Pieter & Gerida Booyens

Land Rover Defender Puma 110

Wilderness Offroad Sleepwa met Trailer Tent

Pieter en Gerida

 

Derick & Joey Pieterse

Land Rover Discovery V8

Jurgens Excape Offroad Karavaan

Derick & Joey

 

Ons Roete

Die kaart hieronder gee die roete wat ons gevolg het.  Ons is met die N1 noordwaarts tot by Mokopane waar ons weggedraai het met die N11 tot by die Martins Drift/Groblersbrug grenspos waar ons oor is na Botswana.

Roete deur Botswana/Zimbabwe
Roete SA/Bots/Zim

 

DAG 1 (15 DESEMBER 2011)

Dit is die eerste dag van ons vakansie.  Ons (Pieter & Gerida) ontmoet vir Derick & Joey van Harrismith omstreeks 13h00 by ons huis in Pretoria.  Shrek (Ons Land Rover) en Donkey (die sleepwa) is reeds die vorige aand gepak en staan reg om te ry.  Nadat ons iets ge-eet en gedrink het val ons in die pad.  Ons slaap die aand by Mololatau Lodge net buite Lephalale (Ellisras).

By die Kranskop Engen, stop ons om bene te rek, iets te drink en padkos te eet. Ons is mos op vakansie!  Die rit tot hier was sonder enige voorval en die pad was nie te besig nie.  Tussen Nylstroom (Modimole) en Vaalwater was daar padwerke en verskeie ry/stop beheerpunte wat ons reistyd aansienlik verleng het met die gevolg dat ons baie later as beplan by Mololatau Lodge aangekom het.

Ons was ietwat terleurgesteld in Mololatau omrede bykans die hele kamp deur konstruksie werkers van die nuwe Medupi Kragstasie beset word, en hulle redelik lawaaierig was.  Dit het egter nie te veel gepla nie omdat ons net oorgeslaap het en die volgende oggend vroeg vertrek het.

Pretoria tot Mololatau is 292km het het ons ongeveer 4½ uur geneem.

Ek het op Lephalale 41.6L diesel ingegooi teen R 11.14 per liter wat my ‘n verbruik van 6.97 kpl gee.  Kon slegs 500 ppm diesel kry.

Kampering by Mololatau was R 110.00 p.p.p.n.

 

DAG 2 (16 DESEMBER 2011)

Ons bestemming vir die dag was Nata Lodge in Botswana, 551km vanaf Lephalale.

Ons vertrek 5 uur die oggend vanaf Mololatau en mik vir die Stockpoort Grenspos omdat ons gereken het dit sal nie so besig wees as Martinsdrift nie.  Dit was ‘n fout.  Die tou voertuie by Stockpoort het vir meer as ‘n kilometer vanaf die grenspos gestrek. Nadat ons vir ongeveer ‘n uur gewag het, en daar weinig beweging in die tou voertuie was, besluit ons om om te draai Martinsdrift toe.

Ongeveer 20 kilometer vanaf Stockpoort ry ek twee tarentale raak wat reg voor my invlieg.  Behalwe vir ‘n voorruit wat vol bloedspatsels was, was daar gelukkig geen skade nie.  Nadat ons die stukkies tarentaal en vere uit die verkoeler gehaal het ry ons verder.

Martinsdrift was ook besig maar dinge het vinniger gegaan as by Stockpoort.  Aan die Suid-Afrikaanse kant was die beweging goed, maar aan die Botswana kant was die vordering droewig en is ons eers drie ure later daar weg.  Die probleem aan die Botswana kant was dat daar slegs een kassiere aan diens was en almal moes toustaan om te betaal vir voertuig belasting, derde party ensovoorts. By die Botswana grens het hulle ook ons voertuie deursoek vir vrugte – en die gevolg was dat ons later sonder ‘n komkommer, ‘n sak tamaties, ‘n butternut en aartappels daar weg is. Die rede: vrugtevlieë (wat ons nie so seker oor was nie, maar in ‘n argument met ‘n Botswana grenspos amptenaar ingaan – aikona, daarvoor het ons nie kans gesien nie).

Ons volgende stop was Francistown waar ons die voertuie en jerrykanne vol brandstof gemaak het ten einde voorbereid te wees op moontlike brandstof tekorte vorentoe.

Die Landy se tank het 76.5 liter geneem en ek het ‘n verdere 80 liter in jerrykanne gegooi.  Brandstof verbruik was 9,24 kpl.  Die prys van diesel was P8.28 per liter.  Daar was net 500 ppm diesel beskikbaar.

Teen ongeveer 6 uur die middag bereik ons Nata Lodge nadat ons deur twee kwaai donderstorms gery het.  Kampeerplek by Nata Lodge was R105.00 p.p.p.n.   Ons het hier vir twee aande oorgestaan omdat ons die volgende dag ‘n draai by die Nata Bird Sanctury wou gaan maak. Nata Lodge is ‘n baie mooi kamp, maar lawaaierig. Staanplekke is ook baie op mekaar. As jy nie eerste daar is nie, gaan jy jou kamp iewers tussen ‘n boomtak en ‘n struik moet opslaan. Ons het ook ‘n nare gevoel gekry terwyl ons geslaap het dat die sogenaamde Sekuriteitswagte dalk agter meer aan is as dit waarvoor hulle betaal word.

