byt soos hulle lus gehad het.
Ons raak aan die slaap met die nagapies wat op die jerrykanne spring, die visarend wat sy laaste roep gee, die paddas wat soos Riaan Cruywagen klink en die gezoem van die muskiete. Dit was die saligste gevoel denkbaar.
Vyfuur vanoggend is ons op … jy kan NET SO LANK aan ‘n piepie knyp.
Ook net betyds, die son het oor Lake Chevero opgekom … iets om te aanskou.
Ons kom nog in die roetine van met die daktent kamp … en dinge val nog so hier en daar op die grond … en die lys met goed wat ons vergeet het raak langer … maar “come high or low water”, Doom sou ek iewers kry … want die hel weet alleen, g’n gogga klim weer op my terwyl ek slaap nie.
Mango en joughurt later is ons opgepak en staan ons voor Gary en sy vrou om te groet. Hy seg dis jammer ons ry, geselskap is hier skaars. Vandag vat hy sy ma lughawe toe en dan kom hy terug om gereed te maak vir die kers “invasion” wat op hom wag.
Ons beloof om weer van ons te hoor … Kuimba Siri is ‘n plek waar jy sommer BAIE lank kan bly.
Die pad van Harare tot by Nyamapanda grenspos is prentjie mooi. Vreeslik baie boulders en berge. Dit herinner sterk aan Matobos wat ons in 2011 buite Buluwayo besoek het.
En die pad is mooi … en stil … met min polisie blokkades. Steve sing Pampoen op die CD en ek sien Pieter tap met sy voet saam … “life is good”.
Ons stop by Nyamapanda op die hitte van die dag … 47 grade. Die grens is relatief stil, maar die trokke staan vir kilometers ver.
Ons klim uit en stap ‘n vervalle gebou binne. ‘n Brulpadda van ‘n donker Zim man begroet ons en vat ons paspoorte. Sy aksent is swaar en ons sukkel om hom te verstaan. Na die nodige stempels, seg ek vir hom “Merry Christmas” en hy mompel terug “go now” …
Pfffffft ….
Buite in ‘n ou (klem hier op die OU) tent wat in flarde is, sit 4 mans en ‘n vrou. Tafel en boek. Dis die “border check”. Ons kom in en die vrou keer my en seg sy sal beduie wanneer ek nader kan kom. Huh? What the hell? Hier is geeeeeen tou nie – hoekom moet ek soos ‘n brak sit en wag vir ‘n biscuit.
Sy sien my “mood” en wink my presies 4 tree nader. Tot by haar.
Sy bypass my en vra vir Pieter die Landy se “police clearane” dokument. Wat ons natuurlik nie het nie – want die AA seg dis nie nodig nie. En, after all, by Beitbrug is ons geseg dis nie nodig nie.
Pieter haal sy getroue blou toe klip legger uit en wys vir haar die Landy se oorspronklike registrasie papiere. Sy skuif dit terug en tik op die vorm en seg “I want THIS”. Ek sien al hoe ry ons terug SA toe.
Die hitte broei in daai tent en al vier die mans se gesigte is blink van die sweet.
“Sweetpea” het nie ‘n saak nie – sy soek DAAI papiere. Ek verloor dit en vra vir haar of ons nou AL DIE PAD terug SA toe moet ry. Sy sak haar kop en begin giggel. Ek kry visioene van ketties en torture tools in my kop. “Are you kidding me” vra ek haar. Sy vee haar bakkies skoon en seg: “No”. “Why are you laughing” vra ek. Sy wou nog antwoord toe chip die man hier neffens Pieter in. Die een met die sagte ogies. “We can let you go through, but in Zambia you are going to have great difficulty”.
Hy reken ons kort ‘n Carnet de Passage. Wat stront is. Ons het HOEVEEL maal uitgevind of ons wel een moet kry – en elke keer is ons verseker dis nie nodig nie. Teen ‘n koste van R12 000 by die AA was ons net te dankbaar dat ons dit nie moes uitneem nie.
Sweetpea het haar fut verloor en lê nou so half op haar een elmboog en kyk hoe Pieter en sagte ogies praat. Hier te kort en daar te lank, maar niemand kom tot ‘n punt nie.
Kyk, jy moenie ‘n menopausal vrou met ‘n 44DD ass wat moeg, honger en BAIE warm is onderskat nie.
