Pioneer Camp

 

 

2 Januarie 2016

Môre uit ‘n baie BAIE warm Mana Pools (Zimbabwe).

Ek tik met die magtige Zambesi rivier voor my. Jy kan jouself in die weerkatsing van die water sien. Kort kort ploep ‘n seekoei iewers water en lag dan hard vir homself. Agter my hardloop ‘n trop bobbejane rond met die oorskot van die swart sak vullis wat hulle bo van die Landy af gesteel het. Ek kyk hoe suig hulle die laaste biki Bavaria uit die blikkies uit. Pffft … “that’s Africa for you”.

Toe ons Dinsdag (die 29ste Desember) by Mama Rula’s wakker word en begin oppak, toe sien ek Pieter se been lyk nie reg nie. Die rooi rondom sy wond is lewer pienk, en die man hink erger. Maar nee, Gehasi is mos hardegat en verseg dat iets verkeerd is. “Ek sal later daaraan aandag gee”. “Later” sit ons soos twee ou mense op die bakstene van die halfhartige braaiplek en trek die pleister af. Ugh … die infeksie lyk nie goed nie, en daar is ‘n ring so groot soos die maan om die wond.

Ons moes ‘n dokter kry, en vinnig ook.

Pieter gaan vra by die kroegman of hy van iets weet. Die opgeskote oulike swart man help graag en vertel van “St Johns” op die dorp wat ons beslis kan help. Ons maak reg en ry. ‘n Mens het Valiums nodig as jy ‘n dokter in Afrika soek … maar hierdie keer was die gode ons genadig.

“St Johns” vergelyk baie goed met ‘n Mediclinic in SA. Behalwe dat die TV in die ontvangs area op “Bollywood” ingestel is, en basta daarmee as jy dit wil verander. Dis ‘n gesig om te aanskou hoe al die “nursing staff” en ontvangsdames oopmond na die TV sit en staar.

“St Johns” is oral oor die Afrika kontinent. Ek bespeur ‘n Indiese invloed en iewers moet daar ook Europese geld betrokke wees. Maar “come what may”, die plek is super netjies en BAIE skoon. Ek dink jy kon die verligting op ons gesigte sien, want ons word dadelik gehelp.

Dr Mnsisi is ‘n jong lat, maar baie vriendelik. Praat mooi, maar sagte Engels. Ek en Pieter moet elke nou en dag vir hom vra “excuse me” sodat hy homself moet herhaal. Ek herhaal ook alles wat hy seg, want teen hierdie tyd het ek gevoel my geliefde man moet als double hoor sodat hy WEET sy been is in die moeilikheid. Hardegat mansmens.

Dr Mnsisi ondersoek die been (met handskoene aan). Druk hier en druk daar. Ek gee vir hom ‘n “run down” van als wat ek vir Pieter ingejaag het en hoe ek die wond skoongemaak het. Die man knik net op als. Hy kom naderhand orent nadat hy Pieter se been ondersoek het, en seg hier is ‘n bakteriese infeksie wat dadelik aandag nodig het. Die been het ook water begin opbou wat net met “elevation” onder beheer gebring kan word.

Die wond sou moes skoon … die tradisionele manier. Druk die bloue dinges uit die wond uit en hoop AL die gemors kom uit.

Enough with the gory detail … net dit, die man het gekrul van die pyn, maar die Dr het volstaan dat “Iodene” die deurslag tot ALS wat stukkend is, is. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek sweet hy drink die goed skelm. Hy “Iodene” ALS.

Met ‘n flimsy verband wat hy sukkel om af te rol (nadat hy vir die 5de keer handskoene geruil het) gee hy vir ons ‘n voorskrif vir sterk antibiotika, Iodene (not kidding you) en pynmedikasie. Ons sou van die goed in die “dispensary” voor by die wagkamer kon kry, maar die res sou ons by ‘n Apteek op die dorp moes gaan haal.

Ons betaal, en met waterige ogies klim ons in die kar. Ons is verbied om verder te ry en opdrag gegee om terug Mama Rula’s toe te gaan sodat Pieter sy been kon lig.

Zambie verbaas ons elke keer … St Johns was ‘n baken in ‘n donker tyd, en toe pop die Apteek nog ook uit die woodworks uit en het ALS wat ons soek.

Terug by Mama Rula’s vra of vir ‘n kamer en ons word begelei na ‘n Oase … reg langs die swembad, met ‘n dubbelbed (natuurlik wit beddegoed), DSTV, eie badkamer en hoek kombuisie.