Dit is 551km van Mololatau Lodge tot by Nata Lodge.  As gevolg van die vertragings by die grensposte en die stop vir brandstof en iets te ete in Francistown is dit moeilik om die reistyd sonder vertragings te raam.

 

DAG 3 (17 DESEMBER 2011)

Soos gewoonlik het die besoek aan die Nata Bird Sancturary nie terleurgestel nie.  Die verwagte duisende Flaminke en Pelikane was weliswaar nog nie daar (daar was net ‘n paar honderd maar te ver of fotos te neem) maar die rit soontoe en terug was ‘n ervaring.

Bird Hide in the Sua Pan - Nata Bird Sancturary

 Bird Hide in die Sua Pan – Nata Bird Sancturary

Flamingo's in the Sua Pan

  Flaminke in die Sua Pan – Nata Bird Sancturary

Die reëns van die vorige paar dae het veroorsaak dat strome water besig was om die panne binne te vloei en ons het vir lang stukke (tot soveel as 500meter) deur kniediep water gery terwyl eende en ander watervoëls rondom ons geswem het.  Dit het kompleet gevoel asof ons besig was om die meer met ‘n boot te kruis.

Ons het die aand weer by Nata Lodge geslaap.

Flooded Track - Sua Pan

 Derick oppad na die Bird Hide in die Nata Bird Sancturary

DAG 4 (18 DESEMBER 2011)

Ons was vroegoggend op en teen 5uur vertrek ons vanaf Nata Lodge na Robins Camp in die Hwange (Zimbabwe) via die Pandamantenga Grenspos.  Dit is 214km tot by Pandamantenga en 54km vandaar tot by Robins Camp.  Ons het vroeg vertrek omdat ons nie geweet het hoe die pad vorentoe lyk nie.

Op Nata het ons eers gestop om brandstof aan te vul.  Daar was die moontlikheid dat ons nie by Pandamantenga gehelp kon word nie.

Ek het 34.7 liters ingegooi wat ‘n verbruik van 6.62 kmpl is.  Die koste vir 500ppm diesel was P8.31 per liter.

Die pad tussen Nata en Pandamantenga was geen plesier met al die padwerke nie.  Dele ry mens op die nuwe pad en dele op die ou pad of om-paaie.  Die ou pad en om-aaie is vol slaggate en in ‘n baie slegte toestand ­- so vordering was stadig.  Die nuwe pad het nog nie die finale teerlaag op nie en daar is elke paar honderd meter ‘n baie hoë en skerp spoedwal wat jou byna tot stilstand dwing.  Dit bring die gemiddelde spoed af na tussen 30 en 40 kpu.

By Pandamantenga maak ons weer vol brandstof (hulle het toe gehad).  29.5 Liter teen         P8.35 pl.  Dit gee my ‘n verbruik van 6.81 kpl. Ons was ook net betyds, want met die volmaak stop daar toe drie ander trokke wat die pompe droog getap het.

Nadat ons ontbyt onder ‘n boom genuttig het pak ons die laaste entjie aan tot by die grenspos.  By die Botswana grenspos loop ons ‘n paar Toyota manne raak wat ons probeer oortuig om om te draai omdat die pad verder net te sleg, vol water en modder is.  Ons laat ons egter nie intimideer nie en gaan voort.

Padamatenga Border Post

  Verlaat Botswana oppad na Zimbabwe – Hwange

Padamatenga Border Post

  Net oor die grens vanaf Botswana na Zimbabwe by Padamatenga

Beide die Botswana en Zimbabwe kant van die grenspos verloop bo verwagting glad en ons is binne ‘n halfuur oppad na Robins Camp. Geen “bribes” word gevra nie, en by Pandamatenga word die Landies deursoek, maar op ‘n baie respekvolle manier. Hier sou ons al agterkom dat die Zimbabwiese mense baie vriendelik is. Nie eenkeer is ons gevra vir kos, almoese of enige ander goed nie. Arm soos wat die mense is, was hulle baie vriendelike en behulpsaam.

Die pad was inderdaad nat en plek plek vol modder en water, maar ons bereik Robins Camp later die dag sonder enige voorval. Dit was ‘n baie lang ry, maar baie gelukkig om uiteindelik in die Hwange te wees. Na ‘n hittegolf in September en Oktober was ons bang daar gaan nie water wees nie – toe’s daar te VEEL water!

Entering the Hwange from Padamatenga

 Hwange hek naby Robins Kamp

 

Robins Camp Admin Building and Museum

  Kloktoring

 

 

Robins Camp from the top of the Admin Building and Museum

  Uitsig oor Robins Kamp van die boonste vloer van die Admin gebou en Museum

 

Robins Camp

  Robins Kamp

 

Camping at Robins Camp

   Robins Kamp kampering

 

 

Sir Robins

  Harold Robins

 

Die area rondom Robins Kamp het aan Harold Robins behoort.  Gedurende 1939 het hy die grond geskenk by by die Hwange bygevoeg te word.  Die gebou waarin die administratiewe kantoor en museum gehuisves word was die oorspronklike kloktoring op Robins se plaas.