Ek onderbreek die chit chat en vra … hard … “So, do we go BACK or can we proceed”.
Sweetpea skuif die boek tot voor sagte ogies en hy teken die Landy se pedigree daarin. Dis sy “computer” seg hy.
Toe ons clearance kry om deur te gaan Mosambiek toe, toe draai Sweetpea om en vra “where is my bonus”. In my kop wys ek vir haar multitude van VERSKEIE handtekens.
Nodeloos om te seg, sy hettie haar bonus gekry nie.
En voort is ons … Mosambiek toe.
En toe vir rondte twee.
Ons word begroet deur ‘n man wat ons aan die Zim kant al harass het. ‘n “Runner” wat reken hy sal ons vinnig deur die grens kan kry. Soos een man seg ek en Pieter vir hom “no thanks” … en boggeroff sommer ook in die proses.
Toe ons in die Mosambiek kant inkom, toe staan die man vir ons en wag langs ‘n grenspos amptenaar.
Beduie en swaai sy arms wild om aan te dui waar ons moet parkeer.
Die amptenaar kom haal Pieter sommer so by die Landy en vat hom na sy kantoor toe. Ek vra moet ek saam en die man seg “no madam, stay in your vehicle”.
In die kantoor vul Pieter vorms in … en dit gaan vinnig. Die ampternaar help verwoed en ons skep moed … “our prayers have been answered”.
Hy vra vir Pieter $62 sodat hy die “clearance certificate” kan gaan betaal en verdwyn met die geld in ‘n kantoor in.
Terug by die Landy ruik Pieter ‘n rot en sit die man agterna. Ek sien hulle aangestap kom en ek kan sien my man is nie happy nie.
In ‘n kwessie van 15min is beide ons paspoorte gestempel EN ons het ‘n voertuig clearance sertifikaat gekry.
Die ampternaar wag vir ons buite die “boom” … die Landy word nie deursoek nie, en ons ry deur.
Buite die “boom” area dring Pieter aan op ‘n kwitansie vir die $62 wat hy sopas betaal het … en jy sien die ampternaar trap klei. Eers seg hy daar is geen kwitansie boekie beskikbaar nie … dan het hy ‘n ander verskoning … en so hou dit aan … vir EWIG.
Ek skuif in my stoel reg en leun voorentoe. In my mees beheersde stem seg ek vir hom “kry jou gat in rat en gaan haal die kwitansie”. Hy proes nog die kant toe en daai kant toe, toe seg ek weer vir hom … die keer met meer krag “gaan haal die fokken kwitansie … NOU”.
Sy maatjie stamp hom teen die skouer en mompel iets … hy druk sy hand in sy sak gee vir ons die $62 dollar terug.
Skelm … blerrie SKELM. “Valentine Moses” is ‘n legal amptenaar van die Mosambiekse regering, maar dit keer hom nogsteeds nie om skelm te wees nie.
Met ons paspoorte gestempel, ons geld terug en ons clearance sertifikaat veilig in die blou legger, laat rip ek my “menopausal non filter mond” en seg vir hom hy is skuim van die aarde en ek hoop hy vrot.
Ons ry in stilte verder.
Dis altyd sleg om deur so iets te gaan … dit plaas ‘n demper op ‘n mens se dag … maar dit leer ‘n mens ook om nie sommer te gaan lê en net te aanvaar nie.
In Tete kruis ons die brug oor die magtige Zambesi. Dis ‘n ongelooflike groot rivier … en oral is daar beeste, kinders en krokodille besig om te “leef” … op een of ander manier kry hulle mekaar se ritmes en gaan die lewe sy koers.
Nou sit en hier in ‘n 4x4m kamer en wag vir die nag om te kom. Ons oornag op WBHO se ‘site office’ vir die aand. Ons WorldSim foon gee moeilikheid en ek kry geen sms’e van die familie af nie.Dit maak my naar van bekommernis …
Môre klim ons in die Landy en dan begin die avontuur eers. Môre is ons in Malawi. Ek weet nie of ek vannag enigsins sal kan slaap nie. Die opgewondenheid oorheers als.
Groete … uit ‘n baie BAIE warm Mosambiek.
Wat ek nie nou sou gee vir ‘n glas yskoue lemoensap nie.
Mooi loop
Recent Comments