Senga Bay

 

20 December 2015

Ek tik met ‘n uitsig oor Lake Malawi. Dis 13:12 hier in Senga Bay. En dis MOER warm.

Ons is gister (19 Desember) uit Palm Beach uit in helder sonskyn. Die vorige nag het ons ‘n hectic storm gehad wat die hele meer omgekrap het. Klein branders het op die strand gebreek en genadiglik die oorverdowende musiek van die local kroeg uitgefasseer.

Dis ‘n lang stretch tot by Senga Bay – ‘n volle 3 ure se ry. Drie ure van 80km per uur. Dis torture in die ergste graad.

Ons sou Cape Maclear en Monkey Bay verbygaan – ons wou ook sommer daar indraai om te sien hoe dit lyk.

Met die baie reën is die paaie haaglik – en dis regtig moeilik om tussen die klomp fietse jou pad te navigate. En die humiditeit kou ‘n mens flenters.

Ons is seker deur 3 padblokkades voordat ‘n wakker akker van ‘n poliesman ons voorgekeer het en ons daarop gewys het dat ons “third party insurance” verkeerdelik uitgereik is. By die grens word jou third party vir jou op ‘n sticker gesit en moet jy dit in jou kar se voorruit plak. Ons third party lees dat dit verval op 15 January 2015 – jip, 2015. Gelukkig het ons ‘n kwitansie wat wys wanneer ons dit uitgeneem het. Maar die poliesman sou nie ‘n geleentheid laat verby om ons oor die vingers te tik nie.

Dit sou ‘n lang dag word.

Hoe meer ons nader aan Cape Maclear gekom het, hoe meer taxi’s (die vierwiel tipe) het ons raakgery. En meer mense. En meer fietse. Dit het ook vuiler begin word. En daar was aansienlik meer bokke wat nie vasgemaak was nie, op die pad.

Cape Maclear is ‘n erfenisgebied – en jy moet hard werk voordat jy daar uit kan kom. Dis binne ‘n klomp berge geleë en dis ‘n sinkplaatpad tot neffens die strand voordat die pad geteer is.

Weereens – die prentjies wat ons van dit in ons koppe gehad het, het aansienlik verskil van dit wat ons gesien het.

Behalwe vir die oneindige rye en rye shacks met hout goedere en ander kunswerke, was Cape Maclear nie regtig in ons smaak nie. Dit herinner sterk aan ‘n kusdorp in SA waar die surfers rondloop en die vrouens met bikinis op stoele op die strand lê.

Ons het wel hier ‘n Land Rover uit hout uit raakgeloop en gekoop. R400 in SA rand is glad nie sleg vir dit wat ons gekry het nie. Ons het ook van die vetkoekies gekoop wat ons so baie langs die pad gesien het, maar tot en met hede het ons nog nie moed bymekaar geskraap om daaraan te proe nie.

Die dag het al hoe langer begin word – en die hitte al hoe erger. Die pad het van “bad to worse” gegaan en kort kort was daar padwerke. Dit was torture in die Landy …

Amper 8 ure later is ons eers in Senga Bay. Ons sou by “Steps” kamp vir die aand, maar by ons aankoms het dit soos Margate op Kersdag gelyk. ‘n Mens sou ‘n flits moes dra om mekaar tussen die donker lywe te sien.

Die musiek was tipies Afrika – een dowwe ritme met halfkaal lywe wat swaai op die “beat” daarvan.

So vinnig soos ons daar ingery het, so vinnig is ons daaruit.

By Safari Beach net om die draai kon ons kamp, maar op ‘n baie klein stukkie grond wat ons moes deel met ‘n moerse groot Overlander voertuig.

Ons het omgedraai … gemoedere het hoog geloop. Ek was op die punt om te begin tjank …

Die wag by die hek van Safari Beach moes gesien het hier moet hy red en verwys ons toe na “Cool Runnings”. Ek wou nog seg “maar my hel, kan jy nie SIEN ons is nie die Rasta tipe nie”, toe seg hy “it is very quiet”.

Pieter het die GPS ingestel op Cool Runnings en ons was oppad. Dis ‘n gekronkel deur gehuggies en shacks om tot op die plek te kom, maar wat ‘n belewenis.

Die eienaar se naam is Sam en sy bly al 15 jaar in Malawi. Sy is enkellopend met ‘n ou Staffie “Gezelda” wat haar geselskap hou. Toe ons hier aangekom het, was sy nie hier nie – blykbaar by ‘n troue, maar haar personeel dra ‘n mens op die hande. En almal verstaan Engels.

Op haar erf het sy staanplek vir ‘n paar kampers, kamers vir oorslaap en groter kamers vir gesinne. Haar ablusies is standard (beter as Palm Beach en Kuimba Shiri wat absoluut skokkend afgeskeep was).

Haar personeel verwys en help jou waar hulle kan – en die voorkant van haar huis het leunstoele waarop jy oor die meer kan kyk –asook ‘n strand wat deur ‘n vors groot man “Isac” skoongehou word. Isac het ook sy eie “shack” langs die voortuin waarin hy sy houtkuns verkoop. Dis hier waar hy vir my ‘n sleutelhouer uit hout gemaak het met my naam en ‘n olifant op. Iets baie besonders wat ek altyd saam met my sal dra.

Ons was deurgesit en Cool Runnings was ‘n oase in die woestyn. Ons was liries en baie impress.

Ons het opgeslaan en die res van die middag gekyk hoe mense voor Cool Runnings in die meer swem en kuier. Die water is baie vlak en jy moet ordentlik ver instap voordat jou middellyf ook ten minste in die water is.

Aandete was Kapangu vis met skyfies en slaai – deur Cool Runnings se kok gemaak. Nog nooit – NOOIT – was vis SO lekker nie. Als met ‘n uitsig oor die meer en Consol Solar liggies om die miljuiiiiiiisende muskiete weg te hou.

Dit was ook ‘n Saterdagaand wat beteken het al die nagklubs en uithangplekke was vol locals en die musiek het dik in die lug gehang. Ons was net te moeg om agter te kom – en na ‘n koue stort is ons bed toe.

Gedurende die nag het die hemel oopgebars en ‘n moerse storm het uitgesak. En dink deur dit als het ons geslaap – Malawi se paaie is nie vir sissies nie.

Vanoggend was wasdag – en hel, het ons ‘n klomp panties en onderbroeke gehad wat moes skoon. Dis tipiese kus weer – en al vier seisoene in een dag. Dis nou 13:38 en nogsteeds is die wasgoed nie droog van vanoggend 6uur nie.

Vandag was ook die eerste keer dat ons in die meer geswem het – vroegoggend. Die water is soos lou badwater en dis bitter eiendaardig om so in vars water te sit sonder branders wat jou omstamp. Jy kan letterlik jou stoel vat en in die meer inloop en daar vir die dag bly.

Maar die son gaan jou kataza … soos ons vanmiddag alreeds kan voel.

Nou sit ons en wag vir aandete … letterlik, want ek droom al oor die vis.

Sover gaan als nog goed. Ek het ‘n sweempie van mistroostigheid en ek verlang vandag huistoe. Daai tipiese Sondagmiddag terug koshuis toe gevoel.

Môre ry ons verder – Makhuze toe. Ons sou Mlambe toe vandag, maar het besluit om ‘n dag langer by Cool Runnings te bly en eers weer mens te word.

Mooi loop …

 

Cool Runnings – Senga Bay

Share This

Share This

Share this post with your friends!