Die personeel by Robins Camp is baie vriendelik en hoewel afgeleef is die kamp skoon en netjies.  Die kampterrein het meer as genoeg koelte en staanplekke. Hier kan ‘n mens die koloniale invloed sien en jou indink hoe die plek desjare moes gelyk het toe dit nog DIE reservaat in Zimbabwe was. Dis ook hier waar ons vir die eerste keer met die tsetse vlieë te doen gehad het – zap ons vroeg vroeg al in die kamp. Later sou ons massas van hulle teekom. Daar is niks wat jy kan aanspuit of smeer om hulle weg te hou nie. Jy leer die areas soos wat jy reis maar ken en vermy dit om uit te klim. Daar is niks wat die steekplek beter kan laat voel nie …

Die totale afstand vir die dag was 268 km en het ons ongeveer 7 uur geneem. Baie water, baie modder …

 

DAG 5 (19 DESEMBER 2011)

Die kortste roete na Deteema is 25 km.  Op aanbeveling van die Kamp Bestuurder Mafu besluit ons om die die effens langer (38.5km) “Croc Pool” roete te ry wat ‘n meer “scenic”roete is en ‘n beter kans bied om wild te sien. Volgens Mafo sou ons troppe van oor die 500 olifante op hierdie roete sien – wat toe nie gebeur het nie. Inteendeel, vir ‘n reservaat wat berug is vir sy olifante het ons nie minder as 26 olifant karkasse gesien tydens ons vakansie nie – ontstellend, maar ‘n realiteit. Ons het altesaam 10 olifante gedurende ons vakansie gesien.

Ons het geen wild op die roete gesien nie, ook nie krokodile by “Croc Pools”nie, maar die natuurskoon op die roete maak dit die moeite werk. Dit het ook gehelp dat ons by tye die “verveling” kon hokslaan deur pad te bou waar die water sommige dele van die pad verspoel het. Dis ook hier waar ek ‘n fout gemaak het en tydelik vergeet het dat selfs ‘n baba waterskilpad vrek erg kan stink!

Die skuiling en toilet by “Croc Pools” is verwaarloos.  Die toilet se dak lê langsaan op die grond en die toilet is onbruikbaar. Die skuiling is in ‘n beter toestand en bied ‘n ongelooflike uitsig op die Deka rivier en dele van die Hwange.

By die kruising oor die Deka rivier moes ek en Derick eers pad bou sodat die sleepwa en karavaan nie beskadig word nie.  Daar is van die opdrifsels wat deur die onlangse reën agtergelaat is – die het ons gebruik om van die gate en klippe te bedek.  Ons is sonder voorval veilig oor.

Deteema Dam het ‘n lieflike skuiling met ‘n baie mooi uitsig oor die dam. Grasdak skuiling met ‘n lifelike leiklip vloer. Hier het ons heelwat wild gesien.  Koedoes, zebra’s, rooibokke en blou-wildebeeste kom drink water gedurende die dag.  Ook ‘n paar vlakvarke en bobbejane.  Laat die middag het ‘n troppie wildehonde jag gemaak op die rooibokke en bobbejane.

Camping at Deteema Dam Hide

 Kamp by Deteema Dam Skuiling

Deteema Hide Ablusion

 Ablusie blok by Deteema Dam Skuiling

Deteema Dam Hide

 Hoeksteen van Deteema Dam Hide

Wild Dogs

 Wilde Honde by Deteema Dam Hide

Die enigste negatief van die kampplek is dat daar geen bome is nie.  ‘n Klein entjie verder by Deteema piekniekplek is daar lieflike groot koeltebome.  Die stank van ‘n olifantkarkas in die rivierlopie daar het dit egter onmoontlik gemaak om daar te kamp. Magtag maar so ‘n olifant kan stink!

Robins tot Deteema  38km  2.5 uur

 

DAG 6 (20 DESEMBER 2011)

Van hier was dit verder tot by Masuma Dam.  Dit is nie baie ver van Deteema af nie en die pad is in ‘n goeie toestand.  Ons het gevolglik heel rustig ontbyt geniet en toe so stadigaan opgepak en eers laatoggend die pad gevat.

Die kampeerarea by Masuma Dam het ‘n paar bome maar dié bied maar weinig skadu.  En dit was baie warm.

Die skuiling by Masuma Dam is baie mooi en bied ‘n goeie uitsig oor die dam en omstreke.  Die enigste nadeel van die skuiling is dat dit aan die oostekant van die dam gebou is, en laatmiddag skyn die son direk in die skuiling in.  Dit maak die hitte binne die skuiling ondraaglik en dit is ook moeilik om goeie fotos te neem teen die son in.

