Lukwe Eco Lodge & Camp

24 December 2015

Ek was verkeerd. Die paradys sit nie in Makhuze nie, die paradys sit in Mushroom Farm in Livingstonia.

Ek sit tans 1083m hoog en tik die blog. Ons het uiteindelik ‘n datakaart in Mzuzu kon kry. En nou het ons internet toegang … hier amper op die gatkant van ons tyd in Malawi.

Ons is vanoggend net na 8uur by Makhuze weg. Dit was ‘n hartseer afskeid. Ek moes Jet die Boxer groet … en ek wou nie. Dis ‘n blerrie oulike hond wat vanoggend al gat swaaiend vir my by die tent kom groet het. As ek plek gehad het, het ek hom huistoe gevat. Hy het ‘n hemelse lewe in Makhuze. Hy gaan swem saam met Lara (die eienaar) en haar seuns net wanneer hy wil. En hy waag dit tot baie diep in die meer in. Later kom lê hy in die son en droog bak.

Makhuze is ‘n plek waarheen ‘n mens MOET kom. Dis ‘n privaat strand met ongelooflike snorkel plekke. ‘n Eiland, swem afstand van die strand af, het ‘n grot waar duisende vissies rond swem. En dis waar wat hulle seg, daar IS baie visse in Malawi meer.

Laat gistermiddag (23 Desember) het ‘n gros mense van Blantyre hulle intrek neffens ons gemaak – en saam met die gros het ‘n swetterjoel kindertjies gekom. So “Ingels” soos wat kan kom. Dit was fanfrickentasties om oor hulle te skinder in Afrikaans. Want die hel weet alleen, hulle ken nie van kamp nie. Dit het hulle min of meer 2ure gevat om twee tente en ‘n magdom wasgoedmandjies met kamp gereedskap af te laai en op te slaan. Dit te midde van my en Pieter wat soos Lord en Lady voor die Landy vir hulle gesit en giggel het.

Braai hamburgers later, is ons bed toe. Ons het gister vir die eerste keer betyds wakker geword om die sonsopkoms oor die meer te sien. Iets wat ek altyd sal onthou. Ek het ‘n foto geneem wat ek weet 100% reg gaan lyk in ‘n raam wat by die huis rondlê. Makhuze bly en is ‘n bitttttterlike mooi plek.

Patrick die “artist” het vroeg gisteroggend kom vra of ons die Landy geteken wil hê. R400 later het ons ingestem en is hy daar weg ‘n om maat te gaan haal wat ‘n selfoon het. Geld in Malawi beteken niks … Met die maat se selfoon in die hand het hy op sy boude gaan sit en die Landy afgeneem. Die reëling was dat hy vanoggend 6uur die “painting” gereed moet hê as ons ry … En Patrick het nie teleugestel nie … hy was op sy pos. Die Landy lyk effens “anders” as in die werlike lewe, maar ons was happy …

Die pad van Makhuze tot by Livingstonia is so 5ure se ry. Reken in dat ons by Mzuzu moes voorraad aankoop. Behalwe die normale poliesblokkades en die verduidelik van die verkeerde jaar op die “insurance” (ek raak nou gatvol vir die storie …) het ons bitter min moeilikheid gehad.

Die roete kronkel deur berge met die mooiste uitstig oor die meer. Elke keer as ons die meer sien, verstom dit ons hoe ongelooflik mooi en groot dit is. Uitkyk en stilhouplekke is aan die skrapse kant, en mens waag jou lewe as jy sou stilhou … ons het te veel trok ongelukke op die pad gesien.

Mzuzu lê anderkant die gebergtes … ‘n tipiese Afrika dorpie. Maar hy het ‘n Shoprite … en ‘n Shoprite het als. Al is dit als in “Afrika style”. Nie nodig om by te voeg dat dit vandag die 24ste is nie … dit was ‘n swart miernes (pardon die unpolitieke korrektheid). Ons het tamaties, water en sweets gekort. Pieter het hopeloos te min chocolates na sy smaak ingepak. Ons het in die tou gestaan en ‘n geselsie met die vrou agter my aangeknoop. Sy het vanilla essence in haar mandjie gehad en ek was nuuskierig of dit is vir ‘n krismis koek. Ek was nie ver verkeerd nie.

Ons het hoofpynpille by die apteek langsaan gaan kry – ek “nurse” ‘n hoofpyn van epidermiese proporsies (ek sal oor twee dae toets vir Malaria) en Pieter het ‘n datakaart gaan koop.

Terug op die pad …

En toe begin die sports …

Die pad Lukwe Lodge toe is 16km van HEAVY …. “lees hier FOKKEN” berg klim. Dit laat die Baviaans soos ‘n vulletjie lyk. Ons het by “bend 8” al gesmeek vir die einde. ‘n Mens klim vir die eerste span. Te bang om na die uitsig te kyk … jy VOEL al hoe rol jy die afgrond af.

Lukwe Lodge is ‘n dump … Punt. Die fotos op die website en die werklikheid is so groot soos Jacob Zuma se lys vrouens.

Ons het omgedraai en by die volgende staanplek “Mushroom Farm” ingeboek.

Nou sit ek hier en kyk uit oor ‘n berg (of eerder berge) en die meer … van HELHEIDHOOG … en dis wonderlik. Dis fantasties …. Dis ongelooflik mooi.

Dis Oukersaand … en ons wonder wat ons familie doen.

Ons eet “leftover” lasagne en vars Mzuzu rolletjies … met tamatie.

En ons verlang …

Ons verlang bittttttter baie.

Geseënde Kersfees … en mooi loop.

Lemoensap groete.

Kamp by Mushroom Farm

Share This

Share This

Share this post with your friends!