Pieter het dadelik aan die slaap geraak en ek het my Deon Meyer boek op die naat van my rug kon klaar lees. Salig. Saam met die kamer kom aandete en ontbyt. Deur die dag is ‘n menu vir ons gebring en het ons “traditional Mama Rula’s pizza” gekies.

Hier teen 6uur het die man se pyn so effe verlig, maar die wond en rooi been het aardig gelyk. Gelukkig het die pizzas opgemaak … mindblowing lekker.

Ons het gaan stort en in die bed geklim. Voordat ons kon pad kies Lusaka toe (Pioneer Camp) moes die dokter eers sy toestemming gee en die wond moes ook eers skoon.

Mama Rula’s is ‘n baie mooi oorstaanplek. Behalwe vir die Overland trokke wat deur die dag kom en gaan (en al die uitlander suckers wat opdrag gegee word om hulle tente op te slaan), die kamp area wat nie regtig skoon gehou word nie, is dit ‘n fantastiese plek. Die kroeg is die “main attraction” en “Bets” (Wynand en Andrea – die eienaars) se dogter hou ‘n ogie. Bets is die middelpunt waarom als in die kroeg draai. Met ‘n bier in die hand regeer sy almal. Daar is ook ‘n swetterjoel pappegaaie op die perseel wat elke ding namaak. Gedurende die dag pas twee swart vrouens ‘n gestremde seun op van een van die familielede van Mama Rula’s. Die kind kan nie praat nie, maar maak aardige geluide as hy aandag soek. Die pappegaai by die kroeg het nou die kreun en steungeluide aangeleer en maak dit “non stop” deur die dag. Mens wil die ding se nek net duskant sy adenoids omdraai.

Ons is vroeg Woensdag (30 Desember) weer St Johns toe waar die suster in charge (hulle is 24/7 oop) Pieter se wond versorg het. Sy was nie die vorige dag daar nie, en roep my toe sy die wond oopmaak. Seg vir my sy wonder of ek weet hoe diep die wond is. “Genade vrou … ek was HIER toe die Dr die bloue dinges uit hom uit gedruk het … I know”. Maar ernstig, die wond was net so duskant die fisiese been. Scary shit.

Die Dr het later ingepop en ook sy 10 sent input gegee, en ons het die groen lig gekry om Pioneer Camp toe te ry.

Pioneer Camp is net so duskant Lusaka … ‘n volle 8 ure se ry ver. F*k tog.

Ons ry Pioneer Camp net so na 5uur binne … sif gesit. Die rit soontoe was sonder voorval, maar dis een aanhoudende pas wat ‘n mens vir 8 ure ry. Met ‘n afbeen is dit nie kinderspeletjies nie.

Pioneer het ‘n tented room vir ons gehad waarin ons vir die aand kon slaap. Vir kamp opslaan het ons nie kans gesien nie.

Pioneer Camp is bekend vir die tyd toe Voetspore en Badenhorst destyds daar oorgestaan het. Sy seun Streiger (toe nog baie jonk) se jong optel duif “Upingtong” is daar dood nadat die duif in Streiger se hemp ingekruip is en die veiligheidsgordel hom per ongeluk doodgedruk het. Sy hart was gebreek gewees en Upington moes net daar in Pioneer begrawe word.

En tot vandag toe onthou Pioneer se ontvangs man dit nog. As hy hoor en sien hier kom SA mense aan, dan wil hy weet hoe gaanit met Streiger en Johann. Hy onthou vir Streiger, maar hy kan nie onthou waaaaar Upingtong begrawe is nie …

Pioneer word tans besit deur ‘n jong Engelsman. En die plek kort ‘n vrou se hand. Die tente is doenbaar, maar so effe verwaarloos … so ook vir die res van Pioneer. Dit ten spyt bly hulle kos en diens fantasties.

Ons het WEER pizza bestel wat vir ons in die tent afgelewer is. Pieter se been was ongemaklik, maar die kous wat die Dr voorgestel het ons koop vir sy been, het die swelling aansienlik in toom gehou.

Ons aandete was skaars klaar, toe clutch Lusaka se krag uit en overs kedovers was die aand. Twee enkel bedjies met hobble matrasse was ons voorland. Langs ons het ‘n jong Vrystater in ‘n tent gebly (hy bly al lank hier). Die man vloek soos ‘n matroos, maar dit vergewe ek hom, want hy het die mooiste Husky denkbaar as sy maat. Die hond hol die hele Pioneer vol en groet en lek almal waar hy kom. Maar as die Vrystater roep, dan gehoorsaam Sasha en hol sy vir haar baas.

Mooi Loop.

Ingang na Pioneer Kamp

Share This

Share This

Share this post with your friends!