Masuma Dam Camp

 Kamp by Masuma Dam

Masuma Dam

 Masuma Dam

Masuma Dam Water Reservoir

 Masuma Dam se Watertank met sonsonder

Masuma Dam Hide

 Masuma Dam Skuiling

Hippo in Masuma Dam

 Seekoeie in Masuma Dam

Sunset at Masuma Dam

 Sonsondergang by Masuma Dam

Daar is ‘n groot trop seekoeie wat in die dam bly, en laatmiddag kon ons sit en kyk hoe hulle eers in die water baljaar voordat hulle begin uitkom om te gaan wei. Ongelooflike mooi sonsondergange! Vroeg die volgende oggend (die son was al op) het van hulle eers teruggekeer dam toe.

Met die uitsondering van die seekoeie, ‘n paar koedoes, rooibokke en waterbokke was hier geen wild te sien nie. Ons het wel gedurende die aand leeus gehoor wat uit was op jag. Volgens die kamp bestuurder bly hier ‘n trop van 21 leeus in die omgewing. Ons het hulle egter net gehoor en nie gesien nie.

Die ablusies by hierdie kampplek is in ‘n uitsondelike goeie toestand as ‘n mens in ag neem dat hierdie mense niks het om mee te werk nie. ‘n Blikkie Cobra vloer politoer maak alles blink – en hulle vryf letterlik ALLES blink. Die mure dop af, maar die vloere is blink gepoets.

Die kamp bestuurder by al die piekniek plekke gaan uit hulle pad om die lewe vir jou so maklik as moontlik te maak. Hulle dra vuurmaakhout aan, was skottelgoed, vra wanneer kan hulle die donkie begin stook vir warm water. Fantastiese diens… in ag genome dat hierdie mense regtig met die “bare minimum” oor die weg moet kom. As ‘n mens hulle wil vergoed is hulle meer dankbaar vir ‘n koekie seep en ‘n pakkie beskuitjies as dollars. En nie by een van hierdie piekniekplekke het ENIGE een van die bestuurders ons vir gunsies of geld gevra nie. Uitsonderlik en NIE waaraan ons gewoond is nie.

Deteema tot Masuma  25 km 1.5uur

 

DAG 7 (21 DESEMBER 2011)

Ons bestemming vandag is Shumba Kamp.  Baie naby aan Masuma, so ons het rustig opgepak en nog eers weer ‘n draai in die skuiling gemaak voordat ons vertrek het.  Shumba se skuiling is ‘n kort entjie van die kamp en piekniekplek af.  Hier sien ons vir die eerste keer ‘n olifant in die Hwange.  Nadat ons hom vir ‘n rukkie dopgehou het waar hy besig was om water te drink is ons kamp toe.  Die skuiling hier is in skrille kontras met die res van die kampe waarin ons toe al was. Hier is net ‘n paar sleepers bymekaar gemaak en aanmekaar getimmer. Desnieteenstaande kon dit nie ons opgewondenheid demp om uiteindelik ‘n olifant te sien nie. Aangekom het ons kamp opgeslaan en net rustig gewees.  Hier is pragtige koeltebome wat ‘n wonderlike lafenis teen die son bied. Die Hwange was warm en die humiditeit hoog.

Soos by Deetema en Masuma was die geriewe hier ook oud en afgeleef maar baie skoon. Elke wilds been wat in die veld opgetel word, word gebruik as versiering vir ‘n plant bedding of paadjie oppad na die ablusies. As daar nie genoeg beendere is nie, dan vat hulle ou blikkies en gebruik die as versiering.

Shumba Camp

 Shumba Kamp

Shumba Camp Ablusion

 Shumba Kamp Ablusie

Shumba Camp

Shumba Kamp

Elepant at Shumba Camp

Olifant by Shumba Kamp

Later die middag is ons weer na die skuiling toe waar dieselfde olifant nog rondgestaan het.  Dit het gelyk of die weer begin opsteek en ons is terug kamp toe om te gaan kosmaak voordat dit reën.  Die reën het egter weggebly en ons het die res van die tyd rustig in die kamp verwyl.  Dis nou nadat Derick se voete onder hom uitgegly het en hy wydsbeen om die kampvuur met ons lams potjie te lande gekom het.  Gelukkig nie seergekry of gebrand nie. As ons weer die Hwange besoek, sal ons Masuma dam verby en eerder by Shumba kom bly. Skoon kamp, lieflike bome om onder te kamp en ‘n groter rustigheid as by Masuma.

Masuma tot Shumba 15 km  1uur

 

DAG 8 (22 DESEMBER 2011)

Ons is vroeg op.  Vandag is dit tot by Ngweshla wat 141km verder is en wat ons 7 uur sou neem volgens die GPS.  Kort na 5h00 val ons in die pad.  Die kamp bestuurder “Life” groet ons en spreek sy wense uit dat ons weer sal kom kuier. Die roete volg die hoofpad tussen Main Camp en Sinamatella tot ongeveer 7km vanaf Main Camp waar ons suid draai in die rigting van Ngweshla.

Hwange Main Road - tarred

 Hoofpad (geteer) tussen Main Camp en Shumba Camp

Die pad tussen Shumba en Main Camp is geteer maar baie sleg.  Vol slaggate en die skouers is erg verweer, met die gevolg dat dit heel dikwels beter is om op die grond langs die teerpad te ry.  Die pad vanwaar ons suid draai tot by Ngweshla is erg sinkplaat gery en dit het gevoel of ‘n paar stopsel in my tande besig was om los te skud. Die veld was baie nat en wild baie skaars. Nogsteeds net een olifant gesien in ‘n reservaat wat bekend is vir sy troppe olifante.

Net voor die afdraai het ons ‘n leeuwyfie en twee mannetjies reg langs die pad gekry.  Die eerste leeus wat ons in Hwange gesien het. Die mannetjie het ‘n “collar” aangehad – duidelik deel van die leeu projek wat tans in die Hwange aan die gang is. Pragtige leeus, maar nie heeltemal so mooi soos die Kalahari leeus nie. Hulle was min gepla met ons – seker omdat hulle volgens mense wat langs ons gestop het toe nou al ‘n hele paar dae “aan die paar is was”.

Male Lion

 Leeumannetjie tussen Shumba – en Main Kamp

Female Lion

 Leeu wyfie tussen Shumba – en Main Kamp

Ons het by die Jambilli Kamp en piekniekplek gestop vir middagete.  Dis lyk of dit ‘n baie lekker kampplek kan wees.  Baie koeltebome met ‘n ouerige kamp bestuurder wat net wil help waar hy kan – niks is vir hom te veel gevra nie.  Die area om Jambilli is nogal ruig en bebos in vergelyking met die areas wat ons tot dusver deur is. Toe ons oppak en skottelgoed wou was, het die kamp bestuurder uit sy kaya aangedraf gekom en ons letterlik gekeer en die skottelgoed by ons gevat. “It is my work”… hy was diep dankbaar oor die koekies en lekkergoed wat ons hom mee vergoed het.

Na middagete is ons verder oppad na Ngweshla waar ons laatmiddag aangekom het. By tye ry ‘n mens deur beboste ruig areas, en dan kom ‘n mens weer by dele uit waar dit lyk of die droogte van 100 jaar op die plek toegesak het. Dis ‘n lang ry van Shumba tot by Ngweshla – ‘n lang en warm rit. Oppad het ons geen olifante gesien nie, maar wel 26 olifant karkasse – die eindproduk van die hittegolf wat die Hwange September/Oktober gehad het. Ngweshla is ‘n skerp kontras met die res van die kampe waar ons was.  Dit was asof ons by Suider Afrika se eie Serengeti aangeland het.  Die vlei area rondom Ngweshla het gewemel van die wild.  Daar was kameelperde, zebras, blou wildebeeste, bobbejane, rooibokke, koedoes, en buffels.

 

DAG 9 (23 DESEMBER 2011)

Ngweshla se kampplek is ook baie skaduryk en die klein grasdak lapas was heerlik koel om in te sit.  Hier kan jy in die kamp sit en kyk hoe die wild om jou rondloop.  Dit was net die leeus en die olifante wat ons bly ontwyk het.  Daar was twee lede van die Hwange Antipoaching eenheid by Ngweshla gestassioneer.  Hulle het vertel dat daar ‘n trop van 16 leeus in die omgewing is en het ons beduie waar hulle laas gesien was.  Maar helaas, ons kon hulle nie kry nie.

Ngweshla

 Ngweshla Kamp

Ngweshla

 Ngweshla Kamp

Koedoe by Ngweshla

 Koedoe by Ngweshla

Giraffe at Ngweshla

 Kameelperd by Ngweshla

Ngweshla

 Ngweshla Kamp

Ngweshla

 Ngweshla Kamp

Buffalo by Ngweshla

 Buffels by Ngweshla

Zebra at Ngweshla

 Zebra by Ngweshla

Ons het die kampplek so geniet dat ons dadelik probeer het om met die hulp van die Antipoaching personeel met Main Camp kontak te maak om te hoor of ons nie langer kon bly nie.  Maar helaas, die plek was bespreek en ons sou moes verder.  Gelukkig kon ons darem twee aande hier oorbly. Ons sal weer Ngweshla besoek – en weer en weer. Troppe buffels, troppe bobbejane, menige zebras, kameelperde, olifante en klein wild was volop. Die kamp is baie rustig en heeltemal verwyder van die res van die Hwange. Agrippa is die kamp se bestuurder. Hoewel net 23 jaar oud bestuur hy die kamp met ‘n ysterhand. Hy het sy familie twee jaar laas gesien maar is gretig om besoekers te ontvang en te onthaal. Soos ons elke keer vertrek het om wild te gaan kyk, het ons teruggekom na ‘n blink gepoleerde lapa en ablusies. Dis ongelooflik wat hierdie mense met Cobra kan doen!

Met ons laaste aand hier kon ons hoor dat die olifante omgekrap was, en met die stikdonkerte om ons, kon ons net met die flits die ogies van ‘n trop rooibokke sien wat naby die kamp kom skuil het. Ons het vermoed die leeus was uit op jag – wat later die volgende oggend deur Agrippa en die Antipoaching eenheid bevestig is.

Shumba tot Ngweshla  141km – 7uur

 

DAG 10 (24 DESEMBER 2011)

Nadat ons gou nog ‘n draai deur die vleiland gaan ry het om wild te kyk was dit Main Camp toe wat ons laaste kamp in die Hwange sou wees.  Dis met heimwee wat ons by Ngweshla weg is. Ons het geweet Main Camp sou besig wees, en dit was moeilik om Ngweshla agter te los met die vooruitsig dat ons Kersdag in ‘n besige kamp sou moes deurbring.

Die pad tot by Main Camp is ook maar goed sinkplaat gery en op die pad het ons ook vir die eerste keer verkeer in die Hwange teëgekom.  Dit is duidelik dat die pad meer deur besoekers gery word vandaar dat dit so sleg sinkplaat is in vergelyking met die ander paaie wat ons gery het.

Ngweshla tot Main  56km  3uur

Mahem

 Mahem in die vlei tussen Ngweshla en Main Camp

Derick en Joey

 Roofvoel tussen Ngweshla en Main Camp

 

DAG 11 & 12 (25 & 26 DESEMBER 2011)

Main Camp ‘n terleurstelling.  Main Camp was vervalle en vuil.  Die feit dat die ander kampe pynlik netjies en skoon was het gemaak dat mens nie opmerk dat dit dringend verf en onderhoud nodig het nie.  By Main Camp is ons ook gewaarsku dat hulle ‘n watertekort het, dit terwyl ons verskeie krane in die kampgebied toegedraai het wat deur iemand/bobbejane oopgedraai en net so gelos is.  Van die ablusie geriewe was totaal onbruikbaar en die wat wel gebruik kon word was vuil en het sleg geruik.  Ons het verkies om eerder ons bosstort te gebruik as die in die ablusies. Hier kan die kamp personeel niks omgee wat van jou word nie – dit was SO ‘n skrille kontras met dit wat ons toe al beleef het. Main Camp sien ons nie sommer weer nie.

Pieter en Gerida

  Donkey in Main Camp

Pieter en Gerida

  Gerida se brood vir Kersdag

Pieter en Gerida

 Houtkapper doenig in Main Camp

Derick en Joey

 Derick en Joey in Main Camp

Derick en Joey

  Kersdag in Main Camp

Derick en Joey

 Troupand in Main Camp

 

DAG 13 (27 DESEMBER 2011)

Ons vertrek vroeg die oggend na Matobos.  Plek plek langs die pad het ons reën gekry.  Die pad is in ‘n goeie toestand en ons het sonder voorval by Bulawayo aangekom. Hoe ironies dat ‘n land wat niks het nie se paaie GEEN slaggate het nie… en hier in SA moet ons koes vir elke slaggat.  Ons het ook langs die pad by ‘n stalletjie gestop om te sien wat alles te koop aangebied word.

 

Hwange/Bulawayo Pad

 Hoofpad tussen Bulawayo en die Hwange

 

Padstal tussen Hwange en Bulawayo

 Kleipotte te koop tussen Hwange en Bulawayo

Padstal

 Kleipotte te koop tussen Hwange en Bulawayo

In Bulawayo het ons ‘n wyle vertoef op soek na brandstof.  Derick was gelukkig en het by die eerste vulstasie petrol gekry.  Ek kon egter eers by die vierde vulstasie diesel kry.  Het toe sommer die jerrykanne ook weer volgemaak. Buluwayo is ‘n besige stad, maar weereens het ons nie eenkeer onveilig gevoel nie. Daar was niemand wat geld of kos kom bedel het nie – inteendeel, die polisie ry met fietse die hele stad vol en hou ‘n ogie oor alles.

Ons kon ook nie ‘n behoorlike winkel kry om voorraad aan te vul nie.  Ons het egter nog baie voorraad gehad en het sonder om te veel te soek besluit om verder te ry Matopos toe.

By Matopos aangekom het dit saggies gereën en ons het na ‘n geskikte kampplek gesoek.  Die omgewing is baie mooi maar die geriewe erg verwaarloos.  Dit word nie so goed instand en skoon gehou soos by die Hwange se piekniek plekke nie. Maleme dam waar ons gekamp het is lieflik groot en mooi, maar ons vermoed dis ‘n siek dam/rivier. Hier is geen watervoëls, paddas of ander diere nie. Ons kon ook geen visvang aktiwiteite sien nie. Hierdie kampplek/piekniek plek by Matobos word meer gebruik as ‘n dag uitstappie gerief as ‘n kamp plek. Hierdie kamp is ook die tuiste van 4 wilde perde wat niks sal skroom om jou te kom vra vir ‘n appel nie – dit het ons op die harde manier geleer!

Hwange Main Camp tot Matobos  343km  6uur

 

DAG 14 (28 DESEMBER 2011)

Na ontbyt het ons Matobos verken.  In die park rondgery en ook ‘n stalletjie met curios besoek.  Ons het ook die koppie waar Cycil John Rhodes begrawe is besoek.

Die aand het ons maar vroeg ingekruip omdat dit nat, koud en reënerig was.

Ons het verskeie bordjies gesien wat Matobos aandui as “Matopos” – en dan weer nader aan die park word dit gespel “Matobos”. Die klipformasies hier is ongelooflik. ‘n Mens kan letterlik dae lank hier deurbring en al die rotsformasies en grotte inneem. Besige plek wat vol buitelandse besoekers is.

 

Matobos

 Matobos

Koggelmander

 Koggelmander

Cecil John Rhodes se wens was om op die koppies by Matobos begrawe te word.  Die spesifieke koppie staan bekend as “World’s View”.  Dit is dan ook daar waar Rhodes en ook Sir Leander Strarr Jameson begrawe is.

 Cecil John Rhodes se graf – Worldsview

 Sir Leander Starr Jameson se graf

Majoor Allan Wilson en sy troepe is op 4 Desember 1893 by die Shangani rivier in ‘n hinderlaag gelei.  Daar was geen oorlewendes nie.  ‘n Monument ter nagedagtenis is vir wat bekend staan as die “Shangani Patrol” is op die World’s View koppie gebou en die oorskot van Wilson en sy manne is binne in die monument ter ruste gele.

 Major Allan Wilson Gedenkteken

 Grot met goed bewaarde San rotstekeninge

Die Matobos area is heilige grond vir die Ndebele mense.  Daar is verskeie voorbeelde van San rotskuns in verskeie grotte in die gebied wat oor die jare heen goed bewaar gebly het.

 Museum waar rotstekeninge bewaar word

Camping at Matobos

 Motobos Kampterrein

 Voorbeeld van San Rotstekeninge

Horse at Matobos Campground

 Perd by Gerida in die Matobos Kamp Terrein

 

DAG 15 (29 DESEMBER 2011)

Dit was nog donker toe ons uit Matobos vertrek het oppad na die Great Zimbabwe Ruines net buite Masvingo. Matobos het vir die tyd wat ons daar gebly het geen water gehad nie – en die reën het dinge ook nie makliker gemaak nie. Water is maar ‘n algemene probleem in Zimbabwe.

Oppad is ons by ‘n padblokade afgetrek en het die poliesman beweer ek het die spoedgrends oorskry.  Ek het hom probeer oortuig met my GPS lesing dat ek nie het nie, en het hy gesien hy gaan die argument nie wen nie en ons laat gaan.

Oppad na Masvingo het ons al meer en meer reën gekry.  By die Ruines aangekom het dit behoorlik gestortreën en het ons besluit om twee rondawels te huur eerder as om in die weer te probeer kamp opslaan.

Zimbabwe Ruins

 Kennisgewing – Zimbabwe Ruines

Zim Ruins Accomodation

 Rondawels by die Zimbabwe Ruines

Ons het ingeboek en toe gaan inkruip vir ‘n middag slapie.  Dit het so hard gereën dat dit onmoontlik was om die Ruines te gaan besoek.

Die aand het ons vinnig broodjies uit die wa aanmekaargeslaan want daar was geen kans om in die reën te braai nie.

Matobos tot Great Zimbabwe Ruines  360km  6.5 uur

 

 

DAG 16 (30 DESEMBER 2011)

Ons is bitter vroeg die oggend by die Ruines weg.  Ons het ‘n lang skof voor en het nie geweet hoe lank ons by Beitbrug vertraag sou word nie.  Ons eindbestemming was die Mazhou kamp in Mpangubwe.

Dit het steeds hard gereën.  Dit was steeds donker en met die reën was die eerste gedeelte van ons reis nie te maklik nie.  Sig was baie swak en is ons ook verby verskeie vragmotors wat van die pad af geloop het.  Ons het die grenspos egter heel veilig bereik.

Dit het aan die Zimbabwe kant van die grenspos baie vinniger gegaan as wat ons verwag het.  Die tou was nie te lank nie en het redelik vinnig beweeg.  Vriendelike amptenare het ons van toonbank na toonbank reggehelp en binne ‘n uur was ons oppad na die Suid-Afrikaanse kant van die Grenspos.

Aan die Suid-Afrikaanse kant was dit egter ‘n ander storie.  Ons het vir bykans twee ure in lang toue in die warm son gestaan.  Amptenare was nors en glad nie behulpsaam nie.  Ons is darem ten einde laaste sonder enige probleme deur die grenspos.

Op Musina het ons gestop om voorraad aan te vul, brandstof in te gooi en sommer ook iets te eet by die Spur.

Hier stamp ek ‘n lelike duik in Donkey (my sleepwa) se neuskas toe ek vergeet om die Landy se deur mooi toe te maak nadat ek iets agterin moes uithaal en dit oopswaai met die wegtrek.

By Mpangubwe moes ons eers by die hoofhek se ontvangs gaan inboek en daarna die park verlaat en al die pad om tot naby Pontdrift waar ons dit weer binnegaan tot by Mazhou.

In teenstelling met die nat Zimbabwe was Mpangubwe bitter droog en baie warm.

Nadat ons kamp opgeslaan het, het ons ‘n kort draai gaan ry en is toe terug kamp toe en het vroeg die aand gaan inkruip.  Ons was moeg van die dag se ry.

Beitbrug  299km  4.5 uur

Mazhou 120km  1.5 uur

Mazhou Camp

Mazhou Kamp Ablusie Blok

Mazhou Camp

 Mazhou Kamp Terrein

 

DAG 17 (31 DESEMBER 2011)

Ons ry ons die oggend en toe weer later die middag ‘n draai deur die park.  Ons sien nie veel wild nie.  ‘n Paar olifante en bokke by die watergat skuiling.  Die omgewing met die oop vlaktes en rotskoppies is egter baie mooi.  Eers dag ons die bome verloor blare en is so kaal as gevolg van die droogte, net om later agter te kom dit is omdat hulle oortrek is van mopanie wurms.

 

DAG 18 (1 JANUARIE 2012)

Ons ry terug na die hoofgedeelte van die park en ry die roete al langs die Limpopo rivier en gaan kyk ook waar die Limpopo en die Sashe rivier saamvloei.  Ons stop by die Inligting en Interpretasie Sentrum waar ons onder een van die afdakke middagete geniet voordat ons terugry na Mazhou.

Pieter en Gerida

 Inligtingsbord by die samevloeiing van die Limpopo en Shashe riviere

Pieter en Gerida

 Uitkykpunt oor Mpangubwe rigting van die samevloeiing

Derick en Joey

 Houtbrug (Tree Top Walk) na die samevloeiing van die riviere

Derick en Joey

 Mpangubwe Inligting Sentrum

 

DAG 19 (2 JANUARIE 2012)

Derick en Joey is vroeg op.  Hulle vertrek vandag terug Harrismith toe.  Nadat hulle klaar gepak, gegroet en vertrek het besluit ons om ‘n kort draai te gaan ry en dan by die watergat te gaan sit en kyk wat ons alles daar kan sien.  Min het ons geweet wat die dag vir ons sou inhou.

Terwyl ons by die watergat sit kom ‘n trop olifante my klein kalfies water drink.  Die watervlak is heelwat laer as die wal aan die skuiling se kant en die kalfies sukkel om die water by die kom.  In die proses beland twee kalfies toe in die water.

Terwyl die olifante die kalfies probeer uitkry juig en skreeu die mense in die skuiling en dit maak die olifante verboureerd.  Soveel so dat die matriarg besluit genoeg is genoeg en roep sy die trop bymekaar om te gaan.  Die uiteinde is dat die trop haar volg en die een kalfie in die water agterlaat.

Gelukkig beweeg die kalfie al skreeuend in die rigting van ‘n omgevalde boom waar hy daarin slaag om uit te klim.  Die trop is egter reeds weg en die kleintjie hardloop in die verkeerde rigting agter ‘n trop blou wildebeest aan wat op vlug slaan met die skreeuende olifantjie agterna.

Heelwat later kom ‘n ander trop olifante uit die rigting wat die kalfie gehardloop het om water te drink en gewaar ons hom tussen hulle.  Die trop wil hom egter nie aanvaar nie en bly hom eenkant toe stoot.  Hy is egter agter die trop aan toe hulle klaar water gedrink het en verder trek.  Ons hoop maar net dat hy later toe wel by sy eie trop uitgekom het.

Pieter en Gerida
Pieter en Gerida
Pieter en Gerida
Derick en Joey
Derick en Joey
Derick en Joey

 

DAG 20 (3 JANUARIE 2012)

Vandag is dit weer tyd om aan te skuif.  Die einde van ons vakansie het aangebreek.  Ons is tot by vriende in Louis Trichardt waar ons die aand sou oorslaap.

Mazhou tot Louis Trichardt  205km  2.5uur

 

DAG 21 (4 JANUARIE 2012)

Na ‘n stewige ontbyt en groet vat ons die pad huistoe.  Dit was die einde van ons vakansie.

Louis Trichardt tot Pretoria.  376km  4 uur

 

Sal ons dit weer doen

Beslis ja.  Ons is reeds besig om te werk aan die beplanning van die volgende vakansie.  Hierdie keer net in die ander rigting.  Eers Mpangubwe, dan die Ruines en dan Hwange.  Daarvandaan na Nata Bird Sanctury en dan huistoe.

Die rede vir andersom is dat ons die keer te vroeg vir die flaminke by Nata was.  As ons eers teen die einde van die vakansie by Nata aankom sal daar na verwagting heelwat meer flaminke wees afhangende van die voorafgaande reëns en die stand van water in die Soa Pan.

 

Groete

Pieter & Gerida Booyens van Pretoria

Derick & Joey Pieterse van Harrismith

 

Hwange Sunset
Share This

Share This

Share this post with your